Uitkomsgerigte onderwys verg groter ouerbetrokkenheid en Afrikaans.com word gereeld deur ouers gevra hoe hulle meer betrokke kan raak, veral ten opsigte van lees. Anders as wat jy dalk gedink het, is om na jou kind se leesles te luister, nie altyd die beste manier om jou kind se leesvaardigheid te bevorder nie. Die rede hiervoor? Jou kind gaan baie gou agterkom as jy gespanne is omdat jou kind se leesvermoë nie volgens jou op peil is nie – dit blyk uit jou nieverbale (en soms ook verbale) bevestiging wat dan lei tot ’n negatiewe kringloop omdat die kind dink hy is nie goed genoeg nie – ’n mislukking.
Doen die volgende om ’n liefde vir lees te kweek:
- Sorg vir genoeg storieboeke op almal in die huis se leesvlak. Dis juis leessukses wat ’n liefde vir lees kweek.
- Stel ’n verskeidenheid leesstof tot die kind se beskikking. Dit hoef nie net storieboeke te wees nie. Kindertydskrifte, strokiesprente, prenteboeke en dies meer is ook aanvaarbaar.
- Rig ’n spesiale leeshoekie in. Dit laat die kind leestuis voel.
- Maak tyd vir lees. Deel as ’n gesin in hierdie leestyd.
- Lees vir jou kind voor, maar lees ook saam en laat jou kind vir jou voorlees.
- Maak gebruik van insidentele leesgeleenthede. As jou kind glo hy kan lees, wil hy dit doen.
Wat is insidentele leesgeleenthede?
Veral beginnerlesers wil graag hulle nuwe leesvaardighede wys. Jy kan op die volgende manier geleenthede hiervoor skep:
- Ek lees al die name
Maak ’n plakkaat van produkte waarvan die kind reeds die name herken. Die kind ken gewoonlik die prentjies en hierdie herkenning versterk leeswaagmoed.
Dit kan ook by die aanleer van ’n tweede of derde taal gebruik word, bv. die kind maak sy eie prentjiewoordeboek deur prentjies van voorwerpe uit te knip wat hy dan in die tweede of derde taal kan benoem.
- Mamma skryf by
Die kind maak ’n tekening en vra die ouer om die woord/e by sy prent te skryf. So ontdek hy dat wat hy gesê het, herroep kan word en boonop dieselfde bly.
Dieselfde beginsel geld wanneer die kind ’n tweede of derde taal aanleer. Hy skryf ’n byskrif by sy tekening en vra dan die ouers / moedertaalsprekers van die taal om ook ’n byskrif neer te skryf.
- Bou legkaarte
Om letters van mekaar te onderskei, is ’n noodsaaklike leesvaardigheid. Om tussen verskeie vorms te onderskei is ’n voorloper van letteronderskeiding. Legkaarte is ideaal hiervoor.
- Ons maak ons eie boeke
Besluit saam met jou kind waaroor die boek gaan handel. Dit kan dalk verbind word met die tema wat die klas op daardie tydstip behandel, bv. Vervoer. Gesels met jou kind daaroor en besluit watter aspekte gedek gaan word, hoe dik die boek moet wees, hoe die byskrifte gemaak gaan word, wat die naam van die boek gaan wees, ens.
Die belangrikste is, die boek moet deur jou kind vir haar klas en op hulle leespeil gemaak word. Jy as ouer moet net ondersteun en stimuleer.
My kind hou nie van lees nie. Wat moet ek doen?
Lees moet ten alle tye met ’n positiewe gevoel geassosieer word. Jy kan deur jou voorbeeld jou kind se leeslus en -liefde aanwakker. Lewer kommentaar oor die kind se optrede en aksies, maar moenie dit verwar met kommentaar op die kind nie. Doen die volgende:
- Lees vir jou kind voor, selfs al kan hy self lees.
- Maak tyd vir leestyd as gesin.
- Koop vir jou kind geskikte leesstof of neem hom biblioteek toe om boeke uit te neem.
- Lees saam, byvoorbeeld die koerant.
’n Kind wie se selfbeeld opgebou word, beleef sy “mislukkings” as iets waaraan gewerk kan word en wat verbeter kan word.
So struktureer jy saamlees:
“Saamlees is nie gerig op leesonderrig nie, maar op die belewing van lees as ’n positiewe aktiwiteit. Dit sal die kind motiveer om te wil lees.”
- Kies ’n eenvoudige storieboek op die vlak van die kind – een met herhalende dele is veral geskik.
- Beperk die lengte van die leessessies.
- Sit gemaklik langs die kind met die boek oop voor julle en lees saam.
- Die ouer lees geleidelik minder en die kind geleidelik meer.
- Lees teen ’n relatiewe stadige spoed. Die kind lees die woorde of herhalende dele volgens sy vermoë en vordering. Moenie druk op die kind uitoefen om bo sy vermoë te lees nie.
- Prys die kind vir sy poging. Die kind moet glo hy kan.
- Lees dieselfde boek later weer saam. Indien die kind die keer ’n groter bydrae kan lewer, beleef hy dit as sukses.
- Na gelang die kind se selfvertroue groei, sal hy ’n groter rol in die saamlees speel en uiteindelik vir die ouer voorlees.
*Erkenning: Beeld in onderwys
Oefenvraestelle met memo’s vir alle Grade is by www.duxedmedia.com se aanlynwinkel beskikbaar. Graad 11 en 12 kan nou vir Oktober Beeldskool en NBT-kursus by www.duxedmedia.com inskryf.
Vir hulp met eksamenstres, motivering, vakkeuse, beroepsleiding, skoolgereedheid en baie ander sien www.edupsych.co.za