Die Oostelike Afrikaanse variëteit staan ook bekend as Oosgrensafrikaans, Voortrekkerafrikaans, Boere-Afrikaans en Transvaalse Afrikaans. Dit word beskou as die grondslag van Standaardafrikaans.
Oosgrensafrikaans
Oosgrensafrikaans is hoofsaaklik gepraat deur die Europese trekboere wat sedert 1836 na die oosgrens van die kolonie getrek het en later na die binneland om die Boererepublieke te stig. Uit hierdie noordelike variëteit het Standaardafrikaans ontwikkel. Oosgrensafrikaans word hoofsaaklik in die volgende gebiede gepraat: Gauteng, Vrystaat, Natal, Oos-Kaap, Kaapse binneland en Karoo. Dit is die taalvorm wat algemeen aangewend word vir hoë funksies, byvoorbeeld literatuur, regswese, onderwys, wetenskap en die media.
Volgens prof. Christo van Rensburg het die historiese variëteit ontwikkel uit die niestandaardvorme van Nederlands. Die veeboere se taal was ’n voortsetting van niestandaardnederlands met invloede van Khoi- en slawetale.
Die boere se taal was nie die taal wat die VOC-amptenare in die Kaap gebruik het nie. Aanvanklik is daar ooswaarts in die rigting van die oosgrens beweeg en later (tydens die Groot Trek in die negentiende eeu) daarvandaan noordwaarts die Suidelike Afrikaanse binneland in.
Die drie hoof- historiese variëteite van vroeë Afrikaans

In die afgeleë streke waar die veeboere hulself gevestig het, was godsdiens en die Nederlandse Statenbijbel die enigste beskawingsmiddel om ongeletterdheid teë te hou, aangesien die kerk van lidmate verwag het om die Statenbijbel te kon lees. Die veeboere het daarom met die Nederlands van die Statenbijbel bekend gebly, alhoewel hulle dit nie gepraat het nie. Rondreisende onderwysers se eenvoudige kennis (ook van die Nederlandse taal) was die enigste skakel tussen die veeboerhuisgesinne in afgeleë streke en die beskawing.
Die taalsituasie op die oosgrens
Die huisgesinsamestelling op die oosgrens het uit man, vrou, kinders, huisslawe, kokke, kinderoppassers en Khoi-bediendes bestaan. Intussen het steeds meer mense uit die verskillende lae van die Kaapse samelewing hulle by die veeboere op die voorposte aangemeld. Sodoende het daar ‘n situasie aan die oosgrens ontstaan waarin die veeboere se taal al hoe verder weg van die Kaap gepraat is. Die struktuur van die Oostelike Afrikaanse variëteit was aanvanklik onvas en vorme van die historiese Suidelike en Westelike Afrikaanse variëteite het daarin voorgekom, maar die isolasie wat die Groot Trek meegebring het, het die mededinging met Suidelike Afrikaans laat verval. Die Oostelike Afrikaanse variëteit het later die taal van die noordelike republieke geword en daarom toon die Standaardafrikaanse variëteit in die noordelike dele van Suid-Afrika duidelike verskille vergeleke met die Wes-Kaapse Standaardafrikaanse variëteit.
Setlaarveeboerdery aan die Kaap het vinnig na die binneland uitgebrei. Teen 1800 was setlaarveeboere op die oosgrens afgesonder van die inwoners van Kaapstad en het hulle ‘n onafhanklike bestaan gevoer. Die veeboere en die stedelinge het op verskillende maniere met Nederlands in verbinding gebly: “In die Kaap het ‘n kennis van Nederlands nog bygedra tot ‘n insig en begrip van Europese sosiale waardes en gebruike. Aan die oosgrens was dit nie die geval nie.” Hierdie waardes was daar onbekend en nuwe norme het ontstaan wat by implikasie ook die taal van die pioniersboere insluit.
Daar is nog verskeie redes waarom die taal so begin verander het, soos bv. die invloed van tale soos die Slawetaal, Maleis-Portugees, en die inheemse tale. Die hoofoorsaak vir hierdie taalverandering lê egter by die gebrek aan skole waar kinders behoorlik in die Nederlandse taal onderrig kon word.
Mettertyd het uit hierdie Kaapse taal ʼn nuwe taal ontstaan. Mense het taalbewus geraak. (Ik ben een Afrikander.) Hulle het begin skryf in hulle taal.
“Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron – soos opnuut gebeur in die elfde, verbeterde uitgawe, presies ’n eeu ná die eerste publikasie van die Afrikaanse woordelijs en spelreëls in 1917.”
Voorwoord, Afrikaanse woordelys en spelreëls, 2017, bl. i.
Standaardafrikaans en die ontwikkeling van Afrikaans as kultuurtaal
Aan die Kaap is verskillende Afrikaans-Hollandse omgangsvariëteite gepraat met Nederlands as oorkoepelende kultuurtaal. Nederlands was die algemeen aanvaarde kultuurtaal en het gedien as skryftaal, bestuurstaal, kerktaal en die taal van die onderwys. In 1806 het die Kaapkolonie vir die tweede keer in Britse hande geval. Onder Engelse bestuur is die gebruik van Afrikaans-Nederlands ontmoedig.
In 1854 het die Oranje-Vrystaat Nederlands as amptelike taal aanvaar. In 1882 is Nederlands erken as amptelike taal in die Kaap naas Engels. In 1888 is Nederlands erken as amptelike taal in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Aan die einde van die 19de eeu was daar mense wat van mening was dat Afrikaans (veral Boere-Afrikaans) meer erkenning moes geniet en het hulle voorspraak begin maak vir ‘n eie inheemse taal: Afrikaans. In die Nederlandstalige pers is toe soms briewe en artikels in Afrikaans geplaas.
Ook het die Kaapse Maleiers begin om Afrikaans-Nederlands naas Arabies in hulle godsdiensbeoefening te gebruik. Die Maleiers het onder andere Afrikaans-Nederlands geskryf, maar in die Arabiese alfabet.
Die Afrikaanse Taalbeweging

Die Afrikaanse Patriot uitgegee in 1876.
Die eerste Afrikaanse taalbeweging neem ‘n aanvang in 1875 met die stigting van die GRA of die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl. Die doelstellings van die GRA is egter deur die meeste Kapenaars verwerp. Nederlands is beskou as die algemeen aanvaarde kultuurtaal. Dit was die formele skryftaal, kerktaal, bestuurstaal, onderwystaal en die taal van die pers. Nederlands het hoë aansien geniet en is as ‘n deftige statustaal beskou. Afrikaans is beskou as ‘n taal wat die stempel van onkunde dra.
Artikels in die Nederlandstalige pers het neerhalend na Afrikaans verwys. In De Zuid-Afrikaan is na Afrikaans verwys as ‘n “corruptie“, “een mengelmoes van onzin en dwaasheid“, wat niks anders sou wees as “een caricatuur van de gemeene wijze waarop die Mozambiekers op onze straten spreken en n.b. meestal geschreven wordt door uitlanders, die noch ons volk, noch ons land kennen“. Die Afrikaanse Patriot, mondstuk van die GRA, is as ‘n”vod“, ‘n “Prulblad“, ” ‘n Hottentot Courant” beskryf.
Die meeste Afrikaners in die tyd het Afrikaans egter as ‘n uiters lae taalvorm beskou. Vir hulle was dit ‘n taal sonder grammatika; ‘n Hottentotstaal; ‘n wartaal; ‘n mengelmoes vol onsin en dwaashede en ‘n taal wat by skaapkrale en in die kombuis hoort.
Afrikaans en nasionalisme
Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, naas Engels, vind plaas in 1925. Volgens Wet 9 van 1925 is Afrikaans toe aan Nederlands gelykgestel, maar in die praktyk het die ondersteuners van D.F. Malan Nederlands op ‘n despotiese manier met Afrikaans vervang.
Afrikaans het sinoniem geword met nasionalisme. Afrikaans as kultuurtaal is beskou as die produk van nasionalisme; of as ‘n uitingsvorm van nasionalisme. Die Afrikaners het immers oor ‘n reeds gevestigde kultuurtaal beskik (Nederlands) wat doelbewus met ‘n ander kultuurtaal (Afrikaans) vervang moes word.
Die ondersteuners van D.F. Malan wou nie alleen ‘n wig inslaan tussen Afrikaans en Nederlands nie, maar ook ‘n wig tussen die Afrikaners en die Kleurlinge. J.B.M. Hertzog het juis gewaarsku dat Malan die verkeerde pad volg. Met sy nuwe funksie as amptelike taal het die woordeskat van Afrikaans in die 20ste eeu grootskaals uitgebrei, en intussen het meer as 200 Afrikaanse vakwoordeboeke verskyn. Om die taal, wat oorspronklik ‘n eenvoudige kommunikasiemiddel en omgangstaal was, te kon uitbou as ‘n medium vir die onderwys, administrasie, literatuur, kunste en wetenskappe, is dikwels na Nederlandse terme teruggegryp om neologismes te vorm. Die verskillende Afrikaanse vaktale het intussen ook die internasionale woordeskat, wat op hulle gebiede gebruiklik is, oorgeneem. Lees meer hier.
In gesprek
“ … meer navorsing is nodig oor die verskillende variëteite van Afrikaans en die rol wat dit in die lewe van die sprekers daarvan speel. Die grootste uitdaging bly steeds om die kloof tussen wit, bruin en swart sprekers van Afrikaans te oorbrug, want al praat elkeen sy eie variëteit, vorm dit vandag ‘n belangrike deel van die Afrikaanse literatuur- en kultuurerfenis. Bowenal verteenwoordig elke variëteit iemand se moedertaal …” – Michael le Cordeur
Die geskiedenis van die standaardisering van Afrikaans is belangrik en die debatte daaroor vandag beklemtoon opnuut dat Afrikaans aan al sy sprekers behoort en nie deur een subgroep opgeëis kan word nie. ‘n Verdraagsame houding wat taaltrots binne die raamwerk van ‘n groter Afrikaanssprekende gemeenskap kweek, is die beste waarborg vir die vreedsame naasbestaan van tale en taalvariëteite. Al die verskillende variëteite van Afrikaans wat ondersoek is, vervul steeds ‘n belangrike funksie: Dit is ‘n taal waarin die mense van Namakwaland en Griekwastad kan sing oor hul hartseer, ‘n taal waarin die werkers kan toi-toi én die teleurstellings van ‘n staking verwerk, ‘n taal waarin ‘n jongman van Garies én Sophiatown aan hul liefde vir ‘n meisie kan uiting gee, ‘n effektiewe taal teen politieke onreg, ‘n taal waarin Moesliem én Christen aanbid, ‘n taal vir familietyd, en ‘n taal waarin met nostalgie na die ou dae verlang word, aldus Michael le Cordeur
‘Afrikaans se DNS’
Suid-Afrika lyk dalk op party plekke of reusemolle onderdeur die paaie gegrou het of tonnels deur sekere mense se logika gevreet het, maar hierdie is ook ‘n landskap waar steenkool onder druk in skitterende diamante kan verander! Louis en Marida Serfontein woon in die hart van die Karoo, Laingsburg. Hulle gesels in ons reeks: ‘Op pad met Afrikaans’, oor Afrikaans as Afrikataal. “Die feit dat Afrikaans op die vasteland van Afrika natuurlik ontwikkel, aanhou groei en versprei, is ‘n veelseggende waarheid…”.

[d]it is ‘n taal, ‘n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra … ‘n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. – Adam Small
Die eerste strofe van N.P. van Wyk Louw se gedig “Die beiteltjie” kan metafories op die ontwikkeling van Afrikaans van die historiese Oostelike Afrikaanse variëteit tot ‘n standaardvariëteit dui.
DIE BEITELTJIEDeur N.P. van Wyk LouwEk kry ‘n klein klein beiteltjie, ek tik hom en hy klink; toe slyp ek en ek slyp hom totdat hy klink en blink.Ek sit ‘n klippie op ‘n rots: – mens moet jou vergewis: ‘n beitel moet kan klip breek as hy ‘n beitel is –ek slaat hom met my beiteltjie en dié was sterk genoeg: daar spring die klippie stukkend so skoon soos langs ‘n voeg: | toe, onder my tien vingers bars die grys rots middeldeur en langs my voete voel ek die sagte aarde skeur,die donker naat loop deur my land en kloof hom wortel toe – só moet ‘n beitel slaan wat beitel is, of hoé?Dan, met twee goue afgronde val die planeet aan twee en oor die kranse, kokend, verdwyn die vlak groen seeen op die dag sien ek die nag daar anderkant gaan oop met ‘n bars wat van my beitel af dwarsdeur die sterre loop. |
‘My Afrikaans is ’n rebel’
Met seerowerhare, starende diep oë en die Latynse woorde vir waarheid en regverdigheid op sy arms getatoeëer, kan Adam Weilbach maklik deurgaan vir een van die karakters in een van sy Afrikaanse fantasieverhale. In ons reeks ‘Op pad met Afrikaans’ gesels ons met hom – van nagklubeienaar tot straatwerker vir nagklubdeurwagte wat later akteur geword het, meen hy sy ontmoeting met Breyten Breytenbach was ‘n keerpunt in sy lewe wat Afrikaans betref. “My Afrikaans is ‘n rebel.”
Voorbeelde van Standaardafrikaans
Hier is ’n lys van lekker woorde uit verskillende Afrikaanse variëteite (met dank aan LitNET)
- poenankies (oulik) (Kaaps)
- kanalla (asseblief) (Kaapse Moesliemafrikaans)
- sjoekran (dankie) (Kaapse Moesliemafrikaans)
- xhoulag (uitspattig lag) (Oranjerivierafrikaans)
- xhouboe (terneergedruk wees) (Oranjerivierafrikaans)
- ntarra (vertroetel; aanmoedig) (Oranjerivierafrikaans)
- kop toe vat (ernstig opneem) (Oranjerivierafrikaans en Standaardafrikaans)
- nxa!(goed; cool; lekker) (Oranjerivierafrikaans)
- vedala (nie na wense nie) (Kaaps)
- gwarra (koggel met ’n byt) (Oranjerivierafrikaans)
- sharp (goed; reg so) (Kaapse woord met ekwivalent in Flaaitaal/Tsotsitaal)
- mos (inderdaad; immers) (Standaardafrikaans)
- entjie (sigaret) (Kaaps)
- aweh! (algemeen-gebruiklike groetvorm) (Kaaps)
- babbelas (toestand a.g.v. te veel drank) (Standaardafrikaans)
- aitsa (uiting van verrassing of skertsende lof) (Standaardafrikaans)
- eina (uitroep van pyn) (Standaardafrikaans)
- baie (’n groot aantal; veel) (Standaardafrikaans)
- nemma/nemmatjies (netnoumaar: netnou; straks; oor ’n rukkie) (Kaaps)
Dieselfde woorde, verskillende betekenisse:
duidelik duidelik/dydelik (ongetwyfeld goed; om oor opgewonde te raak) (Kaaps) duidelik (goed sigbaar; begryplik; vry van twyfel) (Standaardafrikaans) kwaai kwaai/gevaarlik (uitstaande) (Oranjerivierafrikaans) kwaai (goed; lekker; fantasties) (Kaaps) kwaai (sleg-gehumeurd) (Standaardafrikaans) tannie tanie (ma) (Kaaps) tannie (tante; enige ouerige vrou) (Standaardafrikaans) woelig woelag (indrukwekkend; onverbeterlik) (Kaaps) woelig (rusteloos; onrustig; erg beweeglik) (Standaardafrikaans) | boer boere (polisiebeamptes) (Kaaps) boer (die boerdery waarneem) (Standaardafrikaans) uitsteek ytstiek/uitstiek (opdaag; jou opwagting maak) (Kaaps) uitsteek (buitentoe uitstaan of laat uitstaan) (Standaardafrikaans) bad bad (verkwis) (Kaaps) bad (hol voorwerp of kuip waarin ’n mens bad) (Standaardafrikaans) |
Lees meer ..
Die debat oor Standaardafrikaans
Moet Afrikaans geherstandardiseer word?
Die oosgrenshipotese – Hans Grebe (LitNET)
Hoe steek die vurk in die hef – Gerhard van Huyssen
http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512011000400019
Bronne
Carstens, W.A.M. 2011. Norme vir Afrikaans. Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Pretoria:Van Schaik Uitgewers.
Davids, A. 1994. The contribution of the slaves to the genesis of Afrikaans. In February, V. (ed.). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans & Nederlands. Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23-24 Junie 1992. Cape Town:Tafelberg.
Du Plessis, L.T. 1985. Afrikaans in Beweging. Bloemfontein:Patmos.
Giliomee, H. 2006. Afrikaans in die onderwys: Resultate van ‘n ondersoek na die houding van ouers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe.
Grebe HP: 2002. Standaardafrikaans: Daar’s ‘n vlieg in die salf. Southern African Linguistics and Applied Language Studies.
Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria:Protea Boekhuis.
Le Cordeur, M. 2010. Bal die vuis vir Kaaps. Die Burger, 17 Maart.
Le Cordeur, M.L.A. 2011. Die rol van die bruinmense in die ontwikkeling van Afrikaans in Suid-Afrika. Referaat gelewer tydens die Afrikaanse Feest de Nederland, 17-19 Junie, Amsterdam.
Small, A. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad:HAUM.
Van Rensburg, M.C.J. (red.). 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria:J.L. van Schaik.
Van Rensburg, M.C.J. 1990. Taalvariëteite en die wording van Afrikaans in Afrika. Bloemfontein:Patmos