Hoërskool Tafelsig hou trots ons taal en kultuurstories aan die lewe
Te midde van baie sosiale en ekonomiese uitdagings staan Hoërskool Tafelsig trots binne sy gemeenskap as ‘n baken van hoop en inspirasie.
“Met insette deur René (Arendse) van Afrikaans.com, Ria Olivier van die ATR, ek self as die projekbestuurder van die Moedertaalinisiatief, en dan natuurlik die bom van ‘n HemelBesem, kon ’n mens letterlik ervaar hoe die leerders se koppe swaai – rigting AFRIKAANS. En was die leerders nou vir jou opgewonde oor Afrikaans!” So vertel mnr. David Jantjies, projekbestuurder van die Moedertaalinisiatief na sy ervaring by Hoërskool Tafelsig se muuronthulling op Vrydag 27 Julie 2018.
Daar was groot opwinding by die skool op die dag van die onthulling, veral ook omdat dit Afrikaans.com se eerste muurkunsonthulling in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte is. Hoërskool Tafelsig is een van die min skole wat nog Afrikaans as moedertaalonderrig aanbied.
’n Mens kon die opgewondenheid aanvoel en dit was duidelik dat die leerders met groot aandag die dag se program geniet het. Die program is deur Afrikaans.com, die ATR en die Moedertaalinisiatief aangebied. Die bekende rymkletser en aktivis vir Afrikaans, Simon Witbooi (HemelBesem), het met sy kragtige boodskap oor taal en identiteit nie net die leerders nie, maar ook die onderwysers en beheerliggaamlede aan sy lippe laat hang.
HemelBesem inspireer die leerders om trots te wees om hulle taal en identiteit. Hoërskool Tafelsig se verteenwoordigende leerderraad.