Soos ʼn vernuftige skrumskakel weet Heindrich Wyngaard presies hoe om die bal op presies die regte oomblik uit te gee. Heindrich was vir byna twee jaar een van die aanbieders van RSG se vroegoggendprogram, Monitor, en van die begin van April af, het hy ʼn ander perd opgesaal. Op Sondagaand, 1 April, is die heel eerste Kô Lat ons Praat, oftewel KLOP! op kykNET uitgesaai en Heindrich is die ankeraanbieder van hierdie program. Hierdie uitdaging pak hy met die grootste geesdrif aan. KLOP! fokus op nuusmakers, helde, verskilmakers … met die nodige skeut humor vir balans. Daar gaan ook nie gehuiwer word om ernstige kwessies in hierdie program te takel nie.
Vir Heindrich, ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans, was dit aan die een kant baie sleg om vir die getroue luisteraars totsiens te sê. Nadat hy die Sondagaandprogram, Kommentaar, vir oulaas by vanjaar se Woordfees aangebied het, is hy na afloop van die program deur verskeie mense verseker dat hy gemis gaan word. Heindrich se gemaklike styl van aanbieding en die entoesiasme wat altyd hoorbaar in sy stem is, het hom baie gewild by luisteraars gemaak.
Die naam van sy nuwe program, Kô Lat ons Praat, is ʼn woordspeling op die wonderlike woorde van prof Adam Small se digbundel, “Kô Lat ons Sing…” wat ook die titel van die gedig is. Prof Adam Small is die een skrywer wat nog altyd ʼn baie sterk invloed op die denke van Heindrich gehad het en wat ook ʼn waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van Heindrich se skryfwerk gelewer het. Vir hom is dit dus besonder lekker om met hierdie naam verdere erkenning aan prof Small te gee. Heindrich het een van sy opiniestukke afgesluit met die woorde “Kô lat ons praat” en toe daar aan ʼn naam gedink moes word vir die nuwe geselsprogram, het ʼn vriendin, Neldene Kleinsmidt, met die naam vorendag gekom wat ʼn perfekte pasmaat is.
In die maande van navorsing oor die inhoud en formaat van die program, het Heindrich na verskeie gewilde laataand Amerikaanse televisieprogramme gekyk. Uiteindelik is daar besluit om KLOP! ʼn heerlike mengsel van aktualiteit en vermaaklikheid te maak. Dit is gemik op die bruin mark en Heindrich, wat nog altyd daarvan gehou het om sy mense se onvertelde stories te vertel, sien die program as ʼn nuwe platform hiervoor. Daar is soveel mense in die verlede wat nie die erkenning gekry het wat na hulle kant toe moes kom nie en nou sal daar wel die nodige plek daarvoor wees. Leslie Javan het vir die besondere kenwysie gesorg.
Hy vertel self …
“Ek sien geweldig baie uit na hierdie nuwe seisoen in my lewe,” sê Heindrich. “As radioaanbieder wat ʼn groot deel van die tyd met lewendige uitsendings besig was, het ek waardevolle ervaring opgedoen om op my voete te kan dink. Dit sal handig te pas kom by die televisieprogram. Ek sal myself ook steeds besig wil hou met die skryf van meningsartikels en kan my nie voorstel hoe dit moet wees om nie te skryf nie. Dan droom ek ook nog daarvan om uiteindelik by die skryf van ʼn roman uit te kom. Hoe lekker is dit nie om in my moedertaal te kan werk nie, dit bly ʼn wonderlike voorreg.”
Afrikaans is #onmisbaar in sy lewe.
Lees meer oor sy program op DStv se digitale tydskrif. Klik hier.