
Touch of Class maak nou al langer as 31 jaar musiek – beslis ’n groep in ’n klas van hul eie! Die oorspronklike lede was Deon van der Merwe (links) en Ronell Erasmus, maar na 23 jaar het Ronell in 2011 besluit om die groep te verlaat om op haar gospelmusiek te fokus. Ruhan du Toit (regs) het toe dieselfde jaar by die groep aangesluit.
Touch of Class het sedert hul ontstaan reeds 19 albums uitgereik. Hulle album “Ek en my meisie” wat gedurende 1992 vrygestel is, het goue status bereik met 25 000 verkope en voortgegaan om twee jaar later platinum status te bereik. Verskeie goue albums het gevolg, byvoorbeeld “Bamboesbos”, “Stamp daai bene” en “Moenie worrie nie”. Deon van der Merwe se kitaaralbums “Kitaarboogie”, “Treffers van die Shadows”, “Crying guitar” en “’n Huldeblyk aan Ricardo Bornman” het ook goue status bereik. Vir laasgenoemde huldeblyk-album het hy ook ’n SAMA-toekenning ingepalm.
Waaraan skryf hul hul sukses toe?
“… toewyding, totale deursettingsvermoë en om die groter prentjie in ag te neem … Niemand bly groot nie …”
Pieter Cloete het gesels met Touch of Class oor hul dinamika as groep en wat dit verg om so lank as groep bymekaar te bly.