Taal en enige kwessies rakende taal ontaard vinnig in emosioneel belaaide situasies. Kyk maar wat het by Hoërskool Overvaal in Vereeniging afgespeel toe die hooggeregshof bevind het dat die skool nie 55 Engelssprekende leerders hoef in te neem nie.
Betogings en bekgevegte oor Afrikaans is nie vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners ‘n nuutjie nie. In 2015 het die Universiteit Stellenbosch Afrikaans as voertaal laat vaar nadat die #Afrikaansmustfall-betogings deur studente die universiteit vir weke lamgelê het.
Die taalkwessie in Suid-Afrika is kompleks. Suid-Afrika se bloedige geskiedenis veroorsaak dat Afrikaans steeds deur baie Suid-Afrikaners as ‘apartheidstaal’ en die ‘taal van die onderdrukker’ gesien word. Nie-Afrikaanssprekendes voel ongelukkig oor onder meer die akademiese voordele wat Afrikaanssprekendes geniet, terwyl Afrikaanssprekendes voel dat daar ‘n heksejag op hulle en hul taal gevoer word.
Maar wat veroorsaak ons gehegtheid aan taal en hoekom ontaard taalkwessies altyd in ‘n moddergooiery? Thought Leader het onlangs ‘n baie insiggewende blog oor die fenomeen gepubliseer. In die blog gee Bert Olivier, ‘n professor in filosofie aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth ‘n uiteensetting van hoekom mense soveel emosies aan ‘n taal heg en waarom dit belangrik is dat Afrikaans nie as ‘n sondebok beskou moet word deur die regerende party nie. Olivier bespreek ook die belangrikheid van moedertaalonderrig en waarom dit belangrik is dat ander Suid-Afrikaanse tale ook tot die (akademiese) vlak van Afrikaans en Engels ontwikkel moet word.
Lees die volledige blog hier.