

Sy is beeldskoon en intelligent, sing pragtig en het ook al bewys dat sy ʼn talentvolle akteur is. In 2018 het sy een van die hoofrolle in die fliek, Susters vertolk. Die sangeres Leah, wat tans die aanbieder van die gewilde realtiteitsreeks, Boer soek ʼn vrou is, is die nuutste gonswoord op almal se lippe.
Afrikaans.com se Alita Steenkamp het Leah gevra om die volgende 20 vrae te beantwoord:

Wat moes jy op die harde manier leer?
Nie almal gaan van jou hou nie, jy kan nie altyd wen nie en daar is altyd iemand wat nóg beter as jy is. Dis ʼn goeie les!
Wat is die beste raad wat jy al ooit ontvang het?
Wees net jou eie unieke self, dan is daar geen kompetisie nie!
Wat is die kosbaarste ding in jou lewe?
My gesin: manlief Hennie van Niekerk en my twee hondekinders, Muggie en Lila.
Indien jy kon, sou jy iets anders benader het ten opsigte van jou loopbaan?
Ek sou alles dieselfde doen. Tydsberekening is alles en alles gebeur op die regte tyd. Daar was ʼn tyd toe ek ongeduldig wou jaag om dinge klaar te kry maar alles het op die ou einde op die regte tyd gebeur. Soos dit moes.
Kan jy nog jou heel eerste konsert onthou waar mense moes betaal om na jou te luister?
My eerste solovertoning waar mense net vir my kom kyk het, was by Die Boer in Durbanville. Ek moes ʼn kalmeerpil drink! Tog was dit een van die beste vertonings en aande van my lewe. Die plek was oorvol!
Wie en wat inspireer jou en hoekom?
Musiek is ʼn groot inspirasie vir my want musiek praat met jou siel. My vriende en familie inspireer my op ʼn ander manier om ambisieus te bly en my drome te volg.
Wie is jou grootste rolmodel/le op ʼn professionele vlak?
Taylor Swift en Laurika Rauch
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Daar is seker nie eintlik so-iets nie. Maar wanneer jy op die punt kom waar jy jouself onvoorwaardelik aanvaar en besef watter voorregte jy in jou lewe het, dit is naby aan perfekte geluk vir my!
Wat is jou grootste vrees?
Slange en enige insek. Ek skrik selfs vir ʼn mot.
Wie bewonder jy die meeste en hoekom?
Laurika Rauch want sy is tydloos en klassiek en stoom voort met bitter mooi musiek. Dan is sy nog ʼn wonderlike mens ook! Ek wil só wees.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Goeie kos en lekker wyn.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Elke keer wanneer ek in St. Helenabaai op die Weskus is met my gunsteling mense rondom my en die son wat skyn.
Watter ander talent sou jy die graagste wou hê?
Ek sou graag ʼn gimnas se soepelheid wou hê!
Wie is die liefde in jou lewe?
My man Hennie van Niekerk.
Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord/woorde?
Rondomtalie en genade.
Wie is jou gunsteling skrywer?
John Grisham.
Wat was die eerste boek wat jy op eie gelees het?
Ek lees al vandat ek ʼn boek kon vashou, so dis ʼn moeilike een!
Jou gunsteling Afrikaanse boek? (Dit kan selfs uit jou kinder- of tienerjare wees.)
Fiela se kind was vir my sooooo mooi!
Is Afrikaans #onmisbaar in jou lewe?
Vir seker. Dis my taal, die taal waarin ek sing, leef en beef. Afrikaans het die mooiste, suiwerste en lieflikste woorde waarmee jy jouself kan uitdruk!
10 Kitsfeite oor Leah
- Sy vier binnekort haar 32 ste verjaarsdag.
- Leah het in November 2011 Rapport se Model van die Jaar-kompetisie gewen. Dit was haar groot deurbraak.
- Haar regte naam is Leani en haar nooiensvan was Ekermans.
- Leah het haar rolprentdebuut in 2013 gemaak in die fliek As jy sing.
- Sy was die stem van Gerda in die animasiefliek Sneeukoningin 2 (2016)
- In 2016 het sy ʼn handvol toekennings opgeraap: Nuweling van die Jaar – Huisgenoot Tempo Toekennings; Liedjie van die Jaar – Huisgenoot Tempo Toekennings; Musiekvideo van die Jaar – Huisgenoot Tempo Toekennings; Vroulike Kunstenaar van die Jaar – Bokkie Toekennings.
- Leah het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar sy ʼn graad in B.Com Regte behaal het.
- Leah het deur die jare in oorsese TV-advertensies gespeel en ook geld verdien met stemwerk.
- Op musiekgebied was Celine Dion haar eerste inspirasie.
- Haar liedjie “Volmaan” het binne ʼn jaar nadat dit vrygestel is 700 000 trefslae op YouTube gekry.