
Of jy nou musiek maak, mense vermaak, stories vertel en skryf of ’n lekker bord kos voorsit … jy maak mense gelukkig! Dit is Lochner de Kock se passie. Hy dien mense. As daar nou iemand is wat woeker met sy talente is dit hierdie musikant, akteur, skrywer, sjef en mens-mens.
Hy woon saam met Christine Pretorius en hulle dogter Cara in Melville in Johannesburg. Pieter Cloete het met hom gesels oor sy passie en liefde vir sy werk en sy mense.
Lambertus Lochner de Kock is in 1950 gebore en het sy eerste jare in Europa deurgebring waarna hy sy skoolloopbaan in Pretoria voortgesit het. Min mense weet dat hy homself aanvanklik as liggaamlike opvoeding-onderwyser bekwaam het aan die Universiteit Stellenbosch en WP-kleure in gimnastiek verwerf het. Hierna was hy ’n jaar lank ’n sweefstokarties by die Billy Smart Sirkus in Londen voordat hy homself op drama begin toespits het. Sy eerste tree na Suid-Afrikaanse roem was toe hy as mede-aanbieder van Wielie Walie geliefd geraak het. Hy was die stem van Sarel Seemonster. Daarna maak hy naam as kontinuïteitsaanbieder op televisie, as sanger, koskenner, akteur en skrywer. Hy verdien ook sy plek onder die voorste name as musiekregisseur en sy verhoogvennootskap met Richard van der Westhuizen sedert 1987 vestig hom as een van Suid-Afrika se gewildste sangers. Aanvanklik tree hulle op as duet, maar neem dan die gesamentlike naam Vuurklip aan. Saam het hulle verskeie CD’s gemaak, waaronder Tussen treine in 1991 wat goue status verwerf het.
Koshoogtepunte sluit in sy gereelde kosrubriek in Beeld, Kok in die sop. Lochner lewer ook gereeld kospraatjies oor die radio. Sy eie kosprogramme, Allegaartjietyd en Kyk-innie-pot op KykNET.
Hoogtepunte van sy akteursloopbaan sluit in films soos ’n Pot vol winter, Journey to the center of the earth en Alien from L.A. en op televisie tree hy onder andere op in Vyfster, Die voortreflike familie Smit, Honeytown, Maak ’n las en Dryfsand. Hy is ook betrokke met die oorklanking en opneem van radio- en televisieflitse en speel gereeld in radiodramas.
Lochner is ook bekend as ’n sjef en het verskeie Suid-Afrikaanse kookboeke geskryf, waaronder sy Cordon boer-kosboek Die Cordon Boer-reeks is onlangs uitgebrei om Die Cordon Boer-soute en -souse in te sluit.
Hy het reeds op skool begin gedigte skryf en van sy gedigte, sketse en kortverhale het in die tydskrifte Graffier, Stet en Standpunte verskyn. Hy skryf ook fantasie-kinderboeke oor Matyn die stermannetjie en Kelin die dwergmannetjie. Sy kinderverhale Die dag toe Danser Vuurman sy kop verloor het en Adami is opgeneem in die versamelbundel Goue fluit, my storie is uit onder redaksie van Linda Rode. Hy vertaal ook verskeie kinderverhale van Neil Morris in Afrikaans.