Foto: Pexels.com
In die eerste artikel het Afrikaans.com jou gewys hoe om ‘n toespraak te skryf. In artikel 2 behandel ons die verskillende ouderdomsgroepe en die uitdagings wat daar vir elkeen is. Ons gee jou ook handige wenke oor die aanleer en (v)oordra van die toespraak.
Voor ons wegspring, kyk hierdie kort video om jou geheue te verfris oor hoe ‘n redenaarstoespraak moet lyk:
Ouderdomsgroepe
Graad 1 – 3
Vir graad 1 – 3-sprekers is die druk nog nie so groot nie en word daar nog nie so baie van hulle as sprekers verwag nie. Hulle toesprake moet tussen 2 – 4 minute lank wees en hul hoef ook nog nie ‘n onvoorbereide toespraak te lewer nie. Die leerders word op die volgende beoordeel (hulle kry ‘n punt uit 10 vir elk van die volgende vir ‘n totaal van 100):
- Inleiding
- Hoofdoel met inhoud
- Bronne
- Slot
- Standpunt
- Taalgebruik Oorredende aanbieding
- Stem en spraak
- Notahantering en oogkontak
- Stem en spraak
- Natuurlike gebare
Vir die volledige beoordelaarstaat kan jy hier klik.
Dit is belangrik dat die leerder sy toespraak geniet en met gemak kan voordra! Sorg dat die leerdertoespraak taalgebruik en uitdrukkings bevat waarmee hy/sy vertroud is. Oogkontak, natuurlike handgebare, die gebruik van die leerder se stem en die hantering van notas is alles dinge wat ingeoefen word. Oefen, oefen, oefen is die geheime wapen, hoe meer die leerder sy/haar toespraak gaan oefen, hoe gemakliker gaan hulle word en hoe beter gaan die eindresultaat wees!
Graad 4 – 5
Hoewel graad 4 – 5-leerders ook nie onvoorbereid hoef te praat nie, is hulle toesprake langer (3 – 5 minute) en word daar meer van die leerders verwag. Graad 4 – 5-leerders word op byna dieselfde punte as die graad 1 – 3’s beoordeel, maar daar is tog ‘n paar bykomende faktore waarna gekyk word. Leerders kry ‘n punt uit 5 of 10 om ‘n totaal van 100 te kry en word op die volgende beoordeel:
- Inleiding
- Hoofdoel met inhoud
- Bronne
- Slot
- Standpunt
- Oorredende aanbieding
- Stem en spraak
- Notahantering en oogkontak
- Natuurlike gebare, gesigsuitdrukking en selfvertroue
- Taalgebruik
- Onderwerpsformulering
- Vraag
Vir die volledige beoordelaarstaat kan jy hier klik.
Graad 4 – 5-leerders moet in staat wees om met selfvertroue hul toespraak voor te dra. Die taalgebruik kan effens moeiliker wees as vir jonger kinders, maar moet steeds van pas wees. Daar word ook meer eendag aan die manier van oordrag gegee. Is die leerder oorredend? Gebruik hy/sy handgebare en maak hul oogkontak met selfvertroue? Die toespraak word ook in meer detail beoordeel: Is die onderwerpsformulering goed? Het die leerder sy/haar standpunt as ‘n vraag gestel?
Graad 6 – 7
Graad 6 – 7-leerders se toesprake moet 4 – 6 minute lank wees. Graad 6 – 7-leerders kry vir die eerste keer die geleentheid om onvoorbereid te praat. Hoewel dit vir baie leerders (en ouers) ‘n vreesaanjaende gedagte kan wees, hoef dit glad nie ‘n traumatiese ervaring te wees nie. Die geheim? Wees voorbereid! Baie ouers maak die fout om kinders blindelings in hul eerste onvoorbereide toespraak in te stuur. Daar is verskeie ‘toespraakformules’ wat ‘n leerder vooraf kan leer om by enige onderwerp te pas! Oefen ook om onvoorbereide toesprake te skryf en voor te dra.
Kyk hierdie handige video’s wat jou en jou kind leer hoe om voor te berei vir ‘n onvoorbereide toespraak:
Vanaf graad 6 – 12 word al die leerders op dieselfde wyse beoordeel, vir sowel die voorbereide as die onvoorbereide toesprake.
Vir die volledige beoordelaarstaat kan jy hier klik.
Hoërskoolleerders: graad 8 – 9 & graad 10 – 12
In die hoërskool raak die toesprake langer, en die kompetisie strawwer! Hoërskoolleerders se toesprake moet 5 – 7 minute lank wees. Leerders word op die volgende beoordeel (vir voorbereid sowel as onvoorbereid):
Oorredende organisasie en struktuur
- Inleiding
- Struktuur
- Slot
- Standpunt
Oorredende inhoud en aanbieding
- Ondersteunende materiaal
- Aard van inhoud
- Logiese redenering vanaf navorsing na standpunt, balans
- Oorredende aanbieding
- Stem en spraak
- Natuurlike geselsstyl, gesigsuitdrukking en gebare
- Houding, voorkoms, selfvertroue, oortuiging
- Oogkontak en notahantering
Taalgebruik
- Skeppende, kreatiewe taalgebruik
Onderwerp
Voorbereid: Onderwerpsformulering: Sluit aan by doelwit/standpunt
Onvoorbereid: Bly deurgaans onderwerpsgerig, eie mening en voorbeelde
Vir die volledige beoordelaarstaat kan jy hier klik.
Wenke om die toespraak te oefen en te leer
Die belangrikste wenk wat Afrikaans.com jou kan gee, is eenvoudig: Oefen. Redenaars word nie gebore nie, maar gemaak! Hoe meer jou kind sy/haar toespraak gaan opsê, hoe makliker en lekkerder gaan die ervaring vir hulle wees.
Onthou: Voordat die leerder nie sy toespraak 110% ken nie, kan daar nie aan die ander aspekte van redenaars aandag gegee word nie. Die hantering van notas, oogkontak, stemgebruik en handgebare moet eers ingeoefen word nadat die leerder sy toespraak vlot kan opsê!
Sorg ook dat jou kind so gou as moontlik met sy/haar notas begin oefen. Hoe meer hulle die notas hanteer, hoe gemakliker gaan hul daarmee wees. Notas is immers daar om jou kind te help indien hy/sy sou vasbrand.
Nog ‘n goeie wenk is om jou kind voor die spieël te laat oefen, en/of ‘n video van hom/haar te maak wanneer hy/sy oefen. So kan jou kind sien waar hy/sy aan ‘n gesigsuitdrukking of oogkontak moet werk, of waar dit goed sal werk en bygevoeg moet word.
Maak ook seker dat jou kind se toespraak die regte lengte is wanneer julle dit perfek ingeoefen het. Die meeste redenaarskompetisies het ligte wat tyd aandui, en niks kan ‘n spreker so omvêr gooi soos ‘n oranje lig wat aangaan wanneer hulle nog nie naby aan klaar gepraat is nie!
Onthou om volgende week te kom kyk na ons praktiese voorbeelde van wentoesprake.