
Rock, jazz, country … Beeskraal is ewe gemaklik, vars en vreesloos in elke genre wat hierdie passievolle ouens aanpak. Definitief een van Suid-Afrika se bekendste ‘rock’-groepe en hulle maak nou gereed vir die groot 21! Pieter Cloete het met Charlie Smidt gesels oor die groep se loopbaan en toekomsplanne.
Beeskraal was die eerste Suid-Afrikaanse groep wat by die Ukkasie-fees in Londen opgetree het en maak reeds meer as 18 jaar musiek. Met nege albums agter die blad en ’n tiende op pad is dit duidelik dat hul aanvanklike ‘nismark’ heelwat momentum gekry het en dat die groep uitstaan vir die groei en ontwikkeling in hul musiek. Die groep het talle toekennings verwerf. Hulle ontvang die VONK tydskrif Toekenning vir Beste Groep en Album, die ATKV ere-toekenning vir hul bydrae en bevordering van Afrikaanse Rock Musiek, Geraas (SABC 2) Musiek Toekenning vir Beste Rock Groep, Kanna Toekenning (KKNK) vir Beste Afrikaanse Groep en die Huisgenoot Toekening vir beste rock groep.
Beeskraal bestaan uit vier lede, Charlie Smidt, Kevin Hurter, Terence van Wyk en Wouter Reyneke. Charles is die sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler. Kevin speel leierkitaar en sing agtergrond. Terence speel tromme en Wouter baskitaar. Al vier is geskoolde musikante wat hulle studies by die eertydse Technikon Pretoria voltooi het.