
Leon van Nierop saam met Anoeschka von Meck (skrywer van Vaselinetjie) tydens Silwerskermfees 2017.
“Om romanse en komedie te meng en dit boonop oortuigend te doen en nie die karakters te verkleineer of platvloers te maak nie (want dit is so maklik) is ingewikkeld.” -Leon van Nierop
Kleintyd het ons geglo aan Aspoestertjie wat haar prins, met die ingryp van die Goeie Fee, gekry het. Of die prins wat met ʼn enkele soen die Slapende Skoonheid na honderd jaar kon wakker maak. Waar hierdie feeverhale opgehou het, het Hollywood aangegaan. So sorg die filmbase met romantiese komedies dat ons altyd sal bly glo aan daardie towerformule wat uiteindelik sal sorg dat die twee hoofkarakters alle struikelblokke oorwin om bymekaar uit te kom. Romantiese komedies, heerlike liefdesverhale wat ons laat skaterlag, ʼn traan wegvee en uiteindelik tevrede uit die rolprentteater laat stap, verskaf aan baie mense vreugde. Alita Steenkamp bekyk hierdie fliekgenre van nader.


Filmmaker en musikant, Bouwer Bosch, reken die gewildheid van romantiese komedies lê in die gelukkige einde. “Wanneer jy ʼn happy ending verkoop, dan gaan jy ʼn groot gehoor hê. Die ander element wat hierdie genre so gewild maak, is die komiese aspek. Ons hou almal daarvan om te lag. Met ʼn romantiese komedie kyk jy na situasies en sê: “Dit het presies so met my gebeur!” Vir my lê dit in ʼn kombinasie van al hierdie dinge. Om vooraf in die fliek in te stap, en te weet al gaan jy huil, gaan alles op die ou end orraait wees, maak van romantiese komedies iets baie lekker.”

Leon van Nierop, vervaardiger, skrywer en rolprentresensent, reken die gewildheid van romantiese komedies lê in die feit dat romanse en komedie gemeng word. “Mense geniet dit om te lag terwyl hulle die komplikasies van verliefwees probeer verstaan en hanteer. ʼn Mens raak mos ʼn bietjie mal wanneer jy verlief raak, en romantiese komedies vier hierdie tydelike waansin op ʼn hoogs vermaaklike manier sonder dat iemand hoef te ly omdat hulle liefkry (en gewoonlik verloor). Romanse word dikwels met drama, struweling, probleme en struikelblokke vereenselwig, maar om romanse te kan geniet en uitbundig op die komplikasies wat dit meebring te reageer en selfs daarvoor te lag, help om die liefde net nog meer verkwiklik en genotvol te maak.”
Van Nierop vertel dat die geskiedenis van romantiese komedies ver terugstrek in die twintigste eeu. Hy sê dat al was daar romantiese komedies voor Frank Capra se It Happened One Night (1934), was hierdie een van die eerste rolprente wat die aandag behoorlik op die romantiese komedie gevestig het en dit gewild gemaak het. Dié fliek het die genre nuwe woema en intelligensie gegee, sê Van Nierop.

“In Semi-Soet gebeur snaakse dinge met mooi mense wat gevolglik onlogies optree, en dit maak romanse net nog meer toeganklik vir die gewone mens. Dit was genotvol om in hierdie rolprent te sien hoe liefde met ʼn straatwys-stappie uitgebeeld word. Die stappie swik dan op die onwaarskynlikste oomblikke wat tot groot vermaak lei,” sê hy.
Bouwer Bosch reken Suid-Afrikaanse filmmakers hoef vir geen oomblik terug te staan vir die flieks wat uit Hollywood kom nie. “In Suid-Afrika het ons ongelooflike stories om te vertel. Die enigste ding wat ons wel kan skei van die internasionale rolprentmark, is geld. Geld koop vir jou tyd in hierdie bedryf. Met geld het jy baie meer tyd om te skiet en af te rond en dit is op die ou einde die enigste verskil. Jy kan net soveel in een maand doen. Waar ons gewoonlik die geld het vir een maand se opnames, kry hulle sommer vier maande tyd. Daar is ook nie by ons die luukse om maande lank aan die post-produksieproses af te staan nie. Ek dink nie ons is enigsins agter die internasionale mark wat vaardighede en kreatiwiteit betref nie,” voeg hy by.

Bouwer en Leandie Bosch in Thys en Trix
Bouwer, was een van die vervaardigers van Vuil Wasgoed, ʼn aksiekomedie met ʼn skeut romanse daarin wat in Desember 2017 vrygestel is. Hy vertel dat daar in hierdie jaar, uit hulle stal, ʼn tipe romantiese komedie op pad is. Hy en sy vrou, Leandie, speel ʼn broer en suster wat albei in die polisie is. Die twee moet dan onder diepdekking gaan en voorgee dat hulle getroud is. Wanneer Thys, Bouwer se karakter, op iemand verlief raak, loop dinge vreeslik skeef. Thys en Trix word op 22 Junie 2018 vrygestel.


Kyk ʼn mens na verskillende lyste wat die top romantiese komedies uitlig, bring sekere van die titels ʼn warm gevoel na jou hart. Flieks soos Sleepless in Seattle, Must Love Dogs (2005), Love Actually (2003), Four Weddings and a Funeral (1994), Midnight in Paris (2011) en It’s Complicated (2009) is maar ʼn paar van hierdie titels waarna ek weer en weer sal kyk, sonder om ooit moeg te raak daarvoor. Op plaaslike front val romantiese komedies soos Vir die Voëls, Semi-Soet, Vir Altyd en Strikdas ook in daardie kategorie. Mag daar nog vele slim tekste van draaiboekskrywers kom wat ons plaaslike mark vir romantiese komedies behoorlik ʼn hupstoot sal gee en toenemend vir Hollywood sal wys dat ons al die pad byhou. Lank lewe romantiese komedies!


Leon se gunstelinge

Leon van Nierop sonder die volgende romantiese komedies as persoonlike gunstelinge uit:
- Love Actually (2003);
- Notting Hill (1999) (Een van die beste komedies ooit, sê hy.)
- Crazy, Stupid, Love (2011)
- 10 Things I Hate about You (1999) (Dit was slim en anders en gesofistikeerd, sê Leon.)