Lavender Hill Sekondêr

Tuis 5 Projekte 5 Muurprojek 5 Lavender Hill Sekondêr
Lavender Hill Sekondêr Muurprojek

Die skrif is aan die muur … Lavender Hill Sekondêr is trots Afrikaans!

“Dis die taal wat ons erfenisstorie vertel … solank ons dit aanhou praat, sal Afrikaans en ons stories nooit uitsterf nie … ”  – Me Lucia Petersen, WKOD Afrikaansvakadviseur, tydens haar toespraak by die muuronthulling.

Vrydag, 25 Mei 2018, was alles behalwe ‘n gewone dag vir die gemeenskap, leerders en onderwysers van Lavender Hill Sekondêr. Hierdie dag sal nog lank onthou word as ‘n dag van inspirasie, groot drome en trots wees! Afrika-dag is behoorlik gevier – in Afrikaans!

Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad het die volgende oor die muuronthulling gesê: “Afrikaans het nêrens op Afrika-dag so geskitter soos by Lavender Hill Sekondêre Skool nie.  Die skool het ‘n leerdersamestelling van 80% Afrikaans en 20% Engels.  Die onthulling van Afrikaans.com se muurskildery was ‘n luisterryke geleentheid.  Wat getref het, was die twee sentrale boodskappe, uitgedra deur me. Lucia Petersen, Afrikaansvakadviseur en mnr. Danie van Wyk, verbonde aan Fedsas.  Enersyds dat Afrikaans oor verskillende variëteite beskik, elk met sy besondere waarde.  Andersyds dat die verwerwing van meertaligheid slegs deur die moedertaal moontlik is.  Die Jaloersbokkies het met hul optrede hierdie twee kernboodskappe herbevestig en boonop ‘n opgewondenheid oor Afrikaans ontketen, soos waargeneem in die leerders se opgewonde reaksie tydens en na afloop van die geleentheid.  Daar is by hierdie geleentheid ongetwyfeld ‘n bres geslaan vir Afrikaans.“

Na dae van verf onder moeilike omstandighede, is Afrikaans.com in samewerking met die ATR (Afrikaanse Taalraad), FEDSAS (Federasie vir Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame) en die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) se nuutste muurkunsskildery onthul.

“Wat veral opgeval het tydens die program, is dat die mense van Lavender Hill trots Afrikaans praat,” vertel René Arendse. Charlise Akim, ’n graad 11-leerder het met die voorlees van haar gedig, “God se plan vir jou”, haar medeleerders en onderwysers laat besef dat ongeag die uitdagings hier groot drome nog waar sal word.

Die skool se eie dansgroep en trots, Die Hybrids, wat al op verskeie verhoë opgetree het, het almal vermaak – die gehoor se gejuig het getuig hoe trots hulle op hierdie talentvolle jongmense in Lavender Hill is.

Lavender Hill Sekondêr Muurprojek
Lavender Hill se dinamiese dansgroep – Die Hybrids.

Te midde van groot onrus en opstande op die Kaapse Vlakte het Lavender Hill Sekondêr bewys dat niemand  gyselaar moet wees van hul omstandighede nie. Die Afrikaans.com-kunstenaars het braaf ompaaie gery, van vroeg reeds gewerk en selfs reënstorms trotseer…

Die eindresultaat is weereens ‘n pragtige, helderkleurige muurskildery  oortrek met  woorde en beelde wat leerders daaraan herinner om trots te wees op die taal van hul ouers en voorouers en dat hulle kan identifiseer met die skrywer, digter en Khoetaal-aktivis en oudleerder van Lavender Hill, Denver Breda, wanneer hy sê: “Dit was nie altyd maklik nie … ek dink baie aan leerders wat suffer weens huislike probleme, boelies by skole en eensaamheid … ek hoop my storie sal sulke kinders help.“

by | Mar 29, 2018 | Muurprojek, Projekte

Deel hierdie plasing