Spelfoute kan soms snaaks wees, maar beslis nie ‘n snaaksigheid nie. Prof. Gerhard van Huyssteen, hoof van die Taalkommissie en natuurlik van Op die Spel-faam stem saam – reg spel is beslis nie kinderspeletjies nie!
Hier is raad …
Stap 1 is om te wéét dat jy soms sukkel met spelling. As jy nie van ʼn tekortkoming weet nie, kan jy nie daarop verbeter nie – dit geld alles in die lewe.
Stap 2 sou wees om tegnologie in te span om jou te help. Ons is bevoorreg dat ons in Afrikaans ʼn klomp digitale middele het om ons te help. Ek noem ʼn paar voorbeelde:
- Laai die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se app op jou selfoon/tablet af. Die woordelys van die AWS is deel van die app, en jy kan dus baie maklik soek hoe om ʼn woord te spel. Met Android-fone kan jy boonop die woord sê en dan verskyn die korrekte spelling op jou foon. Jy kan die app in die Play Store of App Store aflaai.
- Teken in op ʼn aanlyn woordeboek, soos byvoorbeeld die nuwe HAT, die WAT, of kry binnekort toegang tot beide hierdie woordeboeke op VivA se webwerf (viva-afrikaans.org).
- Skaf vir jou ʼn goeie speltoetser aan, soos byvoorbeeld Afrikaanse SkryfGoed.
- Skryf in by die gratis webdiens, Beter Afrikaans, en/of laai die Beter Afrikaans-app af in die Play Store of App Store. Jy kan elke dag ʼn kort taaltoetsie doen om te help om jou spelling te verbeter – dit neem ongeveer twee minute om te voltooi en speel-speel meer oor spelling te leer.
Hier is die tien grootste slaggate om te vermy
- Mense “waardeur” deesdae iets wanneer hulle dit eintlik “waardeer”.
- Almal “lig” hulle menings wanneer hulle dit moet “lug”.
- ʼn Tydvak of era word “ingelui”, nie “ingelei” nie.
- Wanneer iets aan jou pa behoort, is dit jou pa “sʼn”, nie jou pa “sin” nie.
- Jy kuier by jou “ma-hulle”, nie jou “ma’le” of jou “ma-le” nie.
- “Wat ook al” is altyd drie los woorde. “Ook al” is altyd twee los woorde.
- “Netsowel” of “netso wel” of “net so wel” is al drie reg.
- Jy gaan “huis toe” soos wat jy “skool toe”, “see toe” of “tronk toe” gaan. Altyd los en net los.
- Jy is “op pad” soos wat jy “op reis” of “op kantoor” is. Altyd los en net los.
- “Al twee” is los, net soos “al drie”, “al sewentig” en “al drie-honderd-en-sestigstes”.
Taaltoffies – Die volgende tien grammatikale foute sluip oral in. Vergewis jouself van die korrekte taalgebruik.
- Verwarring van die betreklike voornaamwoorde “wie” en “wat”.
*“Dis die kind wie so mooi sing.” MOET WEES “Dis die kind wat so mooi sing.”
Die betreklike voornaamwoord “wie” word net gebruik vir mense en saam met ʼn voorsetsel of saam met “se”:
“Die onderwyser met wie ek gepraat het, sê die kinders skryf môre toets.”
“Die persone wie se aansoeke laat is, moet in ʼn ander ry staan.”
- Verkeerde gebruik van ontkenning saam met “tensy”.
*“Niemand kry poeding, tensy julle nie julle kos opeet nie.” MOET WEES “Niemand kry poeding nie, tensy julle julle kos opeet.”
- Weglaat van “die” voor “meeste”.
*”Meeste mense ken nie hierdie reël nie.” MOET WEES “Die meeste mense ken nie hierdie reël nie.”
- Verkeerde sinsvolgorde in komplekse sinne ná ʼn neweskikkende voegwoord tussen twee onderskikkende bysinne.
*“Die komitee het besluit dat die voorsitter die plan aan die lede moet voorlê en moet die nodige toestemming daarvoor kry.” MOET WEES “Die komitee het besluit dat die voorsitter die plan aan die lede moet voorlê en die nodige toestemming daarvoor moet kry.”
- Die verwarring van “is” en “was” by die verlede tyd van die passief.
*”Dit was so in die regulasies afgekondig.” MOET WEES “Dit is so in die regulasies afgekondig.”
- Foutiewe gebruik van “inteendeel”.
“Dit is heerlik om hier te wees. Inteendeel, ons het lank hierna uitgesien.” MOET WEES “Dis heerlik om hier te wees. Trouens, ons het lank hierna uitgesien.”
- Gebruik van aanwysende voornaamwoorde sonder die item waarna verwys word.
*”Hierdie is lekker roomys.” MOET WEES “Hierdie roomys is lekker.” OF “Dit is lekker roomys hierdie.”
- Die verwarring van “besondere” en “besonderse”.
“Hierdie besondere probleem moet dadelik opgelos word.” (= bepaalde)
“Dis regtig ʼn besonderse stuk musiek.” (= spesiale)
- *“Die man in die straat …” of *“Die man op straat …” is albei anglisisties. Gebruik eerder “gewone mense” of “Jan Alleman”.
- Jy kan geld “spandeer”, maar jy mag tyd net “bestee”.

Baie dankie aan Sophia Kapp – VivA se taaltannie vir hierdie kitsfeite. Om al jou taal- en spelstruikelblokke te oorkom, laai die VivA-app hier af.