
Jannie du Toit en Thean Kotze, gesels oor hul passievolle vertoning: Kiekies – ’n huldeblyk aan Lucas Maree.
(Onderhoud deur Pieter Cloete)
Met Kiekies – Lucas se liedjies, herontdek die ervare Jannie du Toit en Thean Kotze (lid van Ses Snare) die musiek en lewe van hul gewaardeerde vriend en kollega, Lucas Maree. Die gehoor ervaar opnuut hierdie legende van Afrikaanse musiek se verbeeldingryke kyk na die lewe en kan hul deur die persoonlike anekdotes iets beleef van dié uitsonderlike kunstenaar se menswees en kreatiewe gees. Met hul afgeronde kitaarspel, harmonieë en betekenisvolle teks, soortgelyk aan Lucas se folk-musiek, neem Jannie en Thean die gehoor op ’n reis deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat Lucas daargestel het.
Lucas Maree
Lucas Maree het vir die grootste gedeelte van sy loopbaan Engelse musiek in kroeë en restaurante in en om Pretoria en Johannesburg gespeel, onder andere “After dark” en “Fonteine Pub ’n Grill”. Hy begin in 1981 in Afrikaans skryf, nadat hy by Jannie du Toit se huiskonserte ’n draai gaan maak het, en onder andere vir Coenie de Villiers daar hoor sing het. Lucas, Jannie en Coenie was groot vriende en het dikwels saam opgetree.
In 1998 ontvang Lucas ’n SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse album. Hy tree in 2001 op by die eerste UKKASIE-kunstefees in Londen wat by die Wembley-stadion gehou is en was ook een van die min Afrikaanse kunstenaars om by die Royal Albert Hall in Londen op te tree. Lucas was ook in 2005 in die rolprent, Ouma se slim kind, te sien.
Jannie du Toit & Thean Kotze gesels oor Lucas Maree.
“… die effek wat hy op jou gehad het, was die feit dat hy net met sy kitaar en sy lirieke jou kon wegvat in sy wêreld in …”
– Jannie du Toit

Die Ses snare
Thean is deel van die groep Die Ses Snare. Lees meer …
Jannie du Toit
Jannie du Toit is ’n liedjieskywer, internasionale sanger en pionier in die ontwikkeling van Afrikaanse musiek.
Sedert sy beginjare as sanger op die eerste toetsuitsendings van SATV in 1975 en as lid van die Afrikaanse folkgroep TRILOGIE, het die een hoogtepunt na die ander gevolg. Die inpalm van die “Honorary Mention Prize” in die American Song Festival, het hierdie suksesvolle musiekreis behoorlik laat vlam vat.