Novembermaand is eksamen maand… 2018 se matriekleerlinge is reeds in die tweede week van hul eindeksamens en die res van die grade maak ook gereed vir die (gevreesde) jaarlikse instelling. Eksamens en eksamenstres loop hand-aan-hand. In hierdie artikel kyk Petronell Vorster namens Afrikaans.com na wat eksamenstres is en die gevaartekens wat daarmee gepaardgaan en ook hoe jy eksamenstres tot jou voordeel kan gebruik en wat ouers en leerders kan doen om te keer dat dit handuit ruk.
Wat is eksamenstres?
Ons almal ken die gevoel… ’n Hol kol op jou maag, slapelose nagte, gedagtes wat oorheers word deur definisies en terme en feite. Eksamenstres het ’n alledaagse verskyning in ons samelewing geword. Die druk op kinders om te presteer en suksesvol te wees word al hoe groter. Veral sosiale media het ’n groot invloed op die druk wat ons op ons kinders plaas. Niemand wil tog ’n rapport op Facebook laai wat sê “Jannie moet ongelukkig graad 5 herhaal nie.” Eksamenstres word ook nie net deur leerders ervaar nie, ouers se stresvlakke styg ook in hierdie tydperk.
Volgens Dr. Gillian Mooney, onderrig-en-leerbestuurder by die Independent Institute of Education is “Stres jou liggaam se fisieke reaksie op sekere situasies. Jou liggaam het ’n biologiese reaksie – dit stel chemikalieë en hormone vry – wat ’n stresvolle stimulus uitstuur. Daarom kan stres jou fisieke gesondheid, geestesgesondheid en jou gedrag beïnvloed.”
Maar weet jy wat die gevaartekens van eksamenstres is? Kyk uit vir:
- Gevoel van verwarring
- Verloor kontak met vriende en familie
- Voel moeg en nukkerig
- Vind dit moeilik om besluite te neem
- Voel oorweldig
- Ongemotiveerd om enige iets te doen (selfs lekker dinge)
- Vind dit moeilik om te slaap en/of om in die oggende op te staan
- Stywe spiere, kopseer en benoudheid
- Voel siek (naarheid en omgekrapte maag)
- Byt naels, kners tande, onvermoë om stil te sit en te konsentreer
Gebruik dit tot jou voordeel!
Eksamenstres hoef nie altyd ’n slegte ding te wees nie… ‘n Bietjie stres tydens eksamentyd kan selfs tot die leerder se voordeel gebruik word! Jou stresvlakke hou verband met jou veg- of vlug instinkte. Dit is ‘n belangrike evolusionêre reaksie op gevaar, ‘n outomatiese hulpmiddel wat in noodgevalle oorneem. As jy iets kommerwekkend of gevaarlik sien, word jou stresreaksies geaktiveer om jou te help om vinniger te hardloop, beter te sien, vinniger te dink en ja, om meer effektief te leer.
In haar boek, The Upside of Stress, skryf die sielkundige Dr. Kelly McGonigal dat mens kan leer om stres as ’n hulp- en motiveringsmiddel te gebruik. Volgens haar hou stres die volgende voordele in:
- Stres motiveer aksie
Stres kan gebruik word om jou te motiveer om jou doelwitte te bereik. Eksamenstres is jou liggaam se manier om te verseker dat jy vir die eksamen leer. Stres veroorsaak aksie. As jy nie bietjie oor jou eksamen stres nie gaan jy mos nooit daarvoor leer nie!
- Stres bou veerkragtigheid
Hoe meer stres jy ervaar, hoe meer veerkragtig word jy! As jy reeds van jongs af onder druk kan funksioneer leer dit jou om later in jou lewe nog meer druk te hanteer.
- Stres verbeter jou kognitiewe funksies
Navorsing aan die Universiteit van Kalifornië het bevind dat stres jou kognitiewe funksie verbeter. Stres maak jou dus slimmer. Eksamenstres veroorsaak dat jy optimale fokus kan bereik, dit verbeter jou geheue en dit help jou om nuwe vaardighede makliker aan te leer!
Maar hoe gebruik mens dan eksamenstres tot jou voordeel? Volgens Dr. McGonigal kan jy die volgende doen:
- Leer jou brein om stres as is hulpmiddel te sien
Hoe jy stres beskou bepaal hoe dit jou gaan affekteer. Vervang negatiewe gedagtes en konnotasies met eksamenstres, met positiewe gedagtes en konnotasies. As die eksamen al is waaroor jy kan dink, gebruik dit tot jou voordeel! Vervang jou negatiewe “al waaroor ek kan dink is Maandag se wiskunde eksamen” gedagte met die positiewe “al waaroor ek kan dink is Maandag se wiskunde eksamen, so ek gaan die somme inoefen,” gedagte.
- Herformuleer jou perspektief
Wanneer jy ’n doel aan ’n moeilike situasie heg word dit makliker om te hanteer. Moenie die eksamen as iets sien wat jy vrees nie. Herformuleer jou perspektief daaroor. Sien die eksamen as ’n geleentheid om jou kennis te toets en te wys wat jy alles deur die jaar geleer het.
Hoe keer ek dat eksamenstres handuit ruk?
Hoewel ’n bietjie eksamenstres ’n goeie ding is, kan dit vinnig handuit ruk wanneer leerders (en ouers) dit nie reg hanteer nie. Afrikaans.com stel die volgende 5 wenke voor om te verseker dat jy jou stres bestuur, en nie jou stres vir jou nie!
- Wees voorbereid
Tree proaktief op wanneer dit by eksamens kom. Maak seker jy is voorbereid vir elke eksamen. Stel vir jouself vraestelle op of voltooi ou vraestelle. So verseker jy dat jy voorbereid is op die komende eksamen en weet jy wat om te verwag.
Jy kan ou vraestelle op verskeie plekke op die internet aantref. Ons stel voor:
- Gebruik ‘n studiemetode wat vir jou werk.
Die regte studiemetode is baie belangrik wanneer dit kom by leer vir eksamens. Maak seker dat jy vroegtydig die mees effektiewe studiemetode (vir jou) identifiseer en maak gebruik daarvan! Jy kan meer oor studiemetodes hier lees.
- Handhaaf ’n gesonde leefstyl
’n Gesonde leefstyl is uiters belangrik. Jou brein kan nie optimaal funksioneer as jy gemorskos en gaskoeldrank drink nie! Eet gesond en drink baie water wanneer jy studeer. Daar is selfs kosse wat as ‘Breinkosse’ bekend staan – kos wat jou brein voed. Jy kan meer oor Breinkosse hier lees. Sorg ook dat jy oefeninge doen.
- Beplanning/Tydsbestuur
Beplanning is een van jou beste wapens om eksamenstres te bekamp. Sorg dat jy vir jouself ’n studierooster opstel en dit volg. Hoe meer georganiseer jy gaan wees, hoe meer in beheer gaan jy voel en hoe minder gaan jou stresvlakke wees.
Kyk hier na ’n kort video wat verduidelik hoekom goeie tydsbestuur so belangrik is en hoe jy dit vir jou kinders kan aanleer:
- Slaap
Genoeg slaap is baie belangrik. Wanneer jy nie genoeg slaap inkry nie kan jy nie behoorlik funksioneer nie en gaan jy waarskynlik deurmekaar voel en nie optimaal in jou eksamen presteer nie. Moet nooit deurnag leer vir die volgende dag se eksamen nie, jy gaan waarskynlik nie so goed doen soos iemand wat goeie tydsbestuur toegepas het en lank voor die tyd reeds begin leer het nie. Lees hier hoeveel slaap regtig nodig is.
Almal trap soms klei en sukkel met hierdie tyd van die jaar. Moet egter nie dat eksamenstres jou onder kry nie! Onthou om altyd jou beste te gee en te doen en ook om vir jouself realistiese verwagtinge te stel. Nie almal is akademies ewe sterk aangelê nie. ’n Kind wat sy bes gedoen het en baie hard gewerk het om 60% te kry, verdien net soveel bewondering soos die outjie wat 90% behaal het!