Afrikaans.com kry gereeld navrae oor gratis hulpmiddels vir Engelssprekende leerders wat Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) moet baasraak. Ongelukkig is die gratis hulp dungesaai en al is die meeste van die hulpmiddels nie te duur nie, wil veral onderwysers nie die ouers verder belas met ekstra uitgawes nie. Ambassadeur vir Afrikaans, Marelize Swanepoel , self ’n onderwyseres, het ’n webtuiste waar sy gratis hulpbronne deel en het vir ons die volgende nuttige riglyne saamgestel.
“Afrikaans eerste addisionele taal is my passie. Ek glo dat ek geroep is om ’n Afrikaansjuffrou te wees.” – Marelize Swanepoel
Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) is makliker as wat meeste mense dink, mits jy die nodige tyd en energie insit om dit baas te raak. Nes wiskunde, werk Afrikaans EAT met formules en stappe. Hierdie formules en stappe kan die sleutel wees om jou prestasie mee oop te sluit.
Jy moet weet dat prestasie in Afrikaans harde werk is. Dis nie genoeg om net te weet van die metodes nie, jy moet dit ook verstaan en kan toepas. Hier volg ‘n paar riglyne om jou te help:
- Afrikaans word nie geleer nie, dit word geoefen. Jy kan nie net die taalreëls lees en dink jy sal dit kan toepas nie. Nes met wiskunde, moet jy elke dag jou taalreëls inoefen.
- Die beste taalkundeformule om te verstaan is die STOMPI-formule. As jy weet hoe die Afrikaanse sin aanmekaargesit is, kan jy dit manipuleer om ander dinge ook met die sin te doen.
- Oefen die STOMPI-formule om lydende vorm, indirekte rede, ontkenning, vraagvorm, woordorde en tye in sinne reg te kry.
- Jou begripsvaardighede sal verbeter hoe meer jy lees, maar daar is iets ekstra wat jy ook kan doen. Kies kort leestekste (bv. koerantartikels, advertensies, ens.) en werk self begripsvrae daarvoor uit. Dis makliker om vrae te beantwoord as jy weet wat gevra kan word. Onderwysers gebruik Barrett se taksonomie om begripstoetse mee uit te werk. Leer wat lae-, middel- en hoë orde vrae is en wat die sleutelwoorde is om dit te herken.
- Wanneer jy vir mondelinge moet voorberei, neem ’n video van elke keer wat jy dit oefen. Dan sal jy kan sien wat jou onderwyser in die klas gaan sien. Hou aan oefen totdat jy gelukkig is met die video.
- Probeer om elke dag Afrikaans te praat met ’n Afrikaanse persoon. Moenie toelaat dat Afrikaanse mense met jou Engels praat nie. Afrikaanse kinders praat omtrent elke dag met iemand in Engels. Dit is hoe jy leer om beter te praat in Afrikaans.
- Dit mag dalk simpel klink, maar kies elke week 20 woorde (dit hoef nie moeilike woorde te wees nie – kyk vir woorde wat elke dag gebruik kan word), leer hul definisies en in watter konteks hulle gebruik kan word. Gebruik hierdie 20 woorde die hele week en kry nuwe woorde die week daarna. Dit sal help om ’n persoonlike woordeboek op te bou met jou 20 weeklikse woorde.
- Met poësie leer jy nie gedig vir gedig nie. Leer van beeldspraak, stylmiddels, strofebou en versreëls. Leer die sleutelwoorde van die terminologie en maak dit van toepassing op die gedigte wat vir jou gegee word.
Afrikaans EAT kan ’n baie lekker en maklike vak wees as jy al die werk insit om dit te leer. Hoe eet jy die Afrikaanse olifant? Happie vir happie.
Hier gaan jy beslis geholpe raak
Juffrou Marelize Swanepoel het ‘n magdom GRATIS hulpmiddels beskikbaar gestel vir enigiemand wat bereid is om die harde werk in te sit om Afrikaans EAT baas te raak. Hierdie webtuiste fokus hoofsaaklik op metodiek; metodes om Afrikaans EAT beter te verstaan. Klik hier.
Waar kan ek nog hulp kry?
- onniesonline.co.za – hulpbronne (gratis en betaal)
- https://myklaskamer.com – drukbare bladsye (goeie bron vir remediëring)
- https://learn101.org/afrikaans-grammar.php – taalkundereëls wat in Engels verduidelik word.
- easyafrikaans.com – taalkundereëls wat in Engels verduidelik word.
Wat is STOMPI?
Dit is die formule om te gebruik om ’n sin in verskillende dele op te breek.
S(ubject); T(ime); O(bject); M(anner); P(lace); I(nfinitive). Vir ’n volledige verduideliking, kyk hier.


Wat is Barrett se taksomonie?
Dit is ’n metode wat gebruik word om begripstoetse uit te werk en kom kortliks op die volgende neer:
Vlak 1 – Letterlik: Die feite is duidelik in die teks.
Vlak 2 – Herorganisering: Som op, gee ’n definisie, ontleed, ens.
Vlak 3 – Afleiding: Reageer op inligting wat geimpliseer word en nie duidelik in die teks staan nie, m.a.w. maak ’n afleiding.
Vlak 4 – Evaluering: Jou eie mening.
Vlak 5 – Waardering: Leerder se emosionele reaksie op die inhoud, identifisering met karakters, ens.
Vir die volledige Powerpoint-aanbieding soos verkry op Taalarsenaal klik hier.