Outomatiese braillering van Afrikaanse teks is nou moontlik. Foto – Regs voor: De Pallier Gerber (wat die rekenaarprogram ontwikkel het) en van links agter: Paul Greyling, hoof van die Pionierskool vir Blindes, prof. Lynette van Zijl (navorser in die US se afdeling rekenaarwetenskap) en Hannes Byleveldt, adjunkhoof van die skool en inisieerder van die projek. (Foto: Netwerk24)
Die omskakeling van Afrikaanse teks na braille – en andersom – is deesdae met die klik van ’n muis moontlik.
De Pallier Gerber, met ’n B.Sc. (Honneurs) in rekenaarwetenskap wat hy aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het as deel van sy finalejaarprojek dié program vir die Pionierskool vir Blindes in Worcester, ontwikkel.
Volgens Hannes Byleveldt, adjunkhoof van die Pionierskool en inisieerder van die program, gaan dit beslis die manier van klasgee by die skool beïnvloed omdat dit heelwat minder tyd in beslag sal neem. Boonop kan die onderwyser met die program reeds in die klas op ’n rekenaarskerm die teks in braille met die teks in Afrikaans vergelyk en onmiddellik terugvoering gee. Die program sal ook die omskakelingsproses van Afrikaanse handboeke na braille vergemaklik.
Dié rekenaarprogram is die eerste in sy soort wat vir verskillende vlakke van verkorte braille voorsiening maak in die omskakeling tussen braille en geskrewe Afrikaans en andersom.
Die program is uiters gebruikersvriendelik en só saamgestel dat onderwysers dit self kan aanpas volgens nuwe taalreëls in Afrikaans of braille. Dit neem ook komplekse uitspraakreëls, wat braillering beïnvloed, in ag. Nog ’n pluspunt is dat geen ekstra opleiding nodig is om die program te gebruik nie.
Bron: Beeld, 12 Desember 2017. Artikel: Carryn-Ann Nel
Vir diegene wat op Netwerk24 ingeteken is, lees meer hier
‘As jy kon sien wat ek hoor’ – Gesiggestremde tieners gesels oor hul liefde vir Afrikaans: Pionierskool – Worcester
Ying Shan is deel van ‘n nuwe geslag jong mense in Suid-Afrika van Oosterse herkoms, maar wat reeds vlot Afrikaans praat, dink en droom. ”Afrikaans is vir my so mooi”, sê sy. “My gunstelingwoord is kremetart, want dit klink sag soos water.” Sy en haar vriendekring klets passievol oor hoe Afrikaans hul lewe kleur gee. In die Afrikaans.com-reeks, Op pad met Afrikaans, het Anoeschka von Meck met gesiggestremde leerders gesels.
Kyk hier …
Interessant:
Simboliek van die Taalmonument in braille (Engels en Afrikaans). Kyk op hul Facebookblad vir meer.
Bandhulp aan Blindes spog vandag met 29 ateljees waar vrywillige voorlesers en proeflesers help om boeke op band op te neem. Lees die artikel wat in die Beeld van 28 Maart 2018 verskyn het, hier.
Lees oor bandhulp vir blindes en ook diegene wat moeilik lees, hier.
Lees meer oor Braille-dienste van Blind SA
Lees oor die SA Nasionale Raad vir Blindes (SANCB) hier