Liebenberg Primêr spog op Internasionale Moedertaaldag
Die onthulling van die pragtige en kleurvolle muurskildery was ‘n dag wat die leerders van Liebenberg Primêr nie sommer sal vergeet nie. Afrikaans.com saam met hul vennote, die ATR (Afrikaanse Taalraad), Vriende van Afrikaans (VVA – ‘n divisie van die ATKV) en Fedsas, het die 1 780 leerders van die skool geïnspireer om trots te wees op hul moedertaal, hul gemeenskap en hul unieke identiteit. Die dag is afgesluit met ‘n optrede deur Whaden Johannes – ‘n boorling van Mamre. Whaden het deur middel van sang sy storie van inspirasie met die leerders gedeel.
Talle leerders het nie gereelde toegang tot Afrikaanse boeke nie en van die skole se hulpbronne is ook dikwels skraps. Met die muurprojek skep ons ‘n bewustheid en word leerders aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik. Vriende van Afrikaans het Liebenberg Primêr verras met ‘n boektrommelskenking ter waarde van meer as R8 000. Me. Cheraldine van der Merwe van Vriende van Afrikaans (VVA) het leerders aangemoedig om te lees en ‘n liefde vir lees te ontwikkel. Me Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad het leerders bewus gemaak van respek vir ander tale en leerders gehelp om groot te droom oor hul toekoms.