’n Gesonde kosblik is noodsaaklik vir ’n wakker brein
In vandag se gejaagde tye is ontbyt nie altyd gebalanseerd nie of moet dikwels te vinnig afgesluk word. Party van ons sukkel ook om vroegoggend ’n stewige ontbyt te eet. In so ’n geval is ’n goed beplande kosblik die antwoord.
Kinders moet gereeld, maar ook gesond en gebalanseerd eet. Daarom moet maaltye, en dit sluit die kosblik vir skool in, verkieslik uit die vyf voedselgroepe, naamlik proteïene, suiwel, stysel, vrugte, groente en natuurlik vet (olie, neute, sade, avokado) bestaan.
Beplan … beplan … beplan
Jou oggende is … wel, besig! Daarom is beplanning belangrik sodat jy die regte kos-items in die kos- en koelkas het. Dit is ook raadsaam om reeds die vorige aand die kosblik te pak. Groter kinders kan hiermee help. Dink aan die volgende om die kosblik af te wissel en interessant te hou:
Klein houertjies jogurt
Kaaswiggies met volgraanbeskuitjies
Vrugte, reeds geskil
Groente (bv. wortels, komkommer, groenbone, blomkool) in repies/blokkies gesny (dalk met ’n maaskaasdoopsous)
Hardgekookte en afgedopte eiers
Springmielies / klein pakkie grondboontjies
Klein frikkadelletjies / worsies
Biltong/droëwors
Pastaslaai
Daar is lewe na ’n toebroodjie
Dalk is die brood op, of muf of afgesaag, pak dan piesangbrood of ’n lekker muffin in. Saam met vrugte is dit ideaal en sal jou kind nie eers die toebroodjie mis nie.
Water is die liggaam se “olie”
Maak ook seker jou kind drink genoeg water en indien jy vir hom/haar vrugtesap gee, meng dit verkieslik met die helfte water. In die somer is dit ook ’n goeie idee om die sap/water vooraf te vries. Teen pouse is dit dan ontvries, maar steeds heerlik koud.
Iets soets en gesond
Kyk hier na ‘n heerlike appelmuffinresep wat onlangs uigesaai is op die Groot Ontbyt.
Watertandresepte vir oud en jonk
Lees ook:
Kosblik-idees. Klik hier en hier
Gesonde en bekostigbare kosblik-idees. Klik hier
Gesonde kosblikke en die noodsaaklikheid van vesel. Klik hier