
Thys en Trix – Die film
Eers was daar Jagveld, toe Vuil Wasgoed en nou het Suid-Afrika se eie goue filmpaartjie, Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch weer saamgewerk om vir ons die skaterlag aksiekomedie Thys en Trix te bring.
In dié film speel die twee getroudes broer en suster en ook ywerige, maar onbeholpe polisielede. Hulle onderlangse twis veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens wéér in die verleentheid stel. Speurder Solomons ondersoek die bedrywighede van ’n misdaadsindikaat in ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai. Vanweë hul ‘vanilla-voorkoms’ word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek meer geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie. Is enige van Thys en Trix se nuwe bure moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusineringsmiddel?
Kyk hier na die lokprent van Thys en Trix:

Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch by die première van Thys en Trix. (Foto’s verskaf)
Die skobbejak – die les in elke rol – Ivan Zimmermann vertel …
Ivan Zimmermann weet hoe om enige rol te speel, van ’n doodgoeie ridder van ouds, tot ’n skobbejak … en nou ook ’n boheemse misdaadverdagte in die aksieprent, Thys & Trix, wat eersdaags begin wys. Annelien van Basten gesels met hom oor watter lesse hy oor die jare geleer het.
Alhoewel hy vir so ’n rukkie uit die kollig verwyn het om van sy ander passies en drome na te jaag, is Ivan Zimmermann beslis nie ’n onbekende gesig op die verhoog, kassie of silwerdoek nie.
Sy loopbaan het in 1999 afgeskop en sedertdien het hy al gesig gewys in talle teaterstukke, advertensies, televisiereekse en sepies (7de Laan, Egoli, Vlug Na Egipte, Dit Wat Stom Is) en op die grootskerm (Platteland, Verraaiers, Die Spook van Uniondale). Vanaf 22 Junie 2018 is hy ook te sien in Bouwer Bosch en Leandie du Randt-Bosch se nuutste fliek in die rol van Ben Marais, ’n sjarmante en vriendelike hippie wat met June (Chanelle de Jager) getroud is.
Hierdie stil, talentvolle akteur, wat sukkel om stil te sit, verklap meer oor sy nuwe rol, hoekom hy uit die kollig was en ook wat toneelspel hom sover geleer het.
Jy was so effens uit die kollig die afgelope ruk, vertel ons waarmee jy besig was?
“Ek het van my ander drome begin waar maak deur fietsryekspedisies, wat kontinente oorkruis, aan te pak. Ek het van Kaïro tot in Kaapstad gery, asook Beijing tot in Istanbul. Dit vat redelik baie tyd en energie. Binnekort word die kort dokumentêr oor die laaste ekspedisie aanlyn vrygestel.”
Watter lesse het jy oor die jare geleer by die karakters wat jy moes vertolk?
By Ben (Thys & Trix) het ek geleer hoe belangrik dit is om sorgeloos te wees. Mike Davel (Dit Wat Stom Is) het my herinner om nooit te vergeet waar jy vandaan kom nie. Johan in Die Spook Van Uniondale het my laat besef dat ons almal maar net sandkorrels in ’n baie groot woestyn is, terwyl Koert (Egoli) my laat besef het dat dit okay is om net jouself te wees. ’n Karakter wat ek in die teaterstuk, My Aand Met Arné, gespeel het, het my aangemoedig om sonder vrees te lewe.”
Die Afrikaanse vermaakbedryf beleef tans baie voorspoed, wat beteken dit vir jou as iemand wat in die bedryf werk?
“Dit is ’n nuwe, jonger generasie wat nou die vermaakbedryf oorheers en ek is trots om te sien hoe almal saamtrek en kwaliteitproduksies op die planke bring. Dit is baie soos dit was 18 jaar terug toe ek begin het. Nou maak ek seker dat ek na my toekoms kyk en speel ’n rol wanneer dit daar is en wanneer ek kan.”
Hoekom dink jy wil kykers graag flieks in hulle moedertaal sien?
“Dit is beter om te verstaan. Die agtergrond, die humor en die psige van die karakters.”
Vertel ons meer van die karakter wat jy in Thys & Trix speel.
“Ben is getroud met June. Hulle is die “swingers” van die golflandgoed en verdagtes in die saak wat deur Thys en Trix opgelos moet word. Ben is vry. Ben het geen grense nie. Ek dink mense gaan juis van hom hou omdat hulle dalk graag soos hy sou wou leef.”
Hoekom moet mense die fliek gaan kyk?
“Dit is ’n baie goeie teks en storie. Dit is ’n oorspronklike Afrikaanse komedie met goeie regie en goeie spel van ervare akteurs.”
Jy het nou al die goeie ou en die skurk gespeel – wat verkies jy en hoekom?
“Albei. ’n Nuwe karakter is altyd ’n nuwe uitdaging. Ek probeer altyd om nie een karakter dieselfde te speel nie, en om soveel moontlik dimensies in te sit as wat ek kan.”
Saam met watter Afrikaanse ster sou jy nog graag wou werk en hoekom?
“Neil Sandilands, want dan sal die sale vol wees.”

Foto: Dehan Janse van Rensburg
Buiten vir Bouwer, Leandie, Chanelle en Ivan, is Brendon Daniels, Zak Hendrikz, Charlie Bouguenon, Dorette Potgieter, Deon Coetzee en Carine Rous ook in dié rolprent te sien wat in samewerking met The Film Factory SA vervaardig is. Moet dit nie mis nie!
Sedert Leandie en Bouwer in 2015 in Potchefstroom afgehaak het, het die twee verskeie suksesvolle silwerskermprojekte aangepak en uitgevoer en wil dit blyk of dié twee nie net liefde nie, maar ook uitstekende werkvennote in mekaar vind.
Petronell Vorster het names Afrikaans.com met die paartjie gesels oor hul nuutste film, hul verhouding en watter rol hul huwelik in hul sukses speel.
Thys en Trix volg op ‘n reeks silwerskermprojekte waarby julle al twee betrokke was (Jagveld, Vuil Wasgoed). Geniet julle dit om saam te werk? Is daar voor- en nadele om saam met jou huweliksmaat te werk?
Bouwer: Ja, ek dink wat Jagveld en Vuil Wasgoed anders maak, is dat ons met Jagveld net akteurs was en ek en Leandie het net twee tonele saam gehad en met Vuil Wasgoed was Leandie nie deel van die vervaardiging nie, so ons het eintlik maar min saamgewerk. Met Thys & Trix was ons albei egter vervaardigers en akteurs in die film. Ek weet nie eintlik of dit voordelig of nadelig is om saam te werk nie om eerlik te wees. Ek dink ons albei besef dat die kunste en die rolprentbedryf ‘n werk is en ek dink ons besef dat jy daar is om die projek te voltooi. Ek dink persoonlikhede speel ook ‘n rol, dit maak sin dat sommige mense nie sal wil saam werk nie, want ander kante van jou persoonlikheid kom na vore wanneer mens werk. Wat lekker was van Thys en Trix is dat ons mekaar kon leer ken onder druksituasies of wanneer goed skeef loop op stel. Dit was definitief ‘n verrykende ervaring.
Leandie: Dit is natuurlik vir my lekker om saam met my man te werk! Die grootste voordeel is dat ons heeltyd bymekaar is, maar ook dat ons mekaar op ander vlakke ook goed leer ken. Min mense wat getroud is werk saam, so mens leer nie sommer daai kant van jou huweliksmaat ken nie. Ons het dit verfrissend en insiggewend gevind om mekaar se werkkante te leer ken. Die nadeel is as mens byvoorbeeld die aand voor die tyd by die huis vasgesit het en jy moet dan saam gaan werk en professioneel wees en heeltyd in mekaar se geselskap wees … Om spasie te skep om sulke situasies te oorbrug, kan moeilik wees.
Hoe verskil die dinamika tussen Leandie en Bouwer by die huis en Leandie en Bouwer op stel van mekaar?
Bouwer: Ek dink op stel moet jy verskillende rolle vervul. Jy is akteur, maar ook vervaardiger. Ek dink op stel is ek baie meer teruggetrokke en laat almal hul ding doen tot wanneer ek benodig word. By die huis dink ek is ek baie meer ‘n ekstrovert. Op stel is jy daar om te werk en om die film en die span te dien, en jy probeer maar altyd hul behoeftes bo joune stel.
Leandie: Ons probeer altyd om ’n plek van vryheid en spasie vir mekaar te wees. So ongeag waar ons is, by die huis of werk, ons probeer sensitief wees teenoor mekaar se behoeftes en ons skep kompromieë rondom wat in die oomblik gebeur. So ons dinamiek sal dan daarvolgens afhang, maak nie saak waar ons is nie.
Bouwer, jy sorg gewoonlik vir komiese verligting ongeag van die rol wat jy vertolk, terwyl Leandie bekend is vir die uitstekende vertolking van meer ernstige karakters. Watter rol speel jul eie persoonlikhede in die karakters wat julle kies om te vertolk? Bouwer is jy die grapjas in jul verhouding en is jy die meer ernstige een van die twee, Leandie?
Bouwer: Ek leen definitief baie keer meer na die komiese rigting. In my persoonlike lewe sowel as op stel of wanneer ons iets moet skiet. Ek dink daar is ‘n kant van my wat soms baie ernstig kan wees, maar nie in ‘n negatiewe manier nie. Ek dink sommige goed wat vir my belangrik is om aan te roer, sal ek met baie conviction doen en dan maak dit my soms meer ernstig, maar dis net omdat ek meer passievol is oor sekere goed. Thys is baie soos ek in die sin dat hy ook naïef is en dat sy intensies op ‘n goeie plek is, maar sy uitvoering of aksies is soms problematies.
Leandie: Vir my is dit belangrik om karakters te speel wat uitdagend is en verkieslik bietjie anders as wat ek in die regte lewe is. Maar, soos met enige rol is daar altyd ‘n bietjie van jouself in elke rol. Ek en Bouwer is al twee by die huis (en soms in die publiek) terggeeste met mekaar, maar in die rolle wat ons vertolk, sal ek altyd eerder ernstig en inspirerende rolle aanpak waar Bouwer komedie gebruik om by mense uit te kom. Hy is nou maar net ‘n geniale komediant in my oë en ek probeer elke dag by hom iets leer. Bouwer is die introvert in ons verhouding en hy hou nie van groot groepe mense en uitgaan nie, waar ek weer die ekstrovert is wat mal is oor groot groepe mense en om sosiaal te verkeer. Ek is ook meer georganiseerd en beplan meer as Bouwer terwyl hy meer spontaan en aanpasbaar is.
Julle is as’t ware aan die voortou van die vernuwing in die Afrikaanse filmbedryf … En het selfs met Jagveld gesorg vir Suid-Afrika se eerste misdaadriller op die silwerdoek. Hoe voel julle oor die ontwikkeling wat oor die afgelope paar jaar in die bedryf plaasgevind het. Beskou julle julself as pioniers?
Bouwer: Jagveld was ‘n ongelooflike projek, maar dis belangrik dat mense weet ons was net akteurs en ons was nie deel van die vervaardigingspan nie. Tim Theron, Cobus van den Berg, Deon Meyer, Amalia Uys en Dioni Kempen en regisseur Byron Davis was die mense agter daai film. Dit was inderdaad ‘n eerste en ek dink wat baie humbling is, is om te kan sê dat jy deel was van sulke projekte. Ek dink die filmbedryf is op ‘n baie lekker plek op die oomblik en ons is besig om ‘n lekker verskeidenheid van stories te vertel. Ek dink nie noodwendig ons is pioniers nie, ek dink ons bou maar net verder aan die fondasie wat deur die vorige generasie filmmakers gelê is.
Leandie: Ek is glad nie ‘n pionier nie. Ek het nog net Thys en Trix help vervaardig en selfs daarin het ek maar ‘n klein hand so, nee. Ek voel wel ons het unieke en vars uitkyke op die lewe en die bedryf, en dit kom sekerlik deur in die keuse van films wat ons maak en waarvan ons kies om deel te wees en daarvoor is ek dankbaar. Ek hou daarvan om uniek te wees in alles wat ek doen. Daarom kies ek graag om deel te wees van projekte wat mense uitdaag en ook nuwe neigings word.
Wat wil julle nog in die Afrikaanse filmbedryf bereik? Afsonderlik en as paartjie?
Bouwer: Ek sal meer ware verhale wil sien. Ons het ongelooflike stories in Suid-Afrika en ek dink hier is ‘n goudmyn van inhoud vir films. My hart neig so klein bietjie weer meer na musiek toe, maar ek sal wil sien hoe die volgende generasie filmmakers nog meer braaf is met konsepte en die stories wat hul vertel.
Leandie: Afsonderlik wil ek nog sekere rolle vertolk – soos die antagonis, ‘n psigologiese rillerrol, ‘n aksie- / superheld, ‘n doofstom meisie of enige uitdagende rol wat my regtig gaan uitdaag. Emma in Jagveld was my eerste regtige moeilike rol en ek was mal daaroor! Ek sal ook ’n musikale- of dansrol geniet. Saam dink ek nie ons het regtig groot drome in die filmbedryf spesifiek nie, maar net om saam te kan werk en aan te hou om grense te verskuif. Ons sal ook graag wil werk skep en mense bemagtig om deel van ons droom te wees, ongeag van die industrie.
Is Thys en Trix ‘n moet sien film? Hoekom?
Bouwer: Dit is definitief ‘n eerste van sy soort. Ek kan nie onthou dat daar al ‘n lekker spioenkomedie in Suid Afrika was nie en ook hierdie is ‘n Quinton Krog-film. Ek is iemand wat in regisseurs glo en Quinton is iemand wat weet hoe om stories te vertel en ook Thys & Trix is die tipe komedie wat Suid-Afrika nou nodig het, voel ek.
Leandie: JAAAA!! Want daar is nog nie só ’n film in Afrikaans met só ’n storielyn nie! As jy net vir 90 minute wil lag en van al jou probleme vergeet, dan MOET jy dit sien. Jy gaan ook baie beter oor jouself voel, want eintlik is Thys en Trix maar twee losers.
Thys en Trix begin op Vrydag, 22 Junie, in teaters landswyd draai.
Meer oor die film:
Produksiehuise: The Film Factory & Bouwer Bosch Films
Skrywers: Quentin Krog en Frannie van der Walt
Regisseur: Quentin Krog
Vervaardigers: Danie Bester, Leandie du Randt Bosch & Bouwer Bosch
Ouderdomsbeperking: 16 DLV
Rolverdeling: Leandie du Randt Bosch, Bouwer Bosch, Brendon Daniels, Zak Hendrikz, Dorette Potgieter, Deon Coetzee, Charlie Bouguenon, Carine Rouse, Ivan Zimmermann, Chanelle de Jager, Sherman Pharo.

The Film Factory SA se Danie Bester saam met sy vrou, Lelia (Foto’s: Melissa van Basten – Sheen Photography)

Zak Hendrikz wat die rol van André vertolk.

Dorette Potgieter wat die rol van Chandré speel.

Brendan Daniels wat die rol van Kaptein Solomons vertolk.

Charlie Bouguenon wat die rol van Gerhard speel, saam met sy vrou, Anré.

Carine Rous vertolk die rol van Heidi.