![Refentse1 Kunstenaarsfokus – Refentse](https://afrikaans.com/wp-content/uploads/2020/04/Kunstenaarsfokus-–-Refentse.jpg)
“… behalwe dat ek Afrikaans sing, is ek nog steeds Suid-Afrikaans; ek staan nog steeds op vir elke liewe kultuur en taal in Suid-Afrika … ek dink in Afrikaans en partykeer droom ek in Sotho, partykeer moet ek eintlik dink in watter taal ek gedink het …”
– Refentse
Almal ken teen dié tyd al Refentse se storie van hoe hy deur Cecilia Kruger Marchionna “ontdek” is op ’n dag in 2015. Dit was in Vereeniging – sommer op die sypaadjie voor sy huis. Sy het ’n video van hom geneem en dit op sosiale media gelaai en nouja … van toe af is daar geen keer aan hierdie talentvolle musikant nie. Nadat hy dieselfde jaar by die KKNK in Oudtshoorn deur Karen Zoid raakgesien is en sy hom genooi het om die verhoog met haar te deel en hy so ’n platekontrak losgeslaan het, het Refentse nog net groter hoogtes bereik. “Twee jaar later kan ek dit steeds nie glo nie,” sê Refentse.
Refentse was in ’n Afrikaanse laerskool, Unitaspark en daar het hy Afrikaans leer praat. Sy ouers kan glad nie Afrikaans praat nie en het Afrikaanse liedjies vir hom gespeel toe hy klein was. Refentse sê sy ouers was aan die begin huiwerig oor sy loopbaankeuse, maar deesdae probeer hulle elke konsert van hom bywoon en ondersteun hulle hom ten volle.
Sy eerste CD, My hart bly in ’n taal, het dubbel-platinum status bereik in minder as ’n jaar en hy beoog om April/Mei 2017 ’n nuwe album uit te bring met liedjies wat hy self geskryf het – liedjies wat gaan oor die liefde, geluk, hoop en vrede.
Hierdie jongman met die mooi glimlag is passievol oor Afrikaans en sê solank as wat sy musiek mense gelukkig maak, is hy ook gelukkig.
Pieter Cloete gesels met Refentse Morake.