Net soos Hollywood, spog Suid-Afrika ook met ’n klomp bekendes wat met hulle eie produkreekse spog. Maar is dit regtig die moeite werd? Annelien van Basten het gaan uitvind.
Anders as in Suid-Afrika, word oorsese sterre (hetsy sangers of akteurs) ’n astronomiese bedrag geld betaal vir die werk wat hulle op die grootskerm of verhoog doen. Maar dit beteken nie dat enigeen van hulle vir altyd op Forbes se lys van top-inkomsteverdieners gaan pryk nie. Dis seker die dat hulle belê in produkreekse om hulle handelsname verder uit te brei en te verstewig.
Britney Spears spog, onder andere saam met sterre soos Taylor Swift, Céline Dion en Beyoncé, byvoorbeeld met haar eie reeks parfuum, terwyl Drew Barrymore haar eie grimeerreeks, Flower, en wynplaas het. Plaaslik begin hierdie tendens ook kop uitsteek (want onthou hier is die vermaakbedryf nie altyd ’n dankbare een waarmee jy sakke vol geld maak nie) en is daar verskeie glanspersoonlikhede wat reeds met gevestigde produkreekse spog en sommer ook self as handelsmerkambassadeurs vir dié produkte optree.
Wie doen wat …
Buiten vir Francois Hougaard wat mede-eienaar is van die klerereeks, Gold Street Clothing, Schalk Burger wat aandeel het in hulle familiewynplaas en Cindy Nell wat aan die hoof staan van die skoonheidsprodukmaatskappy, Cosmetix, is daar verskeie ander musikante, akteurs en bekende handelsname wat ook nou hulle merk in ander industrieë maak. Ons het met ’n paar gaan gesels oor die hoekom en waarde agter hierdie handelsmerkuitbreidings.
Leandie du Randt Bosch is tans een van die gewildste aktrises en aanbieders op die silwerskerm en kassie. Sy het ook ’n unieke sin vir mode en ’n voorliefde vir ouer retro-vintage styl klere en dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van haar klerereeks, Skoonma Clothing. “Skoonma is deur my oorlede ma se patrone en my liefde vir ouer modes geïnspireer. Dit word plaaslik vervaardig en daar is nie meer as twaalf van ’n item beskikbaar nie, wat dit eksklusief maak. Dis ook nie in winkels beskikbaar nie en word doelgemaak per bestelling. My skoonma, Marie Bosch, het die eerste twintig items van die reeks self gemaak en vandaar het my droom lewe gekry en kon ek vir almal wys wat my belangstelling en passie is buiten die vermaakbedryf. Ons kry ook deur middel hiervan die geleentheid om werk te skep en vir vroue ’n platform te skep om hulle talent ten toon te stel. Ek het besluit om die reeks in Afrikaans te doen, want ek lewe in Afrikaans en dis my geboortetaal en erfenis, jy weet? Alhoewel ek my taal baie meng en lief is vir alle rasse se kleure, tale en gewoontes. Op die ou einde gaan dit vir my daaroor om Suid-Afrika, as ’n geheel, te ondersteun, werk te skep en uit te brei en om nie skaam te wees om in my eie taal iets te doen nie,” vertel sy.
*Leandie is binnekort te sien in die splinternuwe aksiekomedie, Thys & Trix, kyk die lusmakerlokprent hier.

Die Heuwels Fantasties word beskou as baanbrekers in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en is bekend vir hulle vars, alternatiewe styl en veral vir die treffer Pille vir Kersfees. Hulle aanlynwinkel, Supra Shop, is nie net ’n eenstopplek waar jy al hulle bekroonde albums, branded T-hemde, pette, DVD’s, langspeelplate en oorfone kan koop nie, maar is ook die huis van hulle nuutste handelsmerkuitbreiding, Borrels vir Kersfees. Dit is ’n vonkelwyn wat, in samewerking met die Van Loveren-wynlandgoed, vervaardig is. Stigterslid, liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler, Pierre Greeff, verklap: “Ons is mal oor sjampanje, veral ’n Mimosa saam met brunch, en ons wou graag iets vir ons aanhangers bring wat hulle oor die feestyd saam met hulle gunstelingmense en -familie kan geniet. Daar is kontak gemaak met die wonderlike mense by Van Loveren oor die idee om ’n vonkelwyn vir Kersfees te doen, geïnspireer deur ons liedjie. Hulle het baie van die idee gehou en siedaar, ’n Chardonnay Pinot Noir Brut-versnit, Borrels vir Kersfees is gebore. Dis hopelik die eerste van baie in die reeks. Ons hoop dat dit, soos ons musiek, slegs goeie tye en herinneringe versprei en dat dit mense positief beïnvloed. Die rede hoekom ons besluit het om dit in Afrikaans te doen, is omdat ons dink en droom in Afrikaans en dus mos feesvier en drankies geniet in Afrikaans ook, dan nie?”
*Die suksesvolle musiekgroep is benoem vir Ghoema-toekennings vir Beste Duo of Groep, Beste Alternatiewe Album en Beste Liedjieskrywer Samewerkingsgroep. Lees meer oor die wenners hier.
Buffelsfontein se Meyer le Roux en sy vennoot, Mark Eybers, se baarde was die inspirasie agter die Buffelsfontein Baard-Olie-handelsnaam wat tans baie gewild is. Dit het alles begin toe hulle nie ’n baardolie kon kry wat aan hulle behoeftes voldoen het nie en self begin bestanddele meng het tot hulle die perfekte olie geskep het. Dit sou eers net ’n stokperdjie wees wat hulle aanlyn verkoop, maar nadat hulle een aand by Adam Tas se huis ’n Facebook-video gemaak en opgelaai het, is dit deur 30 000 mense gekyk en van daar het dit gesneeubal tot waar hulle vandag is. “Ons baardprodukte werk en laat astertjies bloos. Deesdae het ons verskeie produkte op ons aanlynwinkel beskikbaar, wat wissel van leergordels, beursies, ammunisiesakkies, skootrekenaarsakke, T-hemde, bederfdose, voorskote, babaklere, vellies, jaggeweersakke, bierglase en vele meer. Ons het ook ’n restaurant met die lekkerste vleis, wyn en bier. Ons is besig om die handelsmerk internasionaal te neem en ons kyk tans ook na franchise-moontlikhede vir die restaurant. Dit is vir my lekker om in my eie taal besigheid te doen. Ons moet ophou om so skaam te wees vir ons taal en dit begin leef,” gesels Meyer.
* As jy nie weet wat om vir iemand spesiaal op hulle winkel te kies nie, kan jy ook ’n geskenkbewys aanskaf. Besoek hulle webblad vir die verskillende opsies.

Bouwer Bosch het geen bekendstelling nodig nie. Hierdie veelsydige glanspersoonlikheid is nie net ’n musikant, akteur, komediant en televisieaanbieder van formaat nie, maar ook ’n entrepreneur met ’n hart vir liefdadigheid. Buiten vir sy filmmaatskappy, Bouwer Bosch Films, is hy ook die stigter van die aanlynwinkel, Liefde Wen, wat hoë gehalte mode-items en selfs ’n digbundel verkoop. “Ek het Liefde Wen begin toe ek in 2006 ’n eerstejaarstudent in Potchefstroom was. Ek wou iets begin waarmee almal kan assosieer. Liefde is iets wat almal in hulle harte het en dit maak nie saak van jou velkleur, in wie of wat jy glo nie of van watter kultuurgroep jy is nie, almal kan dit gee en ervaar. Ons verkoop verskillende produkte, van horlosies en babaklere tot mussies, pette, hemde, vellies en meer. 20% van die wins word gebruik om mense in nood te help. Dit is belangrik om die regte span mense aan jou sy te hê as jy wil hê dat jou handelsmerk moet groei. Ons het ongelooflike mense wat vir Liefde Wen werk. Dis ’n groot spanpoging om so iets te laat werk, so as jy mense kan kry met die regte intensies en hart vir die reeks is helfte van die werk gedoen. Die ding met klere is dat mense dit altyd sal koop, jy het dit nodig soos brood en water. So as jy inkoop in ’n reeks met wie se boodskap jy saamstem, help dit ook. Jou handelsmerk moet maar heeltyd evolve en saam met tye verander. Jy moet maar pryse ook aanpas sodat jy nie jou mark vervreem of verloor nie. Dit was nie ’n doelbewuste besluit om ’n Afrikaanse besigheid te begin nie, maar ek dink en droom in Afrikaans en daarom het ek gevoel ons moet nuwe inklusiewe narratiewe in Afrikaans begin kry. Almal voel die heeltyd dat ’n mens moet ‘baklei’ vir Afrikaans, maar as ons ’n meer inklusiewe aanslag het gaan niemand hoef te baklei nie,” sê hy.
*Oor sy rol in die nuwe fliek, Thys & Trix wat op 22 Junie 2018 begin wys, verklap hy: “Ek speel Thys. ’n Baie presiese polisieman wat sy lewe nogal agtermekaar het. Hy hou nie van verandering nie en is lief vir sy suster, Trix, maar sy besef dit nie altyd nie. Ek dink mense gaan van Thys hou want hy is die tipe ou wie se intensies altyd reg is, maar sy aksies lyk dalk soms anders en dit is partymaal hoe die lewe ook werk, ons probeer iets goed doen maar dan speel dinge teenoorgesteld af.”