Die praat van Afrikaans alleen is daarom beslis nie voldoende nie – soos so baie onkundige meningsvormers dikwels aanvoer. Dit raak ook ander stappe: gebruik, ondersteun, bevorder, uitbou, ens. En hiervoor is die steun van elke Afrikaanssprekende nodig. En natuurlik ook die wíl om die taal in stand te hou en uit te bou.
– Wannie Carstens


In W.A.M. Carstens en E.H. Raidt se boek, Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika wat in 2017 verskyn het, word die storie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het, vertel. Die boek verskyn in twee dele. In Deel 1 word die Europese verlede van Afrikaans weergegee en in Deel 2, Die Afrikageskiedenis van Afrikaans wat in 2018 verskyn, kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan die beurt.
In Deel 2 (beskikbaar Maart 2018) is daar ’n lys van 81 stappe om te volg om Afrikaans te bevorder en uit te bou. Hier is solank 25 van hierdie doendinge:
- Hou aan om Afrikaans te gebruik waar dit kan.
- Wees eerder ’n ambassadeur vir Afrikaans as ’n stok aan die been vir Afrikaans. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het genoeg vyande. Moet derhalwe nie nog vyande maak deur jou optrede nie.
- Wees positief oor Afrikaans se toekoms. Laat jou optredes in en deur Afrikaans jou geloof en vertroue in die taal uitbeeld.
- Depolitiseer Afrikaans, met ander woorde haal die politiek uit Afrikaans uit. Maak dus die verbintenis tussen Afrikaans en negatiewe politiek los. Om Afrikaans te praat, is nie noodwendig ’n politieke standpunt nie – maar dalk wel die wyse waarop jy dit praat.
- Wees ’n spreekbuis en voorbeeld vir Afrikaans – word iemand wat bereid is om die spreekwoordelike ekstra tree te loop vir Afrikaans, op alle vlakke: in gemeenskappe, in die beheerliggaam van skole, by welsynsorganisasies.
- Hou aan om onderwysers in Afrikaans op te lei – vir alle vlakke: van die grondslagfase tot die sekondêre fase.
- Gebruik die grondwetlik-gewaarborgde reg om Afrikaans in stand te hou daar waar dit onder druk kom. Bly ook bewus van jou grondwetlike taalregte en dring vriendelik daarop aan.
- Moet nie wag op die mitiese ander om die werk vir en in Afrikaans te doen nie. Doen dit self.
- Ontwikkel en identifiseer Afrikaanse rolmodelle.
- Hou aan om mense anders (positiewer) oor Afrikaans te laat dink.
- Kry vennote en bondgenote om mee saam te werk. Hierdie vennote moet verkieslik uit die ander taalgemeenskappe kom.
- Werk as Afrikaanse organisasies saam aan ’n gemeenskaplike doel (die behoud, instandhouding, en uitbou van Afrikaans) en hou op in verskillende rigtings te trek.
- Waardeer en ondersteun aktief die bydrae van instansies wat hulle bemoei met die dokumenteer en uitbou van Afrikaans, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (gestig 1909); die FAK (gestig 1929); die ATKV (gestig 1930); die Buro van die WAT wat reeds sedert 1926 werk aan die saamstel van ’n omvattende woordeboek vir Afrikaans; die Afrikaanse Taalraad (gestig 2008), en andere.
- Leer die tale van die sprekers van ander tale aan. Twee- of meertaligheid is ’n bate en nie ’n las nie.
- Begin om ’n verskil in Afrikaans in jou omgewing te maak.
- Stel persepsies reg oor Afrikaans.
- Ondersteun die reg op moedertaalonderwys: nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir alle tale in die land.
- Bevorder Afrikaans as taal in meertalige verband.
- Raak kreatief in Afrikaanse onderwys.
- Stuur Afrikaanse kinders na Afrikaanse skole en na universiteite waar Afrikaans ’n gevestigde medium van onderrig is. Afrikaanse onderrig moet gesog bly en ook van die hoogste gehalte wees.
- Maak seker dat Afrikaans al sy funksies behou en selfs uitbrei: moet nie sit en wag dat dit gebeur nie, help sodat dit wél gebeur.
- Erken die inherente verskeidenheid in Afrikaans.
- Respekteer die kontekste waarin Afrikaans gebruik word: in een konteks is Standaardafrikaans gepas en in ’n ander een weer ’n variëteit.
- Bevorder die Afrikaanse kultuur onder álle Afrikaanssprekendes.
- Ondersteun Afrikaans se aktiwiteite, op alle vlakke.
* Uit: Carstens, W.A.M. & E.H. Raidt [2018]. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika – Biografie van ’n taal.(Deel 2: Die Afrikageskiedenis van Afrikaans). Protea: Protea Boekhuis.
Kyk hier …
Uittreksel uit hoofstuk 12 – Waarheen nou met Afrikaans? Stappe om te volg

“Afrikaans kan net vorentoe gaan in die onderwys as daar kinders is wat Afrikaans praat.” (Dr. Theuns Eloff, soos aangehaal in K. Burger 2014)

“In 2016 het die feitlik ondenkbare met Afrikaans gebeur. Afrikaans as doseertaal is by al die universiteite, waar dit eens die enigste of vernaamste doseertaal was, drasties afgeskaal of uitgefaseer. Dit het ingrypende implikasies vir Afrikaans as onderrigtaal op skole.” (Prof H. Giliomee 2017)

Reeds in 1993 het (prof.) Hans du Plessis (aangehaal in Altern 1993) gesê dat Afrikaans vir sy eie voortbestaan verantwoordelik is en dat Afrikaanssprekendes iets moet begin dóén. Dit skyn Afrikaanssprekendes is dikwels die grootste vyand van die taal, gebaseer op die wyse waarop hulle met die taal omgaan – of nie omgaan nie. Daar moet nie gewag word op ‘iemand’ om ‘iets’ te doen nie, maar daar moet hande uit die mou gehaal en aan die werk gespring word:
“Die hele taalaksie moet ingestel wees op die behoud van die aantal mense wat Afrikaans gebruik, die behoud van die funksies van Afrikaans en die herstel van houdings oor Afrikaans. Hou op om Afrikaans uit ’n toekoms uit te koop en te beskinder, hou op om Afrikaans uit ’n voortbestaan te hensop en hou veral op om Afrikaans te begrawe nog lank voordat hy siek geword het.”

“Afrikaans kon nog altyd aanpas omdat dit ʼn lewendige taal is met (ʼn) klomp intellektuele mense wat hard werk om seker te maak dat dit nie uitsterf nie.” (Prof. T. Dowling van die Universiteit van Kaapstad, aangehaal in Braam de Vries 2014)