ʼn Bietjie meer as ʼn eeu gelede is Afrikaans uitgeskel as ʼn kombuistaal. Al het die taal dalk in die kombuis ontstaan, het ons taal sedertdien bewys dat dit op enige gebied kan saamgesels: as wetenskapstaal, in Internasionale literêre kringe, op die silwerdoek, in die teater en in die reklamewêreld. Vandag kan Afrikaans egter ook met trots ʼn kombuistaal genoem word aangesien daar behoorlik gekook word in Afrikaans. Die een na die ander Afrikaanse kok het al bewys dat Jamie Oliver gerus maar kan opsy staan. Gee ons kekerertjies en pampoenpoffers, botterskorsies en poetoepap, koffiesoentjies, koperpennieslaai, kolwyntjies, slaphakskeentjies en sommer op die koop toe ʼn karmenaadjie, wat veel meer as ʼn stukkie vleis is. Willie Strauss is een van hierdie opwindende nuwe Afrikaanse kosmakers. Alita Steenkamp het met hom gesels.


Willie saam met Bles, en Bella sy geliefde Bullterriërs. (Foto’s Theana Breugem)
Die vreugde …
Willie stem saam dat daar min dinge is wat soveel vreugde verskaf soos ʼn mooi gedekte tafel, interessante gaste wat gesellig verkeer, goeie wyn in mooi glase en bakke wat kreun, volgelaai met liplekker kos. ʼn Mens kan nooit genoeg daarvan kry nie. Hierdie kabaretkunstenaar is op sy gelukkigste wanneer hy mense op hierdie manier kan bederf. Deur die jare het hy telkens sy heerlike kos met vriende en geesgenote gedeel totdat hulle hom al hoe meer begin aanpor het om van sy wonderlike resepte in ʼn kookboek bymekaar te kry. ʼn Paar jaar gelede het Willie die idee van ʼn kookboek aangegryp en na vyf jaar se swoeg en sweet, en ʼn klomp struikelblokke wat oorkom moes word, het sy droom uiteindelik waar geword. Sy kos-memoires gevul met heerlike resepte, Daar’s ʼn Engel in my Koskas, het in September vanjaar by Human & Rousseau verskyn.
Sy passie vir kos en engele
Willie, wie se pad jare gelede al met engele gekruis het, sê al het hy nog nooit self ʼn engel gesien nie, tel hy gereeld die vere van engele in sy kombuis op. “Ek is mos die engele se witbroodjie,” spot hy op ʼn manier dat ʼn mens nie anders kan as om hom te glo nie. Wat hierdie resepteboek so ʼn besonderse ene maak, dis nou indien jy die heel mooiste voorblad ooit miskyk, is die interessante keur van geregte wat hierin vasgevat is. Willie verduidelik gou dat hy glad nie ʼn opgeleide sjef is nie, en bloot net ʼn gewone man met ʼn besonderse passie vir kos is. Sy resepte is ook geensins uitheemse, volksvreemde disse met bestanddele wat jy nie kan uitspreek nie. Dis doodgewone boerekos waarmee Wille heerlik in die kombuis rondspeel. “Ek be-Willie die resepte” lag hy, en slaan sy kookboek oop. Gebakte hoender met kwepers, Skaapskenkel-en-stertjiebredie, Lekkerbeklewer met appel, Kleintydse stormjaers, Melkkos en Rolkoek is maar enkele van die resepte wat ʼn mens se mond laat water, bloot met die deurblaai van die boek. In Daar’s ʼn Engel in my Koskas deel Willie sowaar ook die resep vir sy heerlike sjokoladevrugtekoek, gevul met groenvye, waatlemoenstukke, neute en sjokolade. Elke jaar wanneer die kersversierings in die winkels hulle opwagting maak, word daar behoorlik gewoel en gewerskaf in die Sinkhuis se kombuis daar in Cullinan om al die bestellings vir hierdie besonderse vrugtekoeke uit te voer. Willie sorg ook dat die koeke met finesse en flair verpak word en daarna weggestuur word na al die verskillende windrigtings.
Vir Willie is die nuwe kookboek ook die ideale manier om twee liefdes te kombineer. Hy bied deesdae heerlike Kook en Sing-geleenthede aan, waar hy ʼn spesifieke gereg demonstreer so tussendeur die sing en die storievertel deur. Hy terg ʼn mens gelukkig nie bloot net met die heerlike geure, want aan die einde van die geleentheid kan iedereen ook ʼn happie proe van die heerlikheid wat reg voor hulle oë gebeur het.
“Die mense wat my ken sal weet dat ek elke dag drie dinge op Facebook plaas waaroor ek dankbaar is,” vertel Willie. “Een ding wat ek eintlik maar elke aand kan oplaai, is die goeie terugvoer op my boek. Hierdie boek is propvol herinneringskos. Dit is die kos waarmee ons grootgeword het. Van hierdie resepte het ek so ʼn bietjie be-Willie, maar dit bly kos wat jy ken en wat jy kan maak. Nou bly dit vir my elke keer lekker as iemand my laat weet dat hulle uit my boek gekook het, en sommer die foto oplaai. Kos is immers daar om met mekaar gedeel te word.”
Daar’s ʼn Engel in my Koskas
In hierdie kos-memoires met soveel as 250 resepte, neem Willie Strauss jou op ʼn nostalgiese kosreis en deel hy staaltjies uit sy grootwordjare. Elkeen van die verskillende afdelings word met slim woordspeling soos: O Koek! Jy’s ʼn Engel, Mak soos ʼn lam en Seëninge van ʼn Jewel-stoof gegroepeer. Enigeen met hierdie boek van Willie in sy of haar kombuis sal in ʼn oogwink in ʼn kosengel verander.
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177498
Beskikbaar by enige goeie boekwinkel.
Om ʼn Kook en Sing-produksie te bespreek, kontak vir Nelius op 083 300 5447/ 0860278478
Of stuur ʼn e-pos aan info@artistwarehouse.co.za