Ons kompetisies vir 2017 is nou afgehandel, maar hou die blad dop, want ons beplan heerlike kompetisies vir 2018. By Afrikaans.com kan jy net WEN.
“Ek wil die wêreld wys dat my verlede nie my toekoms bepaal nie, maar wel harde werk en geloof in myself. Ek wil ook wen om my drome as ‘n “rapper” verder te vat en eendag ‘n “recording deal” te teken. Ek glo daardeur kan ek baie boodskappe oordra aan die jeug en aan mense wat hoop verloor het en so nuwe hoop aan hulle gee. Ek wil graag as ‘n ster uitblink vir my gemeenskap om kinders en die jeug te inspireer om nooit op te hou droom en op te gee nie.”
– Ashaan Arries (16), kletsrymer en wenner van die #droomgroot17-kompetisie.
Ashaan Arries – lirieke van kletsrym-inskrywing vir #droomgroot17
Die wêreld is so donker – sit die ligte aan
As jy my nie ken nie, aangename kennis – vat my hand
Ek kom met ‘n ‘mediated flow’, broer, ek is aan die brand
Ek rap in verse en gooi dit met die tweede kant
Jy vat te lank, ek rap jou weg, want jy’s te stadig
Ek hou van rap ek doenit, maar jy’s voorbarig
Ek is die president van rap, Barack Obama
Jy wil soos my wees, sorry brother, jy’s ‘n baba
Ek rap soos die army gereed om te veg – ek staan met ‘gunne’
Tel hoeveel maande…
My gedagte is soos ‘n skip tou
Ek flow soos ‘n yoyo
Ek doenit soos DJ Joejo
Wil jy my aanvat? My rap is bolo
Ek’s op ander level – noem dit solo
Ja, nou ek #droomgroot17
Ekke doen goedters wat jy nog nooit gesien het nie
Ekke jaag my goals en daai’s net soos ‘n penalty
Baie op my brein; ek’s nie ‘Inspector Gadget’ nie
Hulle sê ‘Afrikaans.com’
Toe wat ek daai hoor en toe dink ek ekke moet maar kom
Ek is warm, ek is aan die brand – ek voel soos ‘n bom
My lyrics los jou speechless en dit maak jou bene lam
Ekke is ‘n ander, jong!
Ek is straight van die Kaapstad
Om by my uit te kom gaan dit meer as ‘n jaar vat
Jy’s op die einde en ek’s die een wat ‘start’ maak
Ek praat nie baie nie, maar ek praat ma
Ja, ek is ‘n warme rapper
Ek is aan die brand
Gooi water op my, dan vat ek weer vlam
Jy kan alles try, my broer, jy weet dan
Is KID_A, ja.
Ashaan Arries (16), die wenner van Afrikaans.com se #droomgroot17-talentkompetisie saam met sy grootste ondersteuners. Van links: Riedwaan Arries (onderwyser), Virginia Africa (skoolhoof van Goodwood Kollege ), René Arendse (Afrikaans.com), Ashaan Arries (wenner), sy oupa, Lemmy Harris, Kayleigh Kock (onderwyser),Jason Egledoe (onderwyser) en Ashley Muller (graadhoof).
Elsiesrivier se Ashaan Arries (16), die wenner van #droomgroot17 saam met René Arendse (Afrikaans.com-muurkunsprojekkoördineerder).
Ashaan Arries, wenner van #droomgroot17 staan trots tussen sy skoolhoof, Virginia Africa en sy oupa, Lemmy Harris.
Ashaan Arries van Elsiesrivier in Kaapstad, is 16 jaar oud en die welverdiende wenner van die #droomgroot17-kompetisie. Hy het deur sy kletsrym-inskrywing bewys dat drome kan waar word, afgesien van ’n mens se omstandighede … solank jy net nooit ophou droom nie.
Ashaan vertel in sy motiveringsbrief van die geweld, werkloosheid, dwelmverkope en bendegeweld waaraan hy en ander in die woonbuurt daagliks blootgestel word en van ’n pa wat vermoor is toe Ashaan maar drie jaar oud was en wat tot gevolg gehad het dat sy ma aan dwelms verslaaf geraak het. Tog is hy deel van ’n groot, liefdevolle familie en is hy en sy broer in pleegsorg by hulle ouma en oupa.
Ashaan wou graag die kompetisie wen sodat hy die jeug in sy gemeenskap kan wys dat dit altyd moontlik is om jou drome te verwesenlik. Vir Ashaan is die R10 000-prysgeld wat Afrikaans.com namens hom in sy droom belê, ’n stappie nader aan ’n blink toekoms sodat hy eendag, wanneer hy groot is, sy familie ’n beter lewe kan gee. Ashaan sal graag die geld wil gebruik om basiese toerusting aan te koop om hom te help om sy kletsrym-liedjies te skryf en op te neem. Die goeie nuus is dat HemelBesem (Simon Witbooi), ‘n ambassadeur vir Afrikaans.com, hom onder sy vlerk sal neem.
Verrassingspryswenners
Daar is ook besluit om 10 verrassingspryse van R1 000 elk toe te ken. Die ontvangers van verrassingspryse was:
Devonito is passievol in alles wat hy aanpak en sy droom is om ’n skrywer te word. So vertel hy dat sy liefde vir literatuur in graad 5 begin het en hy kon sedertdien nie wegbly van boeke af nie. Na graad 7 het hy begin gedigte skryf. Sy inskrywing was sy tweede Afrikaanse gedig vanjaar en weergee sy gevoelens op eerlike wyse en was ’n poging om beter te kon voel en om aan andere te wys dat hulle nie alleen is nie. Devonito wil graag na skool universiteit toe gaan en ’n BA-graad in Taal en Kultuur verwerf.
Item: Gedig
Thys Nortje hou van liedjies skryf en glo dat lirieke een van die sterkste wyses is om ’n boodskap of emosie oor te dra. Hy het sy eerste liedjie in graad 7 geskryf. Dit was hoofsaaklik eers Engelse liedjies, maar te danke aan sy Vrystaatse Engelse aksent en -woordeskat het hy vinnig in Afrikaans begin skryf. “Dis toe dat ek ontdek het hoeveel meer ek kan sê in my eie taal.” In graad agt het hy toe sy eerste Afrikaanse liedjie geskryf, Moenie Dink Nie Doen Net(die liedjie waarmee hy ingeskryf het). Dis vir Thys die heel lekkerste om voor ’n gehoor op te tree en die reaksie van die mense te ervaar. “Dit was nog altyd net ek en my kitaar.”.
Item: Sang & kitaar
Andrea Schippers (graad 11), Skurweberg Sekondêr, Koue Bokkeveld
Andrea beskou haarself as ‘n jong, dinamiese individu met ‘n passie vir musiek en haar moedertaal, Afrikaans. Sy het reeds van jongs af ’n liefde vir sang, drama en opvoerings en is tans die voorsanger in hulle skoolkoor. Andrea wil graag ‘n ambassadeur wees binne die plaasgemeenskap waar sy woon en het gewys op die opheffingswerk wat broodnodig in hulle gemeenskap is.
Item: Gedig
DNGKT Rieltappers (nuwe dansgenre, Rieltap), Wupperthal, Cederberg
DNGKT Rieltappers is ’n groep seuns afkomstig van die plase rondom Wupperthal in die Cederberge, wat deel vorm van Die Nuwe Graskoue Trappers Rieldansgroep en sedert 2015 maak hulle deel uit van ’n nuwe dansgenre, die rieltap. Hul vernuftige voetwerk is ’n lus vir die oog en laat behoorlik die voete jeuk om saam te dans. Hierdie groep seuns se toewyding, harde werk en dissipline is bewonderenswaardig. Vervoer- en onderrigkostes staan tans in hul pad om hulle kuns te vervolmaak.
Item: Rieldans
Alvaune-Lee Lewis (17), Schoonspruit Sekondêre Skool, Malmesbury
Alvaune-Lee is diep godsdienstig en sê hy word soms “The right hand of Jesus” genoem. Alvaune-Lee is ongelooflik passievol oor drama en sê hy eet, slaap en droom dit. “Ek glo as jy nie ‘n passie het vir jou droom nie, beteken jou droom niks. Danksy my juffrou Ymke, wat my deur dik en dun ondersteun, het my liefde vir drama gegroei.“ In ‘n arm, gebroke gemeenskap soos syne wil hy alles doen om een van die tieners te wees wat ‘n verskil kan maak. “Ek sal altyd volstaan by my woorde, as ek ‘n verskil in een persoon se lewe kan maak, is ek tevrede!”
Item: Monoloog / drama
Martin Coetser (matrikulant), Hoërskool Punt, Mosselbaai
Martin het ‘n groot liefde vir musiek en sing gedurende Desembervakansies by Jakkalsvlei Wynlandgoed. Hy was vir ongeveer vyf jaar betrokke by die Suid-Kaapse Kinderkoor. Nadat die koor in 2015 deelgeneem het aan die Wêreld Koorspele in Latvia, Rusland en die kompetisie gewen het, is sy droom om die musiekwêreld te betree, versterk. Martin het ook die liedjie “Vreemdeling” geskryf wat deur die musikant, Ruan Wepener vroeër hierdie jaar vrygestel is. Martin gaan volgende jaar by Emendy in Pretoria swot om sy diploma in klankingenieurswese te verwerf, want sy droom is om ‘n klankingenieur te word tesame met musiekproduksie en die skryf van liedjies.
Item: Sang & musiekvideo
Maxwell Jacobs, Kaapstad
Maxwell is ‘n baie passievolle musikant wat positief na die lewe kyk. Musiek is ‘n groot deel van sy lewe en bied vir hom ‘n “gemaklike skuilplek van die wêreld af”. Hy is tans deel van hulle skool se Dynamix Jazz Band wat volgende jaar by die Cape Town lnternational Jazz Festival gaan optree. Maxwell is ook baie betrokke by die kerk en begelei hulle koor. Hy is die jongste orrelis. Sy droom is om sy eie klavier te koop, want afgesien van sy prestasies, het hy nie sy eie klavier nie. Maxwell sê hy wil graag terugploeg in die gemeenskap en die liefde vir musiek in sy gemeenskap ontwikkel. “Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, maar meer oor waarnatoe jy op pad is. Solank jy ‘n droom het en aanhou probeer om dit te bereik, sal jy suksesvol wees.”
Item: Klavier
Liam Nicholson (16), Hoërskool Rustenburg
Liam sê sy middelnaam is Akademie en die natuur is sy wegbreekplek. “My inspirasie kom meestal van probleme, wat ek of ander, ervaar en beleef het.” Liam sê hy het van kleins af die begeerte gehad om te skep en glo sy storie word deur die lens vertel. Daarom skryf hy graag gedigte wat hy op visuele manier uitbeeld. Liam wil homself graag vestig as entrepreneur.
Item: Video & Gedig
Jessica Arendse (17), Hoërskool The Settlers
Jessica sê sy beskou haarself as die grootste dromer in die wêreld en wil graag mense help deur haar werk en beskou haar ouers as haar grootste invloed en inspirasie. Fotografie is een van die grootste en belangrikste dele van haar lewe. Die ander belangrike deel van haar lewe is ysskaats (sy is deel van die Westelike Provinsie-span en ook afrigter) en omdat dit ’n duur sport is, verkoop sy tuisgemaakte kolwyntjies en neem foto’s om haar ouers by te staan. “Die gedig wat ek geskryf het, is een van my beste gedigte, want dit gaan oor so ‘n belangrike deel van my lewe en dit kom reg uit my hart. Die foto’s in die video is wat ek self geneem het en wys van my gunstelingmense in die hele wêreld. Dit is nie net prentjies nie, dit is die storie van my lewe …”. Haar grootste droom is om haar foto’s op die mure van ‘n kunsgalery te sien.
Item: Fotografie & gedig
Bernice van der Westhuizen
Bernice sê sy is “artsy” en mal oor “old school”-styl. Musiek, skryf en verfilming is haar passie en sy skryf soms haar eie musiek en maak video’s. Mense is vir haar kosbaar en op die ou einde glo sy liefde wen in elke situasie. Haar droom is om op sosiale media ’n platform deur musiek en “kort films” te skep om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak en hulle te help om hulle drome te bereik.
Item: Sang
Kyk na al die inskrywings hier.
Hoe die kompetisie gewerk het
As deel van Afrikaans.com se muurkunsprojekte, is besluit om by hoërskole regoor Suid-Afrika ’n kompetisie, #droomgroot17, te hou. Die doel was om aan alle hoërskoolleerders ‘n platform te bied waar hulle hul talente kon ten toon stel en uiteindelik die wenner te bemagtig om sy / haar talente verder te ontwikkel deur R10 000 prysgeld te investeer in iets wat die leerder nodig het om nader aan sy / haar drome te kom.
Die kompetisie het op 1 Julie 2017 afgeskop en op 30 Oktober 2017 gesluit. Enige hoërskoolleerder kon op sosiale media (Facebook / Instagram / Twitter) ‘n video plaas waarin hulle hul talente in Afrikaans ten toon stel. Saam met die plasing moes hulle die hutsmerk #droomgroot17 gebruik, sodat Afrikaans.com dit kon monitor. Daar was geen beperkings op hoeveel keer leerders kon inskryf nie. Ons het uiteindelik 77 inskrywings ontvang, waarvan 73 inskrywings unieke deelnemers was.