Pionierskool vir siggestremdes spog met ’n sensoriese tuin en ‘n Afrikaans.com-muurskildery

Afrikaans.com se pragtige en kleurvolle muurskildery is die perfekte agtergrond vir die Pionierskool se multisensoriese tuin.
“Dit was heerlik om in die kalmte van die sensoriese tuin te verf en die personeel en kinders se omgee vir mekaar te beleef.” – Elmarie Wright, Kreatiewe Konsultant en kunstenaar vir Afrikaans.com se muurkunsprojek
Nie eers die snerpende koue, met die sneeu dik op die berge rondom Worcester, kon die talentvolle Afrikaans.com-span keer om weer eens ’n pragtige muurskildery te verf nie. Die projek by Pionierskool is ‘n treetjie verder geneem met ‘n paar idiome wat met klank te doen het, soos “Speel tweede viool”, “Blaas sy eie beuel”, en “Lui ‘n klokkie”. Die muur is spesifiek vir die sensoriese tuin geskep.
Pionierskool vir Siggestremdes – ‘n skool waar omgee vir mekaar sigbaar is
Op 30 Augustus 2018 was daar meer as genoeg rede om fees te vier by die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester. Op hierdie dag vol opwinding en verrassings, is ʼn multisensoriese tuin op die skoolgrond bekendgestel. ʼn Hele paar rolspelers het saamgewerk om hierdie ʼn werklikheid te maak: die ATKV se Handevatprojek, Hoërskool Brackenfell, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en Afrikaans.com. Afrikaans.com se bydrae was nog ʼn pragtige kleurvolle muurskildery, soos die wat hulle reeds by ander skole opgerig het. By Pionierskool het hulle egter hierdie projek ʼn treetjie verder geneem met ʼn paar idiome wat met klank te doen het soos “Speel tweede viool”, “Blaas sy eie beuel” en “Lui ʼn klokkie.” Die muur is dan ook spesifiek vir die sensoriese tuin geskep. Die doel met die muurprojek is om leerders, onderwysers en die gemeenskap daaraan te herinner om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en Afrikaans, ons moedertaal.
Multisensoriese tuin
Die belangrikste deel van die multisensoriese tuin op die skoolterrein is Tuinverse en Pionierstories, ʼn samewerkingsprojek van Byderhand, Noordwes-Universiteit. Ses digters het verse geskryf of gekies wat by die tuin pas. Deur gebruik te maak van jou selfoon en die skandering van die QR-kode wat by bepaalde plekke in die tuin opgerig is, kan ʼn mens daar sit en luister na die verse en Pionierstories. Hierdie is stories wat geskryf is deur leerders, oudleerders en die personeel van die Pionierskool. Die plante vir die multisensoriese tuin is gekies vir ʼn besonderse reuk- en taservaring. Benewens die gedigte en stories waarna daar via jou selfoon of tablet geluister kan word, sorg die buitelugmusiekinstrumente wat deur die leerders van Hoërskool Brackenfell gemaak is, vir nog iets om na te luister.
HemelBesem het die kinders vermaak met sy inspirerende boodskap en musiek. Van die leerders met die gebrailleerde boeke, geskryf en geskenk deur Klavs Skovsholm, wat deur die SBA en Afrikaans.com aan hulle oorhandig is.
ʼn Heerlike verrassing was toe die rymkletser HemelBesem (Simon Witbooi) sy opwagting gemaak het met ʼn inspirerende boodskap en sy musiek. HemelBesem is een van die ambassadeurs vir Afrikaans. Hy het onder meer gesê: “Afrikaans was die eerste woorde wat my ma my geleer het. My eerste liefde, my eerste pyne het alles in Afrikaans na my gekom.”
Storieboeke in braille
ʼn Verdere verrassing het gewag op die graad 3- en 4-leerders wat elkeen ʼn storieboek in braille geskryf, ontvang het. Die skrywer van Die Kokerboom, Klavs Skovsholm van Denemarke, het die boeke geskenk en oorhandig. Om ʼn eie boek in braille te besit, is vir hierdie kinders ʼn heerlike voorreg. Die SBA, in vennootskap met Afrikaans.com, het agter die stuur van hierdie projek gestaan. Die skoolhoof van die Pionierskool, mnr. Byleveldt, het sy waardering uitgespreek vir die skenking van boeke in braille wat die skoolbiblioteek ontvang het.
Dr. Suna Verhoef, die projekkoördineer en ʼn onderwyser by Pionierskool, vertel dat hierdie Byderhand-projek ʼn besonderse plekspesifieke digitale literatuurprojek is. Van die gedigte en stories waarna jy in die tuin kan luister, sal jy nie met gewone internetsoektogte kan opspoor nie. Jy sal wel ook by die Blindiana Baristy by Innovation for the Blind in Kerkstraat met die nodige QR-kodes na die stories kan luister.
Die feestelike dag was nog nie ten einde met sononder nie en tydens die Kultuuraand het leerders van Pionierskool sowel as Hoërskool Brackenfell in die voorprogram met koorsang, instrumentale items en getoonsette gedigte vermaak verskaf. Die Jaloersbokkies, met onder meer Jawaahier Petersen en Nadine Blom, twee Afrikaanse ambassadeurs, het die fees afgesluit met ʼn heerlike vertoning wat die gehoor op hulle voete gehad het. ‘
Hoe heerlik is dit nie om Afrikaans op soveel vlakke te kan vier en verken nie!
Links agter is Klavs Skovsholm, die skrywer en skenker van die gebrailleerde boeke. Saam met René Arendse, projekkoördineerder van die Afrikaans.com-muurprojek, is dr Niel le Roux (SBA) en die VLR van Pionierskool. Roshaan Jacobs, leerder by Pionierskool vir Siggestremdes droom GROOT saam met Afrikaans.com. Klavs Skovshol (Deense skrywer), René Arendse (Afrikaans.com), die Verteenwoordigende Leerlingraad van Pionierskool en dr Niel le Roux van die SBA.