Terwyl Afrikaans as onderrigtaal toenemend die wind van voor kry, is dit verblydend om te sien dat die Afrikaanse boekebedryf stewig op koers is. Navorsing het bewys dat Afrikaanssprekendes in Afrikaans wil lees en daarom ondersteun hulle lojaal die mark en bly Afrikaanse boeke koop. Van die plaaslike uitgewers wat voorheen hoofsaaklik net Engelse boeke uitgegee het, het ook hierdie groei in die Afrikaanse mark raakgesien en aangepas by die veranderde tye.

Annie Olivier van Jonathan Ball-Uitgewers
Een so ʼn uitgewer is Jonathan Ball-Uitgewers. In 2016 het hulle vir Annie Olivier aangestel as uitgewer om spesifiek meer Afrikaanse boeke uit te gee. Annie het haar loopbaan as joernalis by Rapport en later Beeld begin voordat sy na die tydskrif, My Week, geskuif het. Annie se pad in die uitgewersbedryf het in 2008 by Tafelberg-Uitgewers begin. Na ’n aantal jare in die Kaap, het sy in 2015 Johannesburg toe verhuis en sy werk nou uit die Johannesburg kantoor van Jonathan Ball-Uitgewers. Alita Steenkamp het met haar gesels.
“Die skuif van die Kaap af was nie te moeilik nie,” sê Annie. “My man se werk was hier en ons het dit gesien as ʼn nuwe avontuur. Ek het in Johannesbrug gewerk as ʼn jong joernalis en het baie goeie herinneringe aan daardie tyd toe ek nog aan die gang gekom het in die lewe. Ek hou baie van Johannesburg en wat dit veral lekker maak is dat ek danksy my werk tussen Kaapstad en Johannesburg kan beweeg en dus nooit sal stagneer nie.”
Annie vertel dat Jonathan Ball-Uitgewers, in dieselfde tyd wat hulle haar as uitgewer aangestel het, ook ʼn reklamemaker (publicist) aangestel het om op die Afrikaanse titels te fokus. In Januariemaand het Jean-Marie Korff as reklamemaker in dié uitgewer se Kaap se kantore begin werk. Jean-Marie sal spesifiek ook op reklame vir die uitgewer se Afrikaanse boeke fokus.
Volgens Annie verskyn daar vanjaar (2018) ʼn hele paar opwindende boeke in Afrikaans by Jonathan Ball-UItgewers. Twee van die boeke wat in die eerste helfte van die jaar op die rak gaan wees, is Jan-Jan Joubert se Wie gaan in 2019 regeer?, ʼn toekoms-analise van Suid-Afrika se politieke speelveld en Ystervuis uit die see, geskryf deur Douw Steyn en Arnè Söderlund. Laasgenoemde fokus op geheime Spesiale Magte-operasies tydens die grensoorlog, veral operasies vanuit die see. Annie is ook opgewonde oor ʼn boek van Nico Moolman, Dankie Generaal: Op die spoor van ʼn oorlogspeurder, wat later vanjaar verskyn. Nico is veral bekend vir sy boek The Boer Whore waarop Francois Smith se Kamphoer gebaseer is. Vir die afgelope paar jaar maak Nico foto’s vanuit die Anglo-Boereoorlog bymekaar wat hy dan digitaliseer. Baie van hierdie interessante foto’s, en ʼn outobiografiese vertelling, sal in hierdie boek verskyn.

Twee van die nuwe Afrikaanse boeke van Jonathan Ball-uitgewers wat binnekort op die rakke is.
Annie glo die Afrikaanse boekemark is baie sterk en lojaal. “Die feit dat ander uitgewers soos Penguin Random House, en nie net ons nie, hulle Afrikaanse aanbod geweldig uitgebrei het die afgelope tyd, is ʼn positiewe aanduiding van die groei in die Afrikaanse boekemark. Ek kry die Engelse fiksieskrywers in Suid-Afrika baie jammer want hulle moet meeding teen die skrywers van die res van die wêreld. Die groei in die Afrikaanse boekbedryf gaan hand aan hand met die groei in Afrikaanse produkte wat ons die afgelope dekade of twee gesien het: Afrikaanse musiek, rolprent en kunstefeeste. Dit is beslis deel van die algemene opbloei en lyk belowend vir ons taal.”
Op die vraag waarin die vreugde vir haar lê om in die uitgewersbedryf werksaam te wees, lag Annie en sê die adrenalien wat altyd betrokke is, maak dinge baie interessant. Sy probeer maar om van die adrenalien ontslae te raak deur in die middae af en toe te gaan draf.
“‘n Mens ontmoet soveel interessante mense en ek geniet die interaksie. Ek leer so baie by elke skrywer. Mense wat boeke skryf het gewoonlik interessante stories om te vertel, persoonlike stories of stories oor die tema waarop hulle in die boeke fokus. Die inligting wat ek op hierdie manier kry is vir my fassinerend. Ek gee boeke uit in die velde waarin my belangstellings lê: Geskiedenis, militêre geskiedenis en aktuele sake en dit maak dit baie lekker. Daar gaan nie ʼn dag verby wat ek nie iets leer nie.”
Waar staan die Afrikaanse boekbedryf in 2018

Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers het ʼn tyd gelede ʼn analise gedoen uit die verkoopsyfers van Nielsen Bookdata. In 2004, was daar volgens hierdie inligting, net 22% van die plaaslik-gepubliseerde boeke in Afrikaans geskryf teenoor 77% in Engels. Teen 2015 het die getal Afrikaanse boeke in die Suid-Afrikaanse boekmark toegeneem tot 45% teenoor Engelse boeke wat tot 53% afgeneem het.
Marga sê sy het nie onlangs ʼn nuwe analise gedoen nie, want dit is ʼn enorme werk. “ʼn Mens sal eers die analise moet doen om te sien of daar steeds ʼn groei in die Afrikaanse boekmark is. Ek glo dit is tans redelik konstant, en veral vir Afrikaanse fiksie is dit baie gesond. Afrikaanse skrywers wat vir die algemene mark skryf, is in ʼn baie gunstige posisie, anders as die plaaslike skrywers van Engelse fiksie,” sê sy.
Lees ook …
Afrikaans is #onmisbaar – reeks oor die ekonomiese waarde van Afrikaans: Afrikaans verkoop die meeste boeke in Suid-Afrika.