
Dr. Elise Calitz met haar nuutste boek. (Foto: Alida de Beer)
Ouderdom is net ’n getal. Dit is baie duidelik wanneer ’n mens joernalis Alida de Beer se artikel in die George Herald lees. Sy vertel van dr. Elise Calitz (78) van George aan die Tuinroete wat op 78-jarige ouderdom haar tweede boek vrygestel het.
Elise is ‘n afgetrede maatskaplike werker en lektor, en is ‘n ywerige reisiger. Net so graag soos wat sy reis, skryf sy ook. Einde verlede jaar het sy haar tweede boek, Nagboek die lig laat sien. Dis ‘n bundel van 29 kortverhale oor wyd uiteenlopende onderwerpe oor menslike ervarings, met een ding in gemeen – elke storie speel af in die nag, of begin in die donker, of eindig in die donker.
Haar mensekennis en reiservarings is ‘n goeie bron van idees.
“Ek kry net hierdie temas in my gedagtes en wanneer ek begin skryf, vloei dit net.”
Meer oor Nagboek
Van die verhale speel af op verskillende plekke in die wêreld waar sy al was, soos Nagreis in Parys wat haar eie nagreis in dié wêreldstad verwoord en Volmaan oor Wadi Rum, ‘n verbeeldingsvlug na aanleiding van haar en ‘n vriendin se besoek aan Jordanië. Daar is swaarder temas soos in Nagskrik, ‘n storie van ‘n drankverslaafde vrou wie se man haar getrou bystaan, en ligte verbeeldingsvlugte soos ‘n lawwe droom wat in Nagoefening beskryf word.
‘n Plaaslike verhaal, Straataasvoël, is geskryf na aanleiding van gesprekke wat sy soggens vroeg met sakkrappers in Heatherpark se strate aangeknoop het. Die verhale het dikwels ‘n verrassende einde.
Elise het haar eerste boek, Op die Camino – Op ‘n Staptog in Spanje, in 2014 gepubliseer om haar wedervaringe as stapper op die roete vas te vang. Sy het drie keer die Camino gestap.
Tans is sy besig met ‘n reisboek wat in die nabye toekoms sal verskyn.
Dit is duidelik: Elise is nog lank nie klaar gereis nie.
Lees die volledige artikel hier.