“Ek kan tot vandag toe nog my eerste dag van skool onthou. Ek het ’n gróót tas op my rug gedra en ek wou nie regtig gegaan het nie.” Rugbyspeler Bakkies Botha oor sy eerste skooldag.
Wie onthou nie daardie groot tas nie en die skoolklere wat groot gekoop is sodat dit langer kan hou! Jare gelede was die eerste skooldag ’n groot gebeurtenis – en was dit ’n behoorlike tranedal – en nie net vir die ouers nie. Deesdae, en as gevolg van voorskoolse onderrig, is die meeste graad 1’tjies al gesoute skoolbywoners wanneer hulle amptelik groot skool toe gaan. Die meeste loop daar in met groot glimlagte en afwagting en is dit eerder die ouers wat ’n traantjie of twee pink. Tog is dit normaal dat jou kind wel so ’n bietjie bang en onseker gaan voel. Daar is egter heelwat wat ’n mens kan doen om die eerste skooldag ’n groot lekkerte te maak.
Hier is so ’n paar wenke:
- Beplan vooraf: So haal jy die angs en onsekerheid uit die eerste skooldag.
- Skep ’n gevoel van voorspelbaarheid: Plak so ’n maand of twee voor die groot dag ’n visuele kalender op die muur en laat jou kind elke dag die slapies aftel. Hierdie voorspelbaarheid help om ’n gevoel van veiligheid te skep.
- Skep ’n gevoel van opwinding: Stel jou kind gerus en verduidelik dat skool ’n plek is waar jy nuwe dinge leer en baie nuwe maats maak.
- Stel ’n vaste slaaproetine in: Na die lang Desember-vakansie, is dit noodsaaklik om so ’n week of wat voordat die skool begin, jou kind in ’n vaste slaaproetine te kry. Vroeg gaan slaap en vroeër opstaan.
- Doen ’n proeflopie skool toe: Of jy nou skool toe stap of met die motor ry, stel vas hoe lank dit gaan neem om by die skool te kom in die oggend sodat dit nie uiteindelik op ’n dolle gejaag uitloop nie.
- Besoek aan skool: Deesdae besoek die voorskoolse klassies gewoonlik gedurende die laaste kwartaal die skool waarheen hulle gaan en ontmoet ook hulle graad 1-onderwysers. As jou kind dit nie meegemaak het nie, is dit dalk ’n goeie idee om wel so ’n vooraf besoek te reël.
- Gesels met jou kind oor die groot dag: Op die manier vind jy uit waaroor jou kind dalk angstig voel en waarheen hy uitsien.
- Koop skoolbenodigdhede betyds: Koop vooraf jou kind se skryfbehoeftes, skoolklere en -skoene, kosblik, ens. en merk al die items. As die skool nie vooraf ’n lysie gestuur het nie, maak seker jy kontak hulle sodat jou kind nie iets kortkom nie. Dis sommer ook ’n goeie idee om daardie nuwe skoene in te loop sodat jou kind nie ongemaklik is met skoene wat dalk druk nie.
- ’n Ingeligte kind is ’n rustige kind: Maak seker jou kind is op hoogte van die skooltye, aktiwiteite en nasorgreëlings, indien van toepassing.
- Skep positiewe dialoog: Jou positiewe gesindheid oor die skool word aan jou kind oorgedra.
- Senuweeagtigheid is normaal: Stel jou kind gerus dat senuweeagtigheid en onsekerheid oor sy eerste skooldag heeltemal normaal is.
- Wees daar vir jou kind: Verseker jou kind dat hy met enige probleme/uitdagings by die skool na jou toe kan kom sodat julle saam ’n oplossing daarvoor kan kry.
- Selfstandigheid: Maak seker jou kind is selfstandig wanneer dit kom by aantrek, skoenveters bind, toiletgebruik, hande was nadat hy in die toilet was en weet hoe om sy neus te snuit. Jou kind moet ook nie skaam wees om verlof te vra om die toilet te gebruik nie.
- Kweek goeie gewoontes: Maak seker jou kind eet ’n goeie ontbyt. Dit help met sy energievlakke vir die res van die dag. ’n Honger kind kan nie konsentreer nie.
Foto: Mosselbaai Advertiser Foto: Maroela Media Foto: Suid-Kaap Forum
Die aand voor die groot dag
- Pak saam met jou kind sy tas en maak seker sy skoolklere is reg, skoene is blink en sy hare en naels is skoon.
- Maak jou kind deel van die besluit wat in die kosblik gepak word. Onthou om dit gesond en vars te hou.
Eerste dag
- Neem verlof indien nodig. So maak jy seker jy is rustig om jou kind skool te neem en weer betyds te gaan haal en het julle ook tyd om rustig oor die eerste dag te gesels.
- Neem foto’s, maar moenie te lank by die skool vertoef nie en moet ook nie lang gesprekke met die onderwyseres aanknoop nie.
- Indien jou kind spesiale behoeftes het, of daar het iets gebeur het wat hom emosioneel kan raak (bv. dood in die gesin/familie, ’n troeteldier wat siek/dood is, egskeiding, ens.), is dit ’n goeie idee om die onderwyseres daarvan in kennis te stel.
- Probeer om jou emosies voor jou kind te onderdruk. Gaan huil maar liewer op jou vriendin se skouer.
Nog ’n wenk:
Deur saam met jou kind boeke te lees oor wat skool is en wat om te verwag, kan baie daartoe bydra om vrese oor skool te besweer. Hier is ’n paar voorstelle deur opvoedkundige sielkundige Hanlie Snyman:
- Hartmann, W. en Rankin, J. Sisi gaan skool toe en ander stories. Human en Rousseau, 2013
- Greven, Alec. Rules for School. Collins, 2010.
- Rankin, Joan. Die Eerste Dag. Pan Macmillan, 2009.
- Forward, Toby. The First Day of School. Picture Corgi, 2005.
Neem perfekte foto’s van jou kind se eerste skooldag. Kenners gee raad. Klik hier.
Bronne:
Artikel deur Carmen Jacobs op Netwerk24. Klik hier.
Opvoedkundige sielkundige, Hanlie Snyman, gee wenke. Klik hier.