In een van sy liedjies sing Cat Stevens (Yusuf Islam): “I don’t need no cold water to make me realize that I love my dog as much as I love you. But you may fade, my dog will always come through…” Of hierdie liedjie tong in die kies geskryf is of nie, daar is beslis sommige van ons wat ʼn besonderse liefdesband met ons honde, of katte, of selfs perde het. Alita Steenkamp het gaan inloer by Gerhard van Huyssteen, Francois Bloemhof en Danielle Boshoff om meer oor hul liefdes met sterte te leer.

Ziggy en Toffie pryk gereeld op Alita se Facebookblad
Op die webblad van die Flemington Dierehospitaal in New Jersey in die VSA, verskaf die veearts, dr. Martin Siegel, ʼn aantal redes waarom daar soms so ʼn sterk band tussen ʼn mens en sy troeteldier is. Blykbaar is ons die enigste spesie wat ter wille van vriendskap of kameraadskap so ʼn sterk verhouding met ʼn totaal ander spesie aanknoop. Een van die interessantste redes wat hy verskaf, is die feit dat mense deur eeue heen honde spesifiek geteel het om aan te pas by dit waarvan mense hou: Groot oë in verhouding met die grootte van die gesig. Spesifieke honderasse met ʼn kenmerkende eienskap, soos die sagte ore van ʼn spanjoel of labrador of die kreukels van ʼn sharpei is deur geslagte heen ingeteel om hulle aantreklik te maak. Dr Siegel sê voorts die feit dat ons altyd aan ons troeteldiere as kinders dink, regdeur hulle lewensduur, baie sterk bydra tot die besonderse liefdesgevoel wat ons vir daardie dier het.
Want Hoekom is nie Sommer nie…

Prof Gerhard van Huyssteen (fotograaf Nelius Rademeyer) met Hoekom en Sommer regs.
Deesdae ken ons dr. Gerhard van Huyssteen as die skeidsregter en kenner van kykNET se Op Die Spel. Gerhard is immers die voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ook die uitvoerende direkteur van VivA, die Virtuele Instituut vir Afrikaans, ʼn diens wat aan taalgebruikers velerlei praktiese hulpmiddele en gebruiksmiddele verskaf.
By die huis is dit egter Hoekom en Sommer wat vir Gerhard om die pinkie draai. Dis nou te sê as ʼn hond ʼn pinkie het. Voordat die twee poedels in sy lewe gekom het, was daar twee Deense honde, Ella en Karel wat uiteindelik aan ouderdom dood is. Na dié twee het hy egter besluit om ʼn honderas te soek wat nie so baie hare verloor nie, en hy het ʼn paar spesifieke rasse oorweeg. Eers het hy gekyk na ʼn Portugese waterhond, maar dié is baie skaars. ʼn Italiaanse waterhond het na ʼn goeie opsie gelyk, totdat hy uitgevind het hulle is uitstekende gatgrawers in die tuin. Die antwoord het toe geblyk in ʼn Duitse waterhond te lê. Ons ken dié honderas as poedels, en dink verkeerdelik dat dit ʼn Franse honderas is. Een van Lodewyk XIV se gunstelinghonde in Versailles was immers ʼn poedel met die naam, Filou, maar bloot die naam, poedel, verklap die Duitse herkoms, want dit hou verband met die Duitse woord, pudel. Pudel in Duits beteken om in die water te plas. (Dink ook aan ons woord, poel, vir water.)

Hoekom en Sommer
Hoekom is die oudste van Gerhard se twee hondekinders en is nou drie jaar oud. Hy is ʼn standaard sjokoladebruin poedel. Sommer is die jongste van die twee en ook sjokoladebruin, maar sy is ʼn miniatuurpoedel wat pas ʼn jaar oud geword het. Gerhard sê in sy soektog na ʼn hond wat nie baie hare verloor nie, het hy beslis die wonderlikste honde in die hele wêreld gekry.
Gerhard lag wanneer hy vertel van die hondefluisteraar, Cesar Millan, se beginsel dat wanneer honde in die huis woon, moet dit in drie dele verdeel word: ʼn sone vir die hond, ʼn sone vir die eienaar en ʼn sone waar almal gemaklik saam kan wees. Die beginsel het goed in sy huis gewerk, maar toe raak die lyne op ʼn dag gekruis. Gerhard se slaapkamer op die boonste vloer was sy alleenarea en die honde het in hulle area, onder die trappe, geslaap. Nadat hy op ʼn keer weg was vir ʼn week, het hy die oggend wakker geword met Sommer wat styf teen hom opgekrul in droomland was. Nou wie kan ooit met so ʼn gesiggie raas? Die volgende aand het sy finaal haar kleim op haar nuwe slaapplek afgesteek. Nou is dit vir hom moeilik om die afsonderlike ruimtes te behou.
Die liefde tussen Hoekom en Sommer is groot
Die HAT beskryf liefde as ʼn hartlike geneentheid of gehegtheid aan ʼn persoon of saak en Gerhard sê hy twyfel vir geen oomblik dat hier ware liefde ter sprake is nie. “Dit bly ʼn wonderlike verhouding en ʼn mens leer eintlik so baie by jou hond. Dit hou jou nederig, maar ook gedissiplineerd. Jy kan nie sommer net weggaan van die huis af nie. Elke middag vyf uur móét jy gaan stap. Ek sal nog sit en werk, dan kom Hoekom en lê met sy kop op my skoot totdat ek opstaan om met hulle te gaan stap. Dis nie net liefde alleen nie. Dit gaan oor verantwoordelikheid en respek vir mekaar. My honde maak my ʼn vol mens en ʼn ander mens as wat ek sou wees indien ek alleen gebly het,” sê hy.
Gerhard sê die twee verskaf hom eindelose vreugde wanneer hy hulle dophou terwyl hulle uitgelate met mekaar speel. Die ooglopende liefde wat die twee vir mekaar het, is vir hom baie kosbaar.
“Hoekom en Sommer maak dit altyd lekker om terug te kom huis toe. As jy weg was en die een kom kruip langs jou in, sê dit tog vir jou iets wat in die hond se kop aangegaan het vir die week wat jy nie daar was nie. Dis nie bloot net ʼn dom dier nie. Uiteindelik is die liefde waarmee hulle jou aankyk iets wat geld nie kan koop nie.”
Vier katte en ʼn skrywer

Francois en Katinka, die Noorweegse Boskat
Dit mag dalk na die titel van ʼn fliek of ʼn boek klink, maar die skrywer Francois Bloemhof, deel sy huis met vier katte wat vir hom veel meer as net Felis Catus, oftewel huiskatte is. Daar is die mannetjieskat Fernando, ʼn Siamees. Sy maats is die drie wyfiekatte, Katinka, ʼn Noorweegse Boskat, Rosebud, ʼn wit Birmaan en Emma, ʼn laslappiekat. Francois wil nie die vier se ouderdomme verklap nie want, spot hy, die wyfiekatte mag dalk aanstoot neem.
Francois vertel dat sy heel eerste troeteldier as kind ʼn hondjie was. Die hond het eers aan iemand anders op die dorp behoort en die derde keer toe hy teruggeloop het na sy voormalige huis toe, is hy ongelukkig doodgery. Net daar het hy besluit dat hy nie weer ʼn hond wil hê nie, maar eerder ʼn kat, want katte het ten minste nege lewens.

Emma en Fernando
Emma en Fernando sit die beste voetjie voor
Mense wat katte ken, sal weet dat jy gaan sukkel om ʼn kat ʼn sekere deel van die huis te belet en dié vier is geen uitsondering nie. Vir Francois is sy katte se veiligheid van die grootste belang en hulle kan net buitetoe gaan in sy binnehof en so maak hy seker dat hulle nie voor ʼn kar beland of dalk in die buurhonde se kake nie.
Omdat hy van die huis af werk, is die vier maar die hele tyd naby hom en daar is altyd een wat kom aandag soek. Op ʼn moeilike dag, sê hy, soek twee gelyk aandag en dan staan die rekenaar se sleutelbord stil. Tog maak dit nie vir hom saak nie, want hy glo dat jou lewe nie net uit werk kan bestaan nie. Die katte hou hom nederig en skerp die idee by hom in dat die lewe moet voortgaan en dat ʼn mens soms moet aandag gee aan die klein dingetjies.
Daar is by hom geen twyfel dat die gevoel wat hy vir die vier katte ervaar, liefde is nie, sê Francois. “Ek het nie kinders nie so hulle speel die rol van my kinders. Wat wonderlik is, is dat katte, anders as mensekinders, nie deur ʼn moeilike tienerstadium gaan nie. Hulle stel dus nie sulke moeilike eise aan jou as ouer nie en ek dink dit is beslis makliker om vir hulle te sorg. Natuurlik is die klein jakkalsies maar daar soos een van die vier wat altyd iets verskrikliks op die leerbank in die sitkamer doen. Ek is nie seker watter een dit is nie, maar ek het wel twee hoofverdagtes,” lag hy.
Nog nie een van die vier het al as ʼn karakter in een van sy boeke verskyn nie, maar sy vorige Siamees, Felino, is wel verewig in die strokiesprente waarin Agent Snoet die baasspeurder is met ʼn assistent, Felino die kat, wat eintlik die sake oplos. Francois het pas ʼn kontrak by LAPA geteken om die vyf boeke saam in ʼn omnibus uit te gee.

Francois en Fernando
Vir Francois lê die grootste vreugde van sy katte in die warmte wat hy by hulle kry. “Ek is ook lief vir honde maar dis soveel makliker om ʼn honde-eienaar te wees, want jy weet amper die hond gaan mal wees oor jou. Katte het mos hierdie misterieuse afstand wat hulle handhaaf. Die keer wat hulle vir jou liefde en aandag gee, voel dit altyd asof jy ʼn oorwinning behaal het. Katte is nie biologies geprogrammeer om ʼn klomp liefde en aandag te vertoon nie en wanneer jy dit kry, moet jy dit waardeer, want dit is nie te sê jy gaan dit môre weer kry nie.”

Rosebud geniet die Kaapse sonnetjie.
Klokslag vieruur in die middae staan die vier katkinders nader vir hulle bederfie van sagte kos. Francois lag en sê hulle probeer eintlik al veel vroeër om sy aandag te trek met allerlei krete wanneer hy in die rigting van die kombuis beweeg.
“Die klomp verskaf my baie plesier, hulle is baie vermaaklik. ʼn Mens probeer om elkeen op dieselfde manier groot te maak, maar dan het elkeen sy of haar eie persoonlikheid. Wanneer hulle so met my gesels, kan ek mos nie stilbly nie,” sê hy.
ʼn Meisie en haar perd

Danielle Boshoff is versot op haar diere.
Die eerste maal wat Danielle Boshoff haar oë op Tobe Turf Terror gelê het, het sy haar hart verloor. Danielle was in graad 10 toe haar ouers haar gevra het wat sy vir haar 16e verjaarsdag wou hê. ʼn Perd, het sy geantwoord. Haar ouers was effe oorbluf en het gesê dit gaan nie moontlik wees nie, maar sy kon gaan vir rylesse. Die dag by die ryskool het sy vir Tobe gewaar waar hy eenkant gestaan het, maar haar die hele tyd dopgehou het. Hy het saggies gerunnik toe sy nader stap. Die grootste vreugde het in die verrassing gelê toe haar ouers wel sê sy kan vir haar ʼn perd uitsoek wat hulle sal koop. Dit was nie nodig om een uit te soek nie, want Tobe het haar reeds gekies.
Aanvanklik het Tobe by die ryskool op stal gestaan en het sy net weekliks vir lesse gegaan. Dit het egter vir haar gevoel asof sy sukkel om die nodige band met die perd te vorm en na mooipraat het haar ouers ingestem om na ʼn plot in Walkerville te verhuis waar Tobe kon rondloop. Deesdae is daar saam met Tobe nog twee ander perde en Jack, die donkie. Al is die ander drie vir haar ook kosbaar, het sy met Tobe ʼn besondere band wat niks anders as liefde is nie, sê Danielle.

Danielle en Tobe
“Tobe is ʼn spesiale wese in my lewe, die beste ding ooit!” gesels Danielle. “Ek het al ʼn keer of wat van hom afgeval, maar sy optrede wanneer dit gebeur, verstom almal. Anders as ander perde hol hy nie weg nie. Hy gaan staan doodstil en buig af om te kyk of ek oukei is. Mense sê altyd ʼn dier kan nie verstaan nie, maar dis nie waar nie. Dit is byna asof Tobe vir my wil sê: “Wat soek jy daar onder? Is jy nie veronderstel om op my rug te wees nie?”

Emma en Jack, die donkie.
Oorweldigende liefde
Danielle is 20 jaar oud en is besig om ʼn kursus in Dieregesondheid deur Unisa te doen. Sy het eenmaal byna vir Tobe verloor weens koliek, en dit was die inspirasie om meer daaroor te wete te kom en terselfdertyd ʼn kwalifikasie te behaal. Sy werk ook by ʼn ryskool en op Vrydae doen sy vrywilligerwerk by die Highveld Horsecare Unit, ʼn dierewelsynsorganisasie naby Meyerton wat na mishandelde perde en donkies omsien. Dis juis by hulle wat sy vir Jack, haar donkie, in pleegsorg aangeneem het. Alhoewel die ander drie perde aanvanklik glad nie geneë was om vir Jack daar te verwelkom nie, is hy nou ʼn permanente deel van die huishouding.
Jack, die donkie, het ook ʼn spesiale plek
“Tobe is ook my sielkundige” vertel Danielle. “Wanneer ek ʼn rowwe dag gehad het of ek sukkel met my studies, of ek en my ouers het vasgesit, dan klim ek net op my perd en ek ry ʼn ent met hom. Ek het geweldig baie respek vir Tobe en ek praat met hom asof hy elke woord kan verstaan. Ek glo hy kan. Al luister hy net, maak dit alles net beter. Twee jaar gelede is ek geskop deur my een merrieperd. Sy was op hitte gewees en baie moeilik en toe ek haar wou vang om haar in die arena te laat oefen, het sy my geskop en ek het op my knieë neergesak en bloed gehoes. Die volgende oomblik het Tobe die merrie weggejaag en na my toe gekom en sy kop op my skouer gesit. Hy het dadelik geweet daar is fout met my. Ek kan nie vir iemand beter vra om na my te kyk nie, hy is my alles.”