Vir drie jaar lank het Kim Cloete weeksaande by ons gekuier as Binnelanders se Bronwyn Abrahams, maar nou is dit tyd vir ʼn nuwe uitdaging. Alita Steenkamp het met haar gesels.

Daar is akteurs wat jaarin en jaaruit gemaklik voel in dieselfde rol by ʼn sepie, en die stabiliteit en sekerheid daarvan verkies. Dan is daar dié wie se voete na ʼn rukkie begin kriewel. Kim Cloete hoort in die laaste kategorie. Na drie jaar by Binnelanders het die wanderlust te veel geword en het sy ʼn nuwe geleentheid aangegryp. Op Dinsdagaand 10 Julie het die splinternuwe drama, Fynskrif, op kykNET afgeskop. Fynskrif, geskryf deur Louis Pretorius en Albert Snyman van Die Boekklub-faam, handel oor ʼn klomp prokureurs in die regsfirma Van Wyk & Vennote en beloof om propvol drama en komedie te wees. In hierdie drama vertolk Kim die rol van Anne Matthews, een van die prokureurs.
“Een van die redes waarom ek weg is uit Binnelanders, skryf ek toe aan ʼn ding genaamd FOMO: The fear of missing out! Ek ervaar dit nogal erg hoor, ek is altyd bang ek mis uit op goed wat nog nie eers gebeur nie.” Sy lag en voeg dan by dat sy heeltemal te vry is om so vas te wees. “Die tyd by Binnelanders was wonderlik met fantastiese mense. Ek sou nooit by enige ander sepie so lank kon uithou soos by Binnelanders nie. Ek het heerlik saam met Clint (Brink) gewerk, dit was ʼn wonderlike span en dan het ek sulke juicy storielyne gehad. Maar nou ja, ek is ʼn bietjie van ʼn gypsy en het altyd jeukvoete!”


Vir die tydperk waarin Fynskrif verfilm is, moes sy haar huis in Johannesburg tydelik verruil vir die Kaap. Die reeks is in Stellenbosch en Somerset-Wes geskiet. Hoewel Kim oorspronklik van die Kaap is, het sy nou nes geskrop in Johannesburg en sy en haar lewensmaat, die akteur Murray Todd, het onlangs saam ʼn huis in een van Johannesburg se rustige voorstede gekoop. Tans is hulle hard besig met opknappings aan die huis. Wanneer sy nie besig is om verf of teëls of kussings uit te soek nie, ruim sy op agter die twee Pitbullhondjies wat hulle onlangs by ʼn diereskuiling aangeneem het.
“Ek het nooit gedink ek sal so involved raak en so smoorverlief word op twee diere nie. Moenie glo hulle is engeltjies nie. Die twee vreet alles wat hulle sien. Toe ek onlangs na twee weke uit Kaapstad by die huis gekom het, moes ek sien dat hulle die hele armleuning van my bank opgevreet het. Jy kon die hout aan die binnekant sien! Die ergste is toe hulle my so aankyk so asof hulle wonder waaroor ek dan nou so ʼn bohaai maak,” lag Kim.
Kim bely dat sy ʼn aktivis is oor sekere taalkwessies. Sy en Clint, wat die rol van dr. Steve Abrahams speel, is op Facebook gekritiseer oor die Kaapse Afrikaans wat hulle praat. Kim vertel dat sy nie stil gebly het nie, maar verduidelik het dat die Afrikaans wat sy praat, die Afrikaans is wat haar oumagrootjie gepraat het, en die Afrikaans wat haar ma steeds praat. Sy glo vas niemand het die reg om voor te skryf wat reg en wat verkeerd is rakende die uitspraak van Afrikaans nie.
“Ek is so ʼn bietjie verby die stadium van hoe om aanvaarbaar te klink, you know!” sê sy beslis. “Afrikaans is ʼn mengelmoes van tale en ek dink nie enigiemand besit die taal nie. Jy kan tog nie eienaarskap van ʼn taal neem nie. Nadat ek met geskiedkundiges gesels het om te hoor wat die oorsprong van Afrikaans is, verstaan ek presies waar dit vandaan kom. Toe die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig is, was daar al klaar ʼn tipe Afrikaans wat in die Kaap gepraat is. Om nou nog te wil hê almal moet ʼn Standaardafrikaans praat, werk net nie meer nie. In elk geval wie se standaard is die maatstaf?”
Kim dra meer as een hoed
Vir Kim bly dit lekker om in Afrikaans te werk. Dit is immers die taal waarin sy grootgeword het. Haar hele loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf was by kykNET en daarom het sy altyd die geleentheid gehad om in Afrikaans te kan werk as akteur en aanbieder. Sy werk tans aan die ontwikkeling van twee rolprente. Saam met Handrie Basson en Yvonne Chaka is sy ʼn vennoot in Afrokaans Film and Television, ʼn vervaardigingshuis wat televisiereekse en rolprente maak. Een van die rolprente is gebaseer op die toneelstuk Invisible waarin Vinette Ebrahim gespeel het. Vinette, wat soos ʼn ma vir Kim is, het ook die stuk geskryf. Die ander projek pak hulle saam met Kim Brink en Ricardo Arendse aan. Vir haar is dit heerlik om soms die hoed van ʼn skrywer op te sit, en ander kere weer die van vervaardiger of akteur.
Ken jou herkoms
By die huis sal jy dikwels vir Kim in die kombuis kry, besig om een of ander smaaklike dis op te tower. Sy vertel dat sy ʼn paar jaar gelede besluit het om haar DNA te laat toets om vas te stel waar haar voorgeslagte vandaan kom. Kim sê sy was altyd vas oortuig dat sy Khoi-San bloed in haar het, maar is toe aangenaam verras deur die toetse se uitslae. Daarvolgens kom sy van ʼn stam wat aanvanklik in die Noordoostelike deel van Afrika, in Egipte, gewoon het. Die stam het gemigreer na die subkontinent Indië en is toe van daar na die Ooste waar hulle uiteindelik in Indonesië geëindig het. Van hier is hulle weer na die suidpunt van Afrika.
“Toe ek dit hoor kon ek vir die eerste keer verstaan waarom ek so ʼn voeling het vir sekere Oosterse smake en geure in my kos. Ek is baie lief om sommer net met ʼn gereg te eksperimenteer, sonder enige resep. Partykeer werk dit, ander kere glad nie,” sê sy.
Wanneer ʼn mens met Kim gesels, raak jy bewus van ʼn rustigheid by haar, maar ook ʼn lewenslus en -vreugde wat jy nie kan miskyk nie. Sy vertel dat dit harde werk gekos het om by hierdie plek uit te kom. Verlede jaar het sy vir die eerste keer angsaanvalle ervaar. Haar kop was toe op ʼn goeie plek weens haar verhouding met Murray, maar haar lyf het geprotesteer teen jare se ontkenning. Teen jare van ʼn gespook net om te oorleef. Haar keuse het geval op transendentale meditasie as ʼn vorm van terapie. Hierdie was vir haar ʼn wonderlike manier om agter te kom dat ʼn mens nie net kop en gedagtes is nie, maar ook ʼn lyf het wat jou tempel is en waarna jy moet omsien.
“Vir die eerste keer is ek op ʼn plek in my lewe waar ek geleer het om asem te haal,” sê Kim. Ek is op ʼn plek waar ek besef dit is okay om stil te word, en waar ek myself toestemming gee om happy te wees. Ek kan nie vir beter vra nie!”

Vinette Ebrahim en Kim Cloete (Foto: Lig)

Clint Brink en Kim Cloete in Binnelanders (Foto: verskaf)

Kim Cloete, afgeneem deur Phyllis Green (Netwerk24)