Henk Serfontein se kuns ontroer

Diana Ferrus: “Hoe koud het dit nie geword toe jy jou sonkamer sluit” – Henk Serfontein
Henk Serfontein is vanjaar die feeskunstenaar tydens die jaarlikse Tuin van Digters 2018 by die Breytenbach Sentrum, Wellington, die geboortehuis van die bekroonde digter en skilder Breyten Breytenbach, wat nou as multi-kulturele kultuursentrum dien.
Henk Serfontein se loopbaan strek oor 25 jaar. HANDSKRIF is sy tiende solo-tentoonstelling wat op sy bekroonde uitstalling WINTERSLAAP volg waarin hy portrette van die slapende digter Wilma Stockenström geskep het. Die uitstalling is met ’n Woordtrofee bekroon as beste visuele kunsaanbieding by die US Woordfees 2017 en ook met ’n KykNET Fiësta as beste visuele kunsuitstalling op ’n kunstefees gedurende 2017.

In die uitstalling HANDSKRIF verleng Serfontein sy samewerking met sewe bekroonde Afrikaanse vrouedigters en word visuele en konseptuele gesprekke met Antjie Krog, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler, Joan Hambidge, Wilma Stockenström en Jeanne Goosen voortgesit.
HANDSKRIF bestaan uit ’n reeks houtskool- en gemengde mediatekeninge van die sewe digters. Benewens ’n portret van elk is daar ook ’n uitbeelding van elkeen se handpalm met ’n versreël daarop.
Die versreël is deur die digters self gekies en onthul op byna onthutsende manier iets persoonlik van elke digter. Die gekose versreëls wissel van bespiegelings oor die aard van digkuns, die feilbaarheid van die woord en tot diepe bepeinsing.
Een van die eerste verwysings na die palm van ’n hand in Westerse kunsgeskiedenis is die Italiaanse skilder Caravaggio se Fortuinverteller wat in 1594 – 95 geskilder is. In die skildery maak die ingenome skilder Mario Minniti oogkontak met ’n sigeuner wat sy palm lees. Sy masseer liefderyk sy handpalm met haar regterhand terwyl haar linkervoorvinger op die palm van sy hand rus. Met nadere ondersoek besef die kyker dat sy eintlik besig is om sy ring te steel. Miskien is dit Caravaggio se kommentaar dat palmlees ’n pseudo-wetenskap is.
Serfontein vind steeds die veronderstelling dat daar verskuilde inligting in die palm van die hand lê, interessant. Die vroue is tegelyk weerloos en kragtig. Die herhaling van die leitmotiv, die hand, skep ’n ritme deur die werk waarin gesprekke tussen digters aangewakker en hul gedeelde menslikheid ontbloot word.
HANDSKRIF is Serfontein se tiende solo-aanbieding. Twee van sy solo-uitstallings is internasionaal aangebied in onderskeidelik Parys en Barcelona. Hy het al deelgeneem aan meer as 100 groepuitstallings en sy werk is in verskeie private kunsversamelings in Suid-Afrika en internasionaal opgeneem. Sy werk is ook ingesluit in die versamelings van ABSA, GENCOR, SASOL, Rand Merchant Bank, Pretoria Kunsmuseum, Tshwane University Collection, British American Tobacco, Nando’s Art Collection, Hollard en SPIER.
Die uitstalling HANDSKRIF word op 14 September om 18:00 deur die gerespekteerde digter en kunsjoernalis Johan Myburgh, by die Breytenbach Galery geopen.

* Henk het ook ’n gemeenskapsprojek geïnisieer wat hy in samewerking met die kliniese sielkundige Billy Erasmus en danser, choreograaf en dansfasiliteerder Hannah Loewenthal op 22 Oktober in die galery sal aanbied. Hulle gaan ’n teken- en bewegingswerkswinkel aanbied vir 10 kinders in die Wellington-omgewing wat aan fetale alkoholsindroom ly. Hulle hoop om hiermee bewusmaking rondom die uitdagings te verhoog en kuns as kragtige medium tot selfrealisasie te demonstreer.
Lees meer …
Aktrise weerloos vir portrette oor slaap – Die Burger
Serfontein se indrukwekkende lys van toekennings
’n Kykie na van Serfontein se skilderye wat jou vra om jou siel bloot te stel.