

Van links: Marlene le Roux (voorsitter: SBA), Fatima Allie (direksielid: SBA), Michael Jonas (direkteur: Historium Trust en Afrikaanse Taalmuseum- en monument), Ria Olivier (programbestuurder: Afrikaanse Taalraad), Hein Willemse (redakteur, Die Afrikaans van die Kaapse Moslems) en Jacob Meiring (projekleier: SBA) – (Foto’s Menán van Heerden – uit artikel op LitNet)
“‘n MOET vir elke liefhebber van Afrikaans” …
“Hierdie uiters toeganklike en leersame boek is ‘n moet vir elke liefhebber van Afrikaans. ‘n Mens leer van tajwid (die klankwetenskap van die Arabiese alfabet) en van die skep van nuwe simbole om die gesproke Afrikaans via die Arabiese alfabet weer te gee… dis ’n leesplesier!” – Joan Hambidge
Die Afrikaanse verwerking van Achmat Davids (1939 – 1998) se boek, The Afrikaans of the Cape Muslims, is in Desember 2018 bekendgestel. Die boekbekendstelling is deur Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), tesame met die Afrikaanse Taalmuseum se slawedagviering, aangebied.
Joan Hambidge skryf in haar resensie van Afrikaans van die Kaapse Moslems dat die geskiedenis van Afrikaans en die posisie van Afrikaans die afgelope paar jaar deur die verskillende taalgroepe ondersoek is. Sy noem onder andere Wannie Carstens en Edith Raidt se Die Storie van Afrikaans, wyle prof Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans waar die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans bespreek word, en Wannie Carstens en Michael le Cordeur se Ons kom van ver – oor gesprekke van bruinwees en Afrikaans.
Afrikaans van die Kaapse Moslems, verwerk deur Hein Willemse en Suleman Dangor en vertaal deur Danie C Botha, gee ‘n opwindende kykie op Afrikaans en sy talle sprekers, en is oorspronklik in 1991 as meesterstudie in Engels geskryf (The Afrikaans of the Cape Muslims). Die verhandeling het gespruit uit Davids se navorsing waar hy agtergekom het Afrikaans is onlosmaaklik verbind aan die Kaapse Moselemgemeenskap en dat die “Moslems se Afrikaans naas Hollands deels in Suidoos-Asië, die Indiese subvasteland en in die mond van die inheemse mense gevorm het. Hierdie Asiatiese tale het dus in Afrikaans neerslag gevind”. Davids vertel ook van die bydrae van Moslem-Afrikaans en die baanbrekerswerk deur Adrianus van Selms wat in 1951 ontdek het dat Afrikaans oorspronklik in Arabiese skrif (Arabies-Afrikaans) geskryf is.
Verder stel die boek die leser bekend aan ’n rykdom van “tekste in Arabiese skrif, aan geskrifte van Imams en aan politieke pamflette en skryfsels – die bekendste hiervan Abubaker Effendi se godsdienstige handleiding Bajaan Oedien wat in 1877 gepubliseer is en een van die oudste publikasies in Afrikaans is”.
Nog ‘n kwessie wat in die boek bespreek word, is of Moslemsprekers aan die einde van die 19de eeu en begin 20ste eeu geskryf het soos hulle gepraat het. Davids het bevind dat dit wel so was, afgesien dat daar wanopvattings bestaan omdat die Arabiese skrif soms verkeerd gelees is. Die skryfwyse en spelling van Afrikaans in die Arabiese skrif word bespreek asook Arabies en Arabies-Afrikaans in Romeinse skrif wat ons gebruik.
Tog te poenang-kies!
Hambidge wys ook op die humor in die idiome wat opval, soos byvoorbeeld: ‘n Boer maak ‘n plan, maar ‘n Slams hét ‘n plan en lig onder andere woorde soos aspris, brêggat, poenang-kies (oulik) en ougat uit.
Het jy geweet?
- Die eerste Arabies-Afrikaanse boek was Hidayutool Islam oftewel Die heilige begeleiding deur Islam.
- Abu Bakr Effendi, ‘n teoloog uit Turkse Koerdistan, is in 1862 na die Kaap gebring as godsdienstige raadgewer (rakende meningsverskille tussen plaaslike Imams in die Kaapse howe).
- Effendi se boek, Uiteensetting van die godsdiens, is die eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse boek. Dit was ’n Kaaps-Hollandse vertaling van Bayān al-Dīn (Bajaan Oedien – Exposition of the religion).
Die boek Afrikaans van die Kaapse Moslems kan gelees word op die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se webtuiste. Klik hier.
Afrikaans.com het onlangs die Bo-Kaap besoek. Kyk hier
Lees ook