Dominee Tienie is Donderdag, 24 Januarie vrygestel en Afrikaans.com was daar! Die fliek is gebaseer op Dana Snyman se toneelstuk, Klaagliedere van Dominee Tienie Benade – met Frank Opperman in die hoofrol en is vanaf 25 Januarie landswyd te sien.
Lokprent
In ’n wêreld waar drastiese daling in kerkbywoning ’n algemene verskynsel is, is die Dominee Tienie-tema in die kol. Die bekroonde akteur, Frank Opperman, speel hierdie rol met soveel oortuiging dat jy behoorlik die harde kerkbanke onder jou voel wanneer hierdie predikant, wat so effe die pad byster raak, op sy preekstoel klim.
Dit is heilige grond …
Dit is een van die mees suksesvolle toneelstukke uit Dana Snyman se pen en is deur Sallas de Jager, mede-skrywer en regisseur verwerk vir die grootskerm. Sallas sê die fliek is nie net bloot vermaak nie, maar daag ook kykers uit.
Frank Opperman skep nog ’n onvergeetlike alter-ego wie se innerlike worsteling jou nog lank sal bybly.
Die rolverdeling sluit in Henriëtta Gryffenberg, Thapela Makoena, Regardt van den Berg, Deon Lotz, Paul Eihlers en Annette Engelbrecht.
Wat sê die fliekgangers …
Daan Goosen:
“Die fliek het vir my ’n baie sterk boodskap wat jou meer laat dink.”
Vanessa Goosen:
“Dit is ’n wonderlike Afrikaanse fliek! Almal kan dit kom kyk.”
Liesel Krause Wiid
“Ek is self ’n deeltydse predikant en ek kon regtig identifiseer met Dominee Tienie. Dit was opreg, rou en eerlik.”
Leandri Badenhorst:
“Die film was vir my baie relevant. Dit is vir my meer aanloklik as die ander films vir jonger Afrikaanse generasies.”
Joné Badenhorst:
“Frank Opperman is ’n legende. Hy is ’n vermaaklike karakter. Dit is lekker om hom in so ’n ernstige rol te sien.”
Jacques Rossouw:
“Die film was baie goed! Ek het grootgeword in so ’n kerk en die stereotipes in die film is beslis waar.”
Ian Venter:
“Die film wys jou weereens waaroor geloof en die kerk gaan. Dit gaan nie oor wie die grootste bakkie het, wie se beursie die grootste is en wie die dominee se BMW kan betaal nie; dit gaan oor die mens.”
Daniëlle Laufs:
“Dit was ’n baie emosionele film en ek voel elke Suid-Afrikaner moet dit kyk.”
Clara Olivier:
“Ek dink die film is baie goed vasgevang binne die moderne konteks waarbinne ons leef. Baie kontemporêre kwessies is goed aangespreek.”
Nicolette van Schalkwyk:
“Die karakters is mense wat ons almal ken, mense waarmee ons vereenselwig en dís wat die film so ’n groot sukses maak. Dit was ’n triomf!”
Lees ook
Frank Opperman ontgin ‘Dominee Tienie’ – Maroela Media
Dominee Tienie – Afrikaansefilms.com