“Lekkerleesboekrak beteken ontsaglik baie vir ons Afrikaanse skrywers. Dit skep ʼn platform waar lesers bewus gemaak word van wat beskikbaar is, wie wat geniet, en dis vir ons goud werd. Maar die lekkerste is dat ek as leser ook hier hoor van boeke wat my dalk sou verbygegaan het. As leser en skrywer het Lekkerleesboekrak my lewe verryk. Marion Erskine verdien ʼn prys van ʼn aard vir hierdie inisiatief.” Chanette Paul, skrywer.
Wat noem jy byna 9000 boekwurms bymekaar? Lekkerleesboekrak natuurlik! Alita Steenkamp het by die klomp leesentoesiaste gaan inloer.

In 2007 het die skrywer, Marion Erskine, met ʼn blink plan vorendag gekom. Marion woon en werk reeds vir 17 jaar in die buiteland, en in 2007 was hy al ses jaar uit die land uit. Dit het vir hom gevoel asof hy nie werklik meer bewus is van wat presies in die Afrikaanse boekwêreld aan die gang is nie en so is Lekkerleesboekrak, ʼn Facebookblad, in die lewe geroep. Die doel met hierdie blad was om mense te laat saamgesels oor nuwe boeke en skrywers en leeservarings met mekaar te deel. Daar was gou ʼn paar boekwurms wat aangesluit het, en stelselmatig het die blad gegroei tot net minder as 9000 lede vandag. Marion het ook met skrywers kontak gemaak en hulle aangemoedig om deel te neem aan gesprekke op Lekkerleesboekrak en vandag is die meeste van die Afrikaanse topskrywers ook lede van die blad en kuier hulle hartlik saam met almal wat van boeke hou.

Karin Behrens is een van die vrywillige administrateurs … dit is nou wanneer sy nie lees nie!

Anschen Conradie se boekrakke sal enige boekwurm laat swymel van ekstase.

Heino du Plessis help ook met die administrasie van Lekkerleesboekrak en hy is ‘n bemarkings- en kommunikasie-assistent by Lapa.
Wie doen al die harde werk?
Karin Behrens het in 2017 aangesluit as een van die administrateurs in die plek van Christelle Botha wat bedank het. Karin sê sy kom uit ʼn leesmal gesin en vandat sy in graad 1 begin lees het, het sy nog nooit weer opgehou nie. Sy is ʼn tutor en nasiener by Unisa en doen ook haar en manlief Cobus se besigheid, Down2Earth, se boeke. Sy sê dit is nogal harde werk om die administrasie van Lekkerleesboekrak te hanteer, maar dis iets wat sy baie geniet om te doen. Daar word deesdae al hoe meer kompetisies op die blad aangebied om dit interessant te hou en nog meer mense te betrek.
“Van my take is om die Rakkers van nuwe boeke te vertel. Ek deel ook graag inligting oor interessante boekbekendstellings waarvan ek weet. Ons deel ook inligting oor feeste wat fokus op boeke en skrywers soos die Woordfees of Pretoria se Boekejol. Die ander belangrike taak van iemand wat die blad administreer, is om seker te maak dat almal by die reëls hou. Gelukkig is die deursnee-lid van so ʼn aard, dat die katterige opmerkings of gevegte oor boeke eintlik baie min is. Soms is dit nodig om van ons lede te herinner om nie te veel van ʼn boek op die blad te verklap nie, want dan bederf jy die ander lesers se pret,” sê sy.
Heino du Plessis is sedert Maart vanjaar as administrateur betrokke by Lekkerleesboekrak. Hy het in daardie tyd by LAPA uitgewers begin werk as bemarkings- en kommunikasie-assistent en Marion het toe ook gevra vir ekstra hulp met die groep. Heino, wat drama en onderwys studeer het, het al draaie op die verhoog en voor ʼn klaskamer vol leerders gemaak voordat hy die bestuurder van ʼn boekwinkel geword het. Boeke was dus maar nog altyd een van sy passies.
“Ons kry glad nie geld vir hierdie werk nie en dis heerlik om deel te wees van hierdie gemeenskap van mense wat almal passievol is oor boeke. By Lekkerleesboekrak gesels ons nie bloot net oor Afrikaanse boeke nie, maar dit is beslis die gewildste onderwerp. Ons gesels ook nie net oor een spesifieke genre nie, en dit is wat dit so lekker maak. Al die groot uitgewers ondersteun ons heelhartig en skenk boekpryse vir ons kompetisies. Ons wil graag hê dat Lekkerleesboekrak ʼn tent moet wees waar almal welkom is, en ʼn spasie waar enigeen van hom of haar kan laat hoor. Solank jy oor boeke praat en mooi speel,” sê Heino.
Lekkerleesboekrak is beslis die plek waar jy wil wees, indien jy graag saam wil gesels oor boeke, of bloot net meer wil weet oor nuwe boeke en skrywers met wie se werk jy nog nie voorheen kennis gemaak het nie.
Karin Behrens stel dit so mooi:
“Ons is dalk 9 000 mense met verskillende smake en belangstellings, maar boeke bind ons aanmekaar. Boeke gee ʼn mens immers altyd iets om oor te gesels.”
Wil jy deel word van hierdie Facebookgroep?
Enigeen is welkom om aan te sluit by Lekkerleesboekrak. Daar is vier basiese reëls waarby jy moet hou om seker te maak jy trap nie iewers op tone nie:
- Respekteer ander se opinie.
- Praat mooi met mekaar. Op die blad word geen beledigings of swartsmeerdery geduld nie.
- Geen gevloek of lastertaal nie.
- Selfbemarking is taboe. Nie eers die gevestigde skrywers op die blad mag self vertel van hulle eie werk nie.
Wanneer jy aansoek op die bladsy doen om aan te sluit, sal jy eers drie vrae moet beantwoord sodat die administrateurs die kaf van die koring kan skei.
Besoek https://web.facebook.com/groups/lekkerlees/
So gesels die Rakkers oor hulle blad:
Ronelle Beukes: Ek hou van die blad omdat dit die lees van Afrikaanse boeke bevorder. Dit maak dit maklik om resensies van boeke op te soek wanneer ek belangstel om nuwe boeke aan te skaf. Dis ʼn goeie platform vir inligting oor nuwe boeke deur skrywers en uitgewers.
Anschen Conradie: Vir my is dit die ideale plek om mense te ‘ontmoet’ wat my passie vir boeke deel.
Janie Lubbe: Ek het nou al boeke van skrywers gelees wat ek dalk nooit andersins sou lees nie. Dit gee ook baie inligting oor ons skrywers en dis heerlik om saam te kan gesels met ons skrywers.
Marry Purcell: Interessant om te lees wat ander mense lees, en so ook nuwe skrywers en boeke te ontdek.
Anél Fourie O’Neill: Hierdie blad het my al aan ʼn hele paar nuwe skrywers bekendgestel. My gunsteling “nuwe” verslawing is vir seker Deon Meyer. My versameling van sy boeke is al amper volledig.
Ingrid Steyn: Ander se menings oor boeke het my gehelp om ʼn eie mening te vorm en te kan besluit watter boeke om te lees.
Michelle Naude-Baumgarten: Lekkerleesboekrak het my bekendgestel aan nuwe skrywers wie se boeke ek moontlik nooit sou gelees het nie.
Felecia Gerber: Lekkerleesboekrak het my liefde vir Afrikaans weer wakker gemaak. Ek het geleer van skrywers waarvan ek nie bewus was nie. Ek kan nou nie ophou boeke koop nie. As daar boeke in ʼn reeks is, wil ek almal hê.
Ernalize du Toit: ‘n Blad soos Lekkerleesboekrak is vir my soos ‘n virtuele sitkamer wat lesers en skrywers nader aan mekaar bring. Dit laat my drome droom om eendag ‘n boekklub te begin. Die verskeidenheid leesvoorkeure en opinies is vir my verfrissend en daag my soms uit om iets nuuts te probeer lees. Dit is ook vir my ‘n plek waar ek artikels en inligting oor boekbekendstellings en skryfkompetisies kry. Die admins doen baie moeite om voortdurend nuwe inligting en interessante uitdagings en kompetisies op die blad te plaas.
Elmari Potgieter: Ek het aangesluit om te hoor wat ander mense in Afrikaans lees en wat hulle menings oor die boeke is en ander wat hulle al voorheen gelees het. Ek is mal oor lees en geniet ʼn goeie boek so, so baie.
Riana Venter: Die veld van meta-lees fassineer my, daarom lees ek graag boeke oor boeke, oor lees, oor enigiets wat met lees te doen het, in watter vorm ook al. Die hoe, die waar, die wie, die wanneer en waarom en veral ook die wat daarna. Hierdie is ʼn platform van geesgenote wat op dieselfde golflengte ingestel is, wat dieselfde taal (figuurlik) praat, wat dieselfde liefde vir die geskrewe woord het en die magiese van stories deel. Ek voel tuis.
Anne-Marie Taylor: Ek dink nie daar is maklik iets of iemand wat meer gedoen het vir Afrikaanse boeke as Lekkerleesboekrak in die laaste paar jaar nie.
Isabel le Roux: Die blad is my gunsteling wat deurentyd inligting oor boeke (nuut en oud) verskaf. Die lede wissel van skrywers, lesers, boekwinkeleienaars, uitgewers, ens. en hulle dra almal by tot lekker boekgesprekke.