
Annemarie van der Walt
‘n Verhaal oor vriendskap
Die bekende skrywer van Kaapsehoop, Annemarie van der Walt, se debuuttoneelteks, Soebatsfontein, debuteer vanjaar by Innibos. Alita Steenkamp het met haar gesels.
Met haar fyn kyk na die lewe en haar vermoë om die Afrikaanse taal vernuftig in te span en keurig te plooi, skep Annemarie van der Walt keer op keer ʼn teks wat ʼn mens bybly. Oor die afgelope 14 jaar het sy veral bekendheid verwerf vir haar rubrieke in dagblaaie. Annemarie en haar dogters, Rikarda en Anke, het in 2004 die besige stadslewe van Pretoria verruil vir die Laeveldjuweel Kaapsehoop. Sy het vir ʼn paar jaar lank ʼn boekwinkel in Nelspruit bestuur, maar die afgelope tyd is haar kantoor haar kunstige huis op Kaapsehoop. Van hier kan sy maklik met Luna, haar Switserse herdershond-kruising, in die woude verdwyn. Dis juis tydens hierdie stapsessies wat haar stories in haar kop vorm aanneem en in ʼn bepaalde rigting gestuur word.
Annemarie is ook die afgelope paar jaar die projekbestuurder vir die Innibos-kunstefees se boekprogram. Reg deur die jaar is sy benewens die skryf van haar rubrieke, ook besig met die skryf van persvrystellings vir Innibos en om die boekprogram van die fees aanmekaar te sit.
‘n Gedugte span

Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel in Soebatsfontein

Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel
Vanjaar se Innibosfees is egter om ʼn ander rede ʼn besonderse jaar vir Annemarie. Haar debuutverhoogteks, Soebatsfontein, is deel van vanjaar se feesprogram met twee uitstaande aktrises in die hoofrolle: Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel. Annemarie vertel dat die vervaardiger Giep van Zyl nou al ʼn paar jaar aan haar karring om een van haar rubrieke in ʼn verhoogteks te omskep. Philna Scholtz, Innibos se bestuurder van Produksies, het op haar beurt ook bly vra vir ʼn teks. Aan die einde van verlede jaar, toe daar ʼn mate van asemhaalkans vir Annemarie was, het sy ingespring en begin skryf. Soebatsfontein handel oor twee sielsvriendinne wat op reis is in die Noord-Kaap en in ʼn klein hotelletjie op Soebatsfontein oornag. Wanneer die slot van hulle kamer afbreek en hulle gevange hou, bied dit ruimte vir ʼn ontboeseming van albei kante. Die teks slaag uitstekend daarin om die belangrikheid van vriendskap uit te beeld en te besin oor die kontras tussen vryheid en om ingeperk te wees.
Annemarie bieg dat sy so half met opgehoue asem wag om te sien hoe die produksie ontvang gaan word. Afgesien van die twee besonderse akteurs in die produksie, staan Philip Rademeyer, ʼn baie knap regisseur, aan die stuur van sake. “Dis ʼn groot onbekende vir my. Toe ek uiteindelik besluit het om wel my hand aan ʼn verhoogteks te waag, het ek gaan sit en die dramas op my boekrakke weer gelees; tekste soos Chris Barnard se Die Twaalfuurwals en PG du Plessis se Siener in die suburbs. Ek het alles gelees wat ek op die Internet kon kry oor teksskryf en het toe aan die werk gespring.
“Alhoewel die gebeure fiktief is, het iets soortgelyks eenmaal met my gebeur toe ek in die dorpie Karasburg myself per abuis in die hotelkamer toegesluit het. Daardie gevoel van verlatenheid sal ek nooit vergeet nie en dit was lekker om so iets te kon gebruik as die vonk vir die skryf van die teks. Die grootste werk was egter die herskryf. Uiteindelik was daar vier weergawes voordat dit gefinaliseer is. Die kenners sê mos altyd: “Kill your darlings” en met die vierde herwerk spring die foute sommer uit,” sê sy.
Annemarie sê ook dat dit vir haar ʼn lekker gedagte is dat haar teks juis by Innibos debuteer. “Ek is baie dankbaar vir die feit dat die Innibos-bestuur in my belê het en my die gaping gegee het om ʼn teks te ontwikkel. Soebatsfontein is ook op pad na die Vrystaat Kunstefees en die Kalfiefees en daaroor is ek ook baie bly. My grootste wens is dat mense sal aanklank vind by die temas in die stuk: Die kwessie van hoe waardevol ʼn vriendskap is en hoe die liefde hopelik die verskille kan oorwin. Vir my lê die grootste bevrediging van skryfwerk in die kere wanneer ek hoor dat iemand aanklank gevind het by dit wat ek geskep het. Ek hoop dat dit ook met Soebatsfontein sal gebeur.”
Soebatsfontein speel op Woensdag 27 Junie om 10:00, Donderdag 28 Junie om 19:00, Vrydag 29 Junie om 18:00 en Sat 30 Junie om 10:00 by Laerskool Nelspruit.
Tydsduur: 65 min Prys: R142
*Die artikel het ook in die Laevelder verskyn.