Op 24 September is Erfenisdag en die bedoeling is dat ons so bietjie stilstaan en met waardering terugkyk na alles wat ons ontvang het. Dit is ‘n publieke vakansiedag. Voor 1994 was dit bekend as Shakadag, waartydens Zoeloes hul koning herdenk het. Na 1994 is dit omskep in ‘n dag waarop alle Suid-Afrikaners hul kulture en erfenis herdenk.
Dit is vanjaar presies 80 jaar gelede dat die hoeksteen van die Voortrekkermonument in Pretoria gelê is. Uit dié daad het ’n landmerk verrys – ’n monument wat die toets van tyd deurstaan het, skryf Johanna van Eeden.
Foto’s: Flickr.com
Bedags staan hy daar, rotsvas en woordeloos geanker in geloof. Snags práát hy met die vliegtuie bokant hom, wanneer die rooi lig bo-op die Voortrekkermonument in Pretoria standvastig sy boodskap in Morsekode uitflikker: Ons vir jou Suid-Afrika.
Dis ’n gebou ryk aan simboliek, swaar aan skuld – verteenwoordigend van ’n deurslaggewende greep geskiedenis wat uiteindelik volledig sy staanplek in 2011 in ’n nuwe Suid-Afrika gekry het met erkenning as ’n nasionale erfenisterrein.
Vandag is dit een van die suksesvolste gedenkwaardighede in die land – ’n merkwaardige prestasie vir ’n simbool wat oor Afrikaner-geslagte bedroom en uiteindelik gebou is uit bloed, sweet en trane.
Diegene wat 80 jaar gelede nie sélf by die hoeksteenlegging kon wees nie, maar ’n bydrae wou lewer, het ’n klip gepos. Uit alle windrigtings het dit opgedaag, eenvoudig geadresseer aan: Uniewinkels, Monumentterrein, Pretoria.
Dié klippe is later jare op die terrein in ’n stapel gemessel, omring deur vyf bome: een vir elk van die ou provinsies en nog een vir die voormalige Suidwes-Afrika. Die bome is ook simbolies van die punte van die Kasteel in Kaapstad.
Oorhoofse blik op die monument
Kykie na die binnekant van die monument
Erfenis
Dit was pres. Paul Kruger wat in 1888 die eerste klip aan die rol gesit het met sy voorstel dat ’n gedenkplek opgerig moet word ter ere van die Voortrekker-ideaal. Kruger se wens het 43 jaar later momentum gekry toe daar by die FAK se kongres in 1931 ’n sentrale volksmonumente-komitee aangestel is, onder voorsitterskap van adv. E.G. Jansen
Mense is genooi om voorstelle in te dien oor waar só ’n monument opgerig kan word. Weenen, Heilbron, Orighstad, Winburg, Kerkenberg en Pietermaritzburg is onder meer voorgestel, maar die keuse het op Pretoria geval – geografies ’n sentrale punt, belyn met die ooreenkoms wat in 1852 by die Sandrivierkonvensie onderteken is waarvolgens Brittanje die onafhanklikheid erken het van die Trekkers noord van die Vaalrivier.
Die stadsraad van Pretoria het verskeie terreine voorgestel waar die monument opgerig kon word, maar dit was die argitek Gerhard Moerdijk wat self Monumentkoppie uitgekies het. Die ATKV, FAK en Voortrekkerbeweging het sáám ’n leidende rol gespeel in die ontstaangeskiedenis van die Voortrekkermonument. Op Maandag 8 Augustus 1938 het ’n trekgeselskap met twee ossewaens uit Kaapstad vertrek ter herdenking van die eeufeesviering van die Groot Trek. Dié simboliese trek was die idee van Henning Johannes Klopper, voorsitter van die ATKV, en sou ’n hoogtepunt bereik met die hoeksteenlegging.
Die trek het mense se verbeelding aangegryp en regoor die land het nóg waens by die oorspronklike groep aangesluit. Daar is maande deur die destydse Unie van Suid-Afrika getrek en die groep het by meer as 500 plekke aangedoen, met talle monumente en gedenkstene wat langs die roete opgerig is.
Simboliek
Gelyklopend met die simboliese trek het die Voortrekkerbeweging met ’n fakkelloop begin. Tibbie Steyn, vrou van M.T. Steyn – die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat – het die oorspronklike fakkel op 30 November 1938 in Kaapstad aangesteek.
Op 13 Desember 1938 is die trekkers op Kerkplein in Pretoria verwelkom en die volgende dag het hulle op Monumentkoppie aangekom. Daardie nag het die fakkeldraers opgedaag. Dit was ’n feestelike geleentheid waaraan sowat 40 000 mense deelgeneem het. ’n Tentedorp is ingerig, 53 babas is gedoop en 35 pare in die eg verbind.
Die hoeksteenlegging is behartig deur drie vroue: die agterkleindogter van Piet Retief, die kleindogter van Andries Pretorius en die agterkleindogter van Hendrik Potgieter.
Agter die hoeksteen is ’n paar geskiedkundige dokumente toegemessel – die dagregister van Jan van Riebeeck, die traktaat wat deur Retief en Dingaan onderteken is, ’n afskrif van die Gelofte, ’n kopie van Die Stem van Suid-Afrika en ’n Bybel van Klopper.
’n Prys is vooraf uitgeloof vir die skryf van ’n drama wat opgevoer kon word by die geleentheid. Dié eer het N.P. van Wyk Louw se “Die dieper reg” toegeval.
Net meer as ses maande later, op 13 Julie 1937, het Jansen die eerste sooi gespit en bouwerk het die volgende jaar begin. Die ontwerp is deels geïnspireer deur Moerdijk se besoeke aan die piramides van Egipte en die Zimbabwe-ruïnes en die idee van die opeenstapeling van klippe in die ontwerp is simbolies van die Voortrekkers se onwankelbare moed, geloof, selfvertroue en durf.
Granietboustene is gebruik, maar bouwerk is in 1939 gestaak met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In 1940 het 30 klipwerkers weer die taak hervat en 60 000 granietstene uitgekap, waarvan die laaste blok in 1945 in posisie geplaas is.
Die spilpunt van dié monument is die senotaaf, ’n leë graf, simbolies van die moord op Retief op 6 Februarie 1838. Dit is uit rooi graniet gekap en dra die eenvoudige grafskrif: “Ons vir jou Suid-Afrika”.
Die monument word beskerm deur ’n laer van 64 kakebeenwaens, ter herinnering aan die laer wat die trekkers gevorm het in aanloop tot die Slag van Bloedrivier. Die laer word gesluit deur assegaaihekke, soortgelyk aan die tradisionele wapens wat deur Dingaan en sy Zoeloes gebruik is. Die assegaaihekke dien ook ’n praktiese doel as toegangsbeheer na die hoofingang: ’n kiaathoutdeur.
Om by dié deur uit te kom, moet die besoeker 130 trappe klim. Op elk van die vier hoeke van die monument staan ’n Voortrekkerleier: Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en ’n vierde, onbekende leier wat hulde bring aan leiers soos Piet Uys, Sarel Cilliers, Louis Trichardt en Gerrit Maritz.
Daar is ook ’n beeld van ’n Voortrekkervrou en haar kinders, om hulde te bring aan die deursettingsvermoë en opofferings van die vroue in die Groot Trek. Die beeld deur Anton van Wouw is volledig in brons gegiet – die eerste keer dat dit in Suid-Afrika gedoen is. Agter die vrouebeeld is swartwildebeeste, wat gevaar simboliseer. Die diere hardloop egter wég van die vrou, tekenend van haar vasberadenheid.
In die heldesaal is ’n fries met 27 tonele wat die Groot Trek uitbeeld. Dit is aanvanklik in gips gegiet, maar die finale werk is in Italië uit marmer gekap.
In die momument is ’n nis met ’n lantern waarin die oorspronklike fakkel brand wat na die hoeksteenlegging gestuur is. Dit is vir jare by die Universiteit van Pretoria bewaar en het in 1949 ’n laaste staanplek gekry. Daar is ook ’n tapisserie wat geskiedkundige tonele uitbeeld – die handewerk van nege vroue wat agt jaar lank met meer as 3,3 miljoen stekies aan dié liefdestaak gewerk het. In uitstalkaste is gedenkwaardighede uit die Groot Trek en van die 1938-eeufeestrek.
Die monument is amptelik ingewy op Vrydag 16 Desember 1949 en sowat 250 000 mense het die geleentheid bygewoon. Wéér is ’n tentedorp ingerig, mense in tradisionele drag het volkspele gehou en Rapportryers het langs 15 roetes regoor die land en uit Suidwes-Afrika met leerbladsakke groeteboodskappe aangery.
By die opening is toesprake gehou deur genl. Jan Smuts en Jansen. Die gelofte wat Sarel Cilliers by die Slag van Bloedrivier afgelê het, is voorgelees. Maar dit was die toespraak van dr. Nico Malan wat mense aangegryp het. “Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?” wou hy weet. “Staan dan stil en draai terug – terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar . . . terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe, terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u kerk; terug na u God.”
Dit was ’n dag van toewyding wat om presies 12:00 ’n hoogtepunt bereik het toe ’n straal sonlig op die senotaaf geval het – die voltrekking van ’n meesterlike ontwerp deur Moerdjik. Vandag nog word jaarliks ’n erediens op dié dag gehou, met die versinnebeelding van die gelofte wat deur die ligstraal bevestig word.
Dié kunswerk van Danie de Jager het op 13 Februarie 2013 staanplek by die Voortrekkermonument gekry. Dit het voorheen “In vlug” geheet en was by die Jan Smuts-lughawe te sien. Dit is herdoop na “Quo Vadis?” ter ere van die gelyknamige toespraak wat dr. D.F. Malan gelewer het met die inhuldiging van die monument in 1949. (Foto: Johanna van Eeden)
Die monument vandag …
In die jare wat verloop het sedert die inhuldiging van die monument, is verskeie mylpale behaal en regerings het verwissel. In ’n moeilike politieke oorgangstyd het die monument vir sommige mense ’n simbool van apartheid geword, vir ander ’n seer herinnering aan Afrikanerskuld.
Te midde hiervan het die Voortrekkermonument tog daarin geslaag om ’n relevante staanplek in ’n nuwe Suid-Afrikaanse konteks te kry. Vandag staan dié gebou direk in gesprek met sy buurman, Vryheidspark, ’n monument wat in 2000 beslag gekry het om hulde te bring aan diegene wat die hoogste prys betaal het in die Suid-Afrikaanse bevrydigingstryd.
Die 241 hektaar om die monument is in 1992 tot ’n natuurreservaat verklaar en besoekers kan die natuurlewe per fiets, perd of te voet verken.
Die monument was aanvanklik onder beheer van die departement van binnelandse sake, maar in 1993 is dit as ’n artikel 21-maatskappy geregistreer, onder leiding van ’n besturende direkteur en ’n direksie. Onder die leiding van ’n dinamiese direksie is die Voortrekkermonument-erfenisterrein oor die jare ontwikkel. Dit het die tuiste geword van die Erfenissentrum, waar uitgebreide geskiedkundige navorsing gedoen kan word, en ’n opleidingsentrum, waarvan die aanbieding gegrond is op die geskiedenis-leerplan in skole.
Cecilia Kruger, die besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, is onlangs met die Rapportryers se presidentsprys vereer. Sy wy haar lewe aan die bewaring van Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse erfenis. Hierdie prys word een keer per jaar aan ‘n persoon toegeken vir die bewaring van Afrikaanse kultuur. (Foto: Netwerk24)
Het jy geweet …
In 2017 het 71% van die inkomste uit hekgelde gekom, gevolg deur skenkings en borgskappe (10%). Sowat 166 000 mense besoek die monument jaarliks, met 33% wat uit China kom, 20% uit Duitsland en 15% uit Frankryk. Plaaslik kry veral die antiekmarkte wat op die terrein aangebied word groot aftrek en meer as 60% van leerders wat die monument vir opvoedkundige redes besoek, kom uit townshipskole.
Kruger sê die monument speel ’n belangrike rol in die kollektiewe geheue van die land en met die toestaan van erfenisstatus is finaal erkenning gegee vir die Voortrekkermonument as volwaardige geheue-instelling en vir die blywende impak wat die Trekkers op Suid-Afrika se geskiedenis gehad het.
Die Erfenisstiging bestuur verskeie ander erfenisterreine wat verband hou met die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, waaronder die Bloukransmonument en Retiefklip by Kerkenberg.
Tussen 15 000 en 20 000 mense het aan die Groot Trek deelgeneem. Hul tog die binneland in was ’n soeke na vryheid en onafhanklikheid. Die Voortrekkermonument is ’n herinnering aan die opofferings van dié pioniers en die rol wat hulle gespeel het in die grondlegging van Suid-Afrika. Maar dis ook ’n daaglikse herinnering aan die impak wat gewone mense kan maak. Dit bied geleentheid om nuut te dink oor Malan se vraag, eietyds aangepas: “Suid-Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?”
*Aanvullende bronne: “. . . Vir Vryheid – Voortrekkermonument 80”, www.vtm.org.za.
Lees meer:
Die oorsprong van Afrikaans: Vergesel ons op ‘n reis op die spore van Afrikaans. Klik hier
Organisasies vir Afrikaans: Elke Afrikaanse organisasie speel ‘n rol in die Afrikaanse leefwêreld. Vir ‘n lys van organisasies, klik hier