
Johan Jack Smith

Izak de Vries

Wênkbrou is LAPA Uitgewers se splinternuwe druknaam vir ‘aweregse stories’ en stories wat nie in ’n boks gedruk wil wees nie.
Johan Jack Smith (redakteur van die ATKV se Taalgenoot) en Izak de Vries (Lapa) is die twee wat wil seker maak dat goeie stories, wat dikwels deur die krake val “oor die verkeerde redes”, die kans kry om jou boekrak te haal.
“Ons het besluit die mark is reg vir “aweregse stories” – asook stories wat nie noodwendig genre-gerig is nie. Die gravitas van ’n storie moet publikasie bepaal – nie of dit in ’n sekere genre pas nie. En of dit kan verkoop nie.” – Johan Jack Smith
Izak sê gehalte bly die wagwoord.
“Mense wat lief is vir boeke buite genres. Stories wat dalk ‘n bietjie vreemd is, wat nie in ’n boksie pas nie. Aweregs. Onheilstokend. Kwaadklitsend. Of net ’n goeie storie wat sukkel om in te pas. Soos daai seuntjie met verskuilde talente by die kleuterskool wat sukkel om maatjies te maak. Ons gaan vir jou ’n stem gee, boetie. Of sussie.”
Wênkbrou beplan ook om poësie te publiseer.
Wênkbrou nooi jou uit …
Debuutskrywers. Gevestigde skrywers. Daai manuskrip wat vir die afgelope paar jaar in jou laai lê, wat jy gewonder het of dit te erg is om te publiseer. Wênkbrou soek jou manuskrip!
Hul eerste publikasie is Smit Motors van Reney Warrington. Dis haar tweede boek na Oktober.
“Dis nie noodwendig skokkend nie (benewens een of twee eksplisiete sekstonele); dit gaan ook nie noodwendig wenkbroue lig nie (behalwe omdat dit ’n fantastiese storie is), maar dit pas nie noodwendig in ’n genre nie. So ons is baie opgewonde om dit te publiseer.”
As jy wil weet waarom die ^ op wenkbrou en hoe LAPA hierdie nuwe, opwindende projek wil aanpak, lees Naomi Meyer (LitNET) se onderhoud met Izak en Johan hier.
E-pos: wenkbrou@lapa.co.za