11 en 12 Oktober 2018 is ’n datum wat nog lank in die harte van die Vredenburggemeenskap sal voortleef
Hoërskool Weston en Eden Primêr (Vredenburg) eien Afrikaans!
Hoërskool Weston
Elke jaar identifiseer Kunstekaap ’n plattelandse gemeenskap wat nie die voorreg tot gereelde toegang tot die kunste het nie en bring hulle die verhoog tot binne die harte van hierdie mense wat dikwels uitgehonger is vir die feestelike kreatiwiteit wat die kunste bied. Vanjaar was die kollig op die Vredenburggemeenskap en kon Afrikaans.com hande vat saam met Kunstekaap en die Stigting vir die Bemagtings vir Afrikaans en hierdie spesiale gemeenskapsuitreikprojek uitbrei tot ’n feestelike hoogtepunt vir Afrikaans. Op 11 en 12 Oktober 2018, het die Kunstekaap die beste na die planke gebring. Die SBA het die Patrick Petersen-gedenkplaat onthul en hul nuwe reeks stories uit ons unieke gemeenskappe en streke bekend gestel en Afrikaans.com het al hierdie verrigtinge afgeskop met ’n muurkunsonthulling op 11 Oktober by Hoërskool Weston en Eden Primêr.
Dit was ‘n viering van die mense van die streek, maar veral van Afrikaans wat in die monde van die Weskus-mense lééf en die mure by hierdie twee skole was hierdie dag beslis een van die hoogtepunte en ’n dag wat hierdie gemeenskap nog lank sal onthou!
Hierdie Afrikaans.com-muuronthullings, spesifiek gefokus op die gemeenskap, maak deel uit van die Afrikaans.com-muurkunsprojek in die Wes-Kaap wat in 2017 afgeskop het en wat vanjaar voortgesit is.
Met die muurkuns skep ons ’n bewustheid en word leerders aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik. Ons herinner leerders, onderwysers en die gemeenskap om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en Afrikaans – ons moedertaal – en moedig hulle aan om hulle unieke identiteit opnuut aan te gryp in hoe hulle hulleself uitdruk en binne hulle gemeenskappe leef.
Vanjaar se muurkuns bestaan uit helder beelde en woorde waarmee leerders hul kan vereenselwig. Die vlerke maak weer deel uit van die kunswerk – hierdeur wil ons leerders aanmoedig om groot te droom en hulle te laat besef: Niks is onmoontlik as jy jou daarop toespits en hard werk nie.
Die Afrikaans is #onmisbaar-tema maak ook deel uit van die mure en daardeur wil ons leerders aanmoedig om na te dink oor dit wat vir hulle spesiaal is van hulle taal – want uiteindelik is dit ’n mens se taal wat jou identiteit vorm – dis wie jy is.
“Hierdie muur het so ‘n groot bewustheid van Afrikaans by die publiek aangewakker en die debat oor Afrikaans as moedertaal is weer onder die vergrootglas geplaas. Die muur moedig leerders aan om trots te wees op hul herkoms en erfenis.” – Mnr. Elvin Vraagom (skoolhoof, Hoërskool Weston).
Die muuronthulling is bygewoon deur ‘n groot skare vanuit die gemeenskap en dat Afrikaans die hartstaal van die Vredenburgers is, kan niemand betwyfel nie! Die program was geopen deur mnr.Vraagom, waarin hy die gemeenskap herinner het dat hierdie vissersdorpie baie stories het om te vertel en dat Afrikaans die taal van hul stories is.
“Ons is so trots en dankbaar vir hierdie muur en die nalatenskap wat die lewe in ons Afrikaans aanwakker en lewend hou.”
René Arendse (Afrikaans.com) het die gemeenskap herinner aan die uniekheid van hul Afrikaans. “Woorde soos aitsa en eina is woorde wat ons by ons Khoisan-voorouers gekry het en met al hierdie invloede uit Europa, Afrika en Asië het ons ’n heerlike, geurige pot breyani wat ons smaaklik in ons kieste kan rondrol.”
Eden Primêr
Die leerders van Eden Primêr het gedeel in die opwinding. Hierdie skool staan uit as ’n baken van hoop in hul gemeenskap. Die leerders en onderwysers is trots op hulle skool en hul taal. Die leerders het die onvergeetlike Kunstrefferskonsert aangebied deur Kunstekaap bygewoon.
“Ons muur is pragtig en het ’n verheldering op die skoolterrein meegebring. Die uitbeelding van die diere en figure verbreed die leerders se ervaringswêreld en die woorde hul woordeskat.” – Mnr. Robert Blaauw (Skoolhoof van Eden Primêr).
Lees meer oor hierdie besonderse dag hier.
Hoërskool Weston
Die pêrel van die Weskus, Pearl Adams en Simankeli tree op tydens die muuronthulling. Pearl is deur haar pa geleer om klavier te speel en het ‘n talent wat haar nog baie vêr sal neem. Sy is tydens die konsert raakgesien deur die uitvoerende hoof van Kunstekaap, dr. Marlene Le Roux, wat haar onmiddellik nader getrek het en sy kon dieselfde aand nog die verhoog deel met die kunstenaars tydens die Kunstekaap galageleentheid. Hier is Pearl in haar element – haar optrede by die Kunstekaap-gala geleentheid. Dr. Marlene le Roux tydens die muuronthulling by Hoërskool Weston waar sy leerders aanmoedig om kreatief om te gaan met hul taal en so uiting gee aan hul talente. Dr. Marlene le Roux (uitvoerende hoof Kunstekaap), René Arendse (Afrikaans.com), Anroux Marais (Minister van Kultuursake in die Wes-Kaap) en Milanie Vosloo (projekbestuurder, Afrikaans.com) het die dag se vieringe meegemaak. Milanie Vosloo (projekbestuurder, Afrikaans.com) oorhandig moedertaalplakkate en nuttige inligting oor moedertaalonderrig aan mnr. Joseph en mnr. Vraagom. Hoofdogter Tamia Josephs en hoofseun Lluwellen van Wyk saam met hul skoolhoof, mnr. Vraagom, dr. Marlene le Roux (Kunstekaap) en René Arendse (Afrikaans.com). Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans se talentvolle dramaverrykingsgroep se optrede was ’n huldeblyk aan ds. Patrick Petersen. Die groep is onder leiding van Emile Hahn wat met leerders van Ebenhaeser Primêr, Hoërskool Nuwerus en Rietpoort Primêr saamgespan het. Leerders van Hoërskool Weston in ‘n feestelike stemming. Verteenwoordigers van Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans en Kunstekaap saam met onderwysers en leerders van Hoërskool Weston.
Eden Primêr

Die leerders van Eden Primêr staan in verwondering terwyl die muurskildery voor hul oë ’n lewe van sy eie aanneem. Graad 4-leerders van Eden Primêr spog trots voor hul muur.