LitNet het ʼn tyd gelede begin om inligting en programme van leeskringe in Suid-Afrika in te samel en te publiseer. Die doel hiermee is om ʼn groter bewustheid van verskillende leeskringe reg oor die land, en hulle aktiwiteite te deel. Op die wyse kan mense aangemoedig word om by bestaande leeskringe aan te sluit. LitNet beplan ook om in die toekoms materiaal aan leeskringe te verskaf om hulle te help met die boekbesprekings.
In Mei vanjaar het LitNet ʼn kompetisie bekendgestel en almal uitgenooi om inligting van hulle leeskring te deel. In die uitnodiging is ʼn wonderlike boekpakkie met ses boeke deur NB-uitgewers beloof aan een gelukkige leeskring wat betyds sou reageer met die nodige inligting.
Op 20 Julie is aangekondig dat die Rustenburgse leeskring uit 78 leeskringe wat hulle inligting gestuur het, gekies is as die wenners van die boekpakkie. Die boeke wat die Rustenburgers gewen het, is: Ys – Rudie van Rensburg; Die Dao van Daan van der Walt – Lodewyk C du Plessis; Die Afrikaners – Hermann Giliomee; Dors – Marinda van Zyl; Radbraak – Jolyn Phillips en Die ou vrou en die priester – Cecile Cilliers.
Micky Badenhorst, die koördineerder van Rustenburg Leeskring vertel dat hierdie leeskring al sedert 1974 bestaan en tans is daar tien lede wat maandeliks saamkuier om ʼn boek te bespreek. Die destydse burgemeestersvrou, Bets Hattingh, het die skrywer Audrey Blignault in 1974 genader. Sy wou graag ʼn leeskring vir Rustenburg stig en Audrey het sommer by Bets-hulle kom oorslaap. Die leeskring is gestig en vir baie jare het Bets aan die stuur van sake gestaan. “Ek was nie toe al lid van die leeskring nie, maar het wel mettertyd lid geword. Op ʼn dag het Bets my gevra of ek nie so ʼn bietjie die leiding wil neem nie en ek het dadelik ingestem. Daar is ongelukkig nie meer een van die oorspronklike stigterslede deel van ons groep nie, maar ons is ʼn heel nuwe groep wat eenmaal per maand heerlik kuier om ʼn boek. Bets het ʼn paar jaar gelede na Rawsonville verhuis,” sê Micky.
Sy vertel dat sy verlede week ʼn e-pos van Liné Enslin van LitNet gekry het waarin sy die goeie nuus meegedeel is. Daar en dan het sy die ander lede van die leeskring laat weet dat hulle leeskring die boekprys gewen het en dat die boeke op pad is.
“Volgens tradisie bespreek ons nie in Julie of Desember saam ʼn boek nie, want dit is die maande waarin ons kan lees wat ons wil. Ons kom weer aan die einde van Augustus bymekaar en dan sal prof Hans du Plessis met ons gesels oor sy boek Drie Vroue en ʼn Meisie. Tydens die geleentheid sal ons sommer ʼn foto van ons leeskring saam met ons boekprys neem. Dit is voorwaar ʼn heerlike geskenk en ons is baie dankbaar teenoor LitNet,” sê Micky.
Voor van links na regs: Laura van Vuuren, Sproetie van den Bergh, Lennard le Roux (spreker, Bo is dit stil deur Gerbrand Bakker) en Bettie Rossouw | Agter van links na regs: Elsie Baard, Bettina Terblance, Theresa Lodewyck en Micky Badenhorst (Foto: LitNet)