Elders, die topverkoperboek oor die Camino deur reisjoernalis en TV-aanbieder, Erns Grundling, het as inspirasie gedien vir die baie suksesvolle en gewilde TV-reeks van 13 episodes wat sedert 2 Januarie op KykNET (Woensdae, 17:30, kanaal 144) en Showmax uitgesaai word.
Erns en die filmmaker en vervaardiger, Niel van Deventer van Palama Productions, het die televisiereeks ontwikkel. “Ek het in September 2017 vir ‘n maand lank teruggekeer na Spanje saam met ‘n klein kameraspan en sowat 350 km gestap,” vertel Erns.
Die reeks is ‘n leefstylavontuur, en fokus op verskeie aspekte: die genot van stap, kop skoonmaak en in die oomblik leef, die natuurskoon van die Spaanse platteland, kerke en monumente, die vriendskappe en konneksies wat gemaak word met mede-stappers en mense langs die pad, en die interessante en uiteenlopende blyplekke – natuurlik ook dan die cuisine eie aan Spanje.
“Daar is ‘n aanhaling langs die Camino – die Camino voorsien. Die Camino het beslis voorsien wat hierdie projek betref het. Ek het fantastiese mense langs die pad ontmoet en almal was gewillig om op kamera te gesels. En dit was heerlik om soms Afrikaans op die Camino te hoor en iemand van die huis raak te stap! My gedagtes en hart is vol van al die wonderlike avonture wat ons span saam beleef het in Spanje.”
Afrikaans.com het by US Woordfees 2017 met Erns gesels oor sy boek, Elders:
Kyk ook hier.