Soms moet ‘n mens buite die boks dink as jy kinders wil inspireer of op prettige wyse wil leer. Greta Bredell is so ‘n persoon.
Greta het ‘n passie vir lees. Om ‘n liefde vir boeke by kinders te kweek, het sy ‘n leesgroep begin. Dit was tydens hierdie voorlesings dat sy besef het dat talle van die kinders vir wie sy gelees het, nie hulle alfabet ken nie en ook nie kan lees nie. Omdat baie van die kinders gehou het van rap-musiek, het Greta besluit om ‘n rapliedjie te skryf en op die manier die kinders die alfabet te laat leer.

Sê Greta: “Hierdie rap is oorspronklik geskep om die kindertjies in my leesgroep in Jamestown te help om die alfabet te leer. In ‘n onlangse wêreldwye geletterdheidstudie het SA die slegste gevaar uit 50 lande. Byna 80% van graad 4’s kan nie behoorlik lees nie. Kinders wat nie ‘n enkele woord kan lees nie, slaag graad 1 en gaan graad 2 in met ‘n agterstand wat hulle nie gaan inhaal nie. Ongelukkig het meeste van die kinders wat by hierdie video kan baat, nie veel toegang tot die internet nie.”

Bestellings:
As jy ‘n ABC Rap-stel bestaande uit 26 alfabetmuurkaarte, ‘n pak flitskaarte, ‘n CD en DVD aan ‘n minderbevoorregte kleuterskool of laerskool wil skenk, of vir iemand wil koop, stuur ‘n boodskap na gretabredell@gmail.com vir meer inligting.