Hoërskool Kylemore – ’n plek van hoop en inspirasie … #droomgroot
Vir Hoërskool Kylemore sal Internasionale Moedertaaldag in die toekoms meer as net ’n herinnering wees aan die liefde vir hulle moedertaal. Dié skool in Kylemore in die Wes-Kaap spog nou met ’n pragtige Afrikaans.com-muurkunswerk. Hierdie kleurvolle muurkunswerk is op 22 Februarie 2019 onthul en het saamgeval met ’n huldeblyk aan Adam Small se nalatenskap vir ons taal.
“Hierdie muurskildery sal nog jare lank ‘n blyk van hoop en inspirasie bly …’n skildery wat die leerders, onderwysers en die gemeenskap sal herinner om uit te styg bo hulle omstandighede, groot te droom en trots te wees op hulle taal en identiteit.” – René Arendse, Afrikaans.com
Afrikaans.com het vanjaar in samewerking met die Pniël Erfenis en Kultuur Trust besluit om die Adam Small-fees na die skole te neem. Dis die derde jaar dat die Adam Small-fees in Pniël gehou is (22 – 24 Februarie) en die Trust kon met trots toekyk hoe skole, hul leerders en onderwysers spog met hulle muurkunswerke en onthullingsprogramme.
’n Onvergeetlike dag
Die muuronthulling by Hoërskool Kylemore was ’n hoogtepunt na dae van harde werk deur die kreatiewe span en nuuskieriges wat kort-kort kom loer na die bedrywigheid. Soos altyd was die eindproduk beslis die wag werd.
Inisiatiewe soos die is egter nie moontlik sonder vennote wat ons passie vir ons taal en kultuur deel nie. Die keer was dit ’n voorreg om hande te vat met onder andere Vriende van Afrikaans (’n afdeling van die ATKV), SASNEV (Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands & Vlaandere), die Moedertaalinisiatief-projek en ambassadeurs vir Afrikaans.com.
Gasspreker van die dag, professor Michael Le Cordeur, het die leerders en onderwysers meer vertel van sy dae as student en hoe hy bo sy omstandighede uitgestyg het en sukses in en deur sy moedertaal bereik het. Die rymkletser en ambassadeur vir Afrikaans.com, HemelBesem, het soos net hy dit kan doen, die leerders in vervoering gehad met sy boodskap van hoop en identiteit. Mnr. David Jantjies van die Moedertaalinisiatief het leerders laat skaterlag met sy voorstelling van ons verskillende dialekte en net weer beklemtoon hoe belangrik dit is om trots te wees op elke variant van ons taal.
Almal wat die dag bygewoon het, is dit eens: Hoërskool Kylemore is ‘n baken van hoop en groot drome. Daarom is dit belangrik om die boodskap by elke leerder tuis te bring: As jy dit kan droom, kan jy dit doen. Glo net in jouself, wees trots op wie jy is, sprei jou vlerke en werk hard. #jykanook
René Arendse saam met die hoofseun en -dogter van Hoërskool Kylemore – Granville Farmer en Lorenzia Smit. Mnr. David Jantjies van die Afrikaanse Taalraad se Moedertaal-inisiatief het gepraat oor die waarde van moedertaalonderrig.
Petite Preprimêr en Laerskool Pniël vier Afrikaans tydens die Adam Small-fees 2019!
Afrikaans.com het op 22 Februarie 2019, in samewerking met die Pniël Erfenis en Kultuur Trust die Adam Small-fees na die skole geneem. Dis die derde jaar dat die Adam Small-fees in Pniël gehou is (22 – 24 Februarie) en die Trust kon met trots toekyk hoe skole, hul leerders en onderwysers spog met hulle muurkunswerke en onthullingsprogramme.
Petite Preprimêr se skoolhoof, Mev. Eleanor Petersen, sê sy het altyd gedroom dat hulle skool ‘n pragtige muurskildery moet hê voordat sy daar aftree … en nou is hierdie droom bewaarheid. Die kleuters van Petite het met verwondering toegekyk hoe Afrikaans.com se kreatiewe span die muur omskep in ‘n pragtige uitbeelding van inspirasie met illustrasies van beroepe waarvan hulle kan droom.
“Hierdie geleentheid is baie spesiaal … ‘n geskenk aan my skool voordat ek aftree.”- Mnr. November, skoolhoof van Laerskool Pniël.
Laerskool Pniël was die gaskunstenaars en het pragtige Afrikaanse gedigte voorgedra. Die skool is ook verras met ‘n groot boektrommelskenking van Vriende van Afrikaans, ‘n afdeling van die ATKV. SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaandere het ook die spoggeleentheid bygewoon en het ‘n skenking van inkleurkaarte en kleurpotlode oorhandig.
Saam is alles moontlik en kan ons baie vermag
Afrikaans.com bedank graag ons gewaardeerde vennote: Pniël Erfenis en Kultuur Trust, Vriende van Afrikaans/ATKV, SASNEV en laaste maar nie die minste nie, ons Afrikaans.com-ambassadeurs, HemelBesem en Danneline Ramsden.
Die vieringe is met ’n skoleprogram deur Klein-Nederburg Sekondêr van die Paarl afgesluit. Leerders het onder leiding van mnr. Ernest Loth, hulde gebring aan ikoon en legende, Adam Small.
“Mag die Adam Small-fees nog jare lank en vir baie generasies ‘n inspirasie bly vir ons taal en die viering daarvan!” – René Arendse, Afrikaans.com
Ons taal gee ons vlerke om bo ons omstandighede uit te styg en groot te droom. Die pragtige Afrikaans.com-muurkunswerk by Petite Preprimêr. ’n Opgewonde groepie kleuters wat met groot trots en entoesiasme hulle item tydens die muuronthulling by Petite Preprimêr gelewer het. Oulike gesiggies van Laerskool Pniël hang behoorlik aan Simon Witbooi (HemelBesem) se lippe. Hy het soos altyd die leerders inspireer met sy boodskap van hoop. Hierdie graad 2- en 3-leerders van Laerskool Pniël het elkeen ’n item tydens die muuronthulling gelewer. Hier is hulle saam met hulle onderwyseres, me. Bernadene Marajh en René Arendse. Laerskool Pniël was die trotse ontvangers van ’n boektrommel, geskenk deur die ATKV se Vriende van Afrikaans. Hier is Melvina Mason-Hearn (ATKV), die skoolhoof mnr. November en Afrikaans.com se René Arendse. Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaandere het ’n skenking van inkleurkaarte en kleurpotlode aan Petite Preprimêr gedoen. Van links: me. Eureka Barnard (uitvoerende hoof, SASNEV), me. Eleanor Petersen (skoolhoof van Petite Preprimêr) en Rene Arendse. ’n Trommel vol heerlike lekkerte! Die boektrommels word geskenk deur Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV.