

Daar het onlangs ʼn sewende volume van Derrich Gardner en RSG se Vat Vyf- CD verskyn. Alita Steenkamp het by die vriendelike omroeper gaan inloer.
“Goeiemore Suid-Afrika!” Dis die warm stem van Derrich Gardner wat elke Saterdagoggend RSG-luisteraars dagsê met hierdie vriendelike groet. Oor die jare het Brêkfis met Derrich ʼn belangrike deel van baie Suid-Afrikaners se Saterdagoggendritueel geword. Derrich het nou maar eenmaal die vermoë om jou tuis in sy geselskap te laat voel, so byna asof hy aan die oorkant van die kombuistafel sy eerste koppie koffie in jou geselskap geniet.
“Die oomblik wat ek in die ateljee instap en ek sit die mikrofoon aan en sê: “Goeiemore”, dan weet ek daar is iemand wat luister. Jy weet jy saai vir daardie een mens uit. Dit maak ons werk so ongelooflik lekker.”
Derrich vertel dat hy eintlik sy hele lewe lank ʼn omroeper wou word en dat die Randse Afrikaanse Universiteit, deesdae die Universiteit van Johannesburg, sy eerste keuse was juis omdat die universiteit ʼn kampusradio gehad het. Na afloop van sy studies het hy ʼn stemtoets by die ou Radio Hoëveld, wat mettertyd Highveld Stereo sou word, afgelê en geslaag. Hy is egter nie sommer daar en dan agter die mikrofoon ingespan nie, maar moes eers ʼn hele paar kursusse voltooi voordat hy toegelaat is as uitsaaier.
ʼn Belangrike deel van die sukses van Derrich se oggendskof op Saterdagoggende, is die Vat Vyf-insetsel elke week. Dan kry luisteraars die geleentheid om hulle vyf gunstelingliedjies uit te kies. Die luisteraar gesels dan met Derrich op die lug en vertel waarom elkeen van die liedjies ʼn spesiale plek in sy of haar lewe het.

Derrich saam met Wynand, Cheree en Anton Goosen (Foto: verskaf)

“Die rede waarom Vat Vyf so besonder gewild is, is omdat die luisteraars hulle kan vereenselwig met die stories wat vertel word en die liedjies wat gekies word. Ek is telkemale verbaas oor die keuses wat mense vir my stuur. So leer ek elke keer nog iets van musiek. Partykeer ken ek nie eers ʼn liedjie nie en dan moet ek dit gaan soek. RSG se luisteraars val in die kategorie van mense met die hoogste kwalifikasies in die land en daarom moet ek baie goed navorsing doen. Jy kan nie die RSG-luisteraars om die bos lei nie,” vertel Derrich.
Hy vertel dat hy vir baie jare in Engels uitgesaai het voordat hy die pos by RSG gekry het. Dit was aanvanklik ʼn uitdaging, want sodra hy ʼn fout begaan het, sou een of ander luisteraar hom sommer oor die vingers tik. Hy lag en sê toe hy die eerste keer die woord “gatskop” op RSG gebruik het, het dit die luisteraars effe onkant gevang. Nou het dit gelukkig al ʼn algemene woord in die Afrikaanse woordeskat geword, en het Afrikaans beslis meer loslit geword.
“Afrikaans lê my na aan die hart, want dit is my moedertaal. Ek het egter in ʼn dubbelmedium-skool skoolgegaan en is net so vaardig in Engels. Tog dink ek Afrikaans is besonders, want ʼn mens kan jou net soveel beter uitdruk in Afrikaans. Wanneer ʼn mens deesdae uitsaai, kan jy natuurlik ʼn hogere Afrikaans gebruik, maar dan gaan jy beslis ʼn deel van jou gehoor vervreem. Mense praat net nie meer so ʼn stywe Afrikaans soos vroeër nie,” sê Derrich.

Derrich saam met Saarkie se meisies (Foto’s: verskaf)
Sy huis is in Northcliff Koppies wat uitkyk op die hele Johannesburg. Hy is besonder lief vir tuinmaak en vertel dat sy tuin soos ʼn stukkie toegegroeide woud in die stad lyk. Daar is altyd wonderlike voëls wat kom inloer om iets te ete te kry, en daarom lê daar ook altyd drie kameras gereed, reg vir aksie. Fotografie is nog een van sy stokperdjies en van sy foto’s wat hy van die Johannesburgse stadskim geneem het, is waarlik asemrowend.
Derrich is baie trots op die splinternuwe Vat Vyf-CD wat nou in die handel beskikbaar is. Hierdie is die 7de Volume van Vat Vyf wat deur David Gresham Records uitgegee word. Dit beklee tans die vyfde plek op die Suid-Afrikaanse Top 20.
Sy liefde vir musiek …
“Musiek gee beslis kleur aan jou lewe en volkleur aan jou siel. Met elkeen van hierdie Vat Vyf-CD’s moes ek baie moeite doen om die meesteropnames van sekere van die liedjies in die hande te kry. Gelukkig het die Internet die wêreld vir ons klein gemaak en via Facebook of die Internet kon ek van hierdie kunstenaars of platemaatskappye opspoor om die nodige toestemming te kry. Dit is die tipe moeite wat jy móét doen, want anders het jy net ʼn gewone CD in die mark met ʼn klomp liedjies daarop. ʼn Album sonder siel,” sê Derrich.
Oor die wenresep wat hy op Saterdagoggende beet het, draai Derrich geen doekies om nie. Jy moet jou gehoor ken, en deel raak van die gehoor sodat jy kan weet wat mense wil hê, sê hy. Op ʼn Saterdagoggend sal hy nie sommer oor politiek of sport praat nie, want daar is ander programme wat dit doen. Hy het al geleer dat mense net wil wegkom en met al die verskillende gereelde gaste op sy program wat oor tuinmaak, omgewingsake, fotografie, motorkarre en so meer gesels, raak dit altyd ʼn heerlike kuieroggend.
Hierin vind hy sy vreugde
Waarin lê die vreugde van uitsaai vir Derrich, wonder ʼn mens. “In daardie eerste koppie koffie vroeg in die oggend,” spot hy, maar voeg vinnig by dat dit sommer ʼn grap is. “Die oomblik wat ek in die ateljee instap en ek sit die mikrofoon aan en sê: “Goeiemore”, dan weet ek daar is iemand wat luister. Iemand wat spesiaal is. Jy weet jy saai vir daardie een mens uit en hy is jou beste vriend. Dit maak ons werk so ongelooflik lekker.”


WEN ‘n CD!
Baie dankie aan RSG wat vir ons vyf Vat vyf-CD’s skenk om weg te gee. Stuur ‘n e-pos aan myafrikaans@afrikaans.com en vertel ons in ‘n sin watter Afrikaanse liedjie laat jou een van jou gelukkigste oomblikke onthou.