“Willie Hofmeyr, eerste voorsitter van Naspers, se oom (’n dominee) het gesê: ’n Taal sonder ’n kommersiële basis sal kwyn en doodgaan.’ En ek stem daarmee saam. Dit is hoekom ons voortdurend daarna streef om ons koerante, tydskrifte en boeke relevant en nuttig te hou en waarom ons in nuwe internet-media belê om Afrikaans te steun as ’n relevante en belangrike taal.” – Ton Vosloo
Theunissen ‘Ton’ Vosloo, waarskynlik Suid-Afrika se grootste mediaman, het onlangs sy 80ste verjaarsdag gevier. Afrikaans.com vier sy bydrae en belangrike rol wat hy in die media gespeel het – dié formidabele koerantman wat Naspers opgebou het tot ’n multinasionale maatskappy en so bygedra het tot die ekonomiese waarde van Afrikaans.
As dit kom by mediaverbruik, is Afrikaanssprekendes in die voorste gestoeltes onder die land se bevolking. Hul inligtingsdieet is die tweede hoogste onder alle taalgroepe vir nuus en stories in koerante en tydskrifte, en die derde grootste onder televisiekykers en radioluisteraars. En kom dit by ‘n aandjie uit, kan min dinge vir hulle kers vashou by ‘n lekker fliek …Afrikaanssprekendes is hoogs ingelig oor hul eie wye leefwêreld én voluit by met gebeure op die internasionale verhoog.
Ton Vosloo gesels met Afrikaans.com oor Afrikaans #onmisbaar. “… jy moet jouself kan uitdruk anders kan jy nie leierskap neem van besigheid of ’n maatskappy nie en kan jy ook nie voor loop en ’n koerant uitgee nie … ons het die reg om in te tree vir Afrikaans.”
Kyk ook
’n Loopbaan wat oor 60 jaar strek
“’n Leier is in wese alleen en jy moet jou dinge uitwerk en jou beleid gaan verkoop” – Ton Vosloo in gesprek by US Woordfees 2017
Ton Vosloo het diep spore in die koerantbedryf, media- en sakewereld getrap tydens sy jare by Naspers, Media24 en MultiChoice – ’n loopbaan wat oor 60 jaar gestrek het. Met sy uittrede in 2015, kom een van die invloedrykste loopbane in die Suid-Afrikaanse media tot ’n einde.
In ’n artikel wat in 2013 in Die Media verskyn het, sê die media-akademikus prof. Lizette Rabe, dat om Ton Vosloo se loopbaan te verstaan, moet jy rekening hou met hom as die rolmodel-joernalis, die ‘supremo mediabestuurder/-strateeg’ en die filantroop. “Hy was so ’n katalisator vir soveel verwikkelinge (by Naspers).”
In die vroeë 1960’s word hy politieke verslaggewer vir Dagbreek. In 1970 en 1971 gaan Ton as politieke beriggewer met die Nieman-beurs (bekend as die Nieman Fellowship) Amerika toe. Dit was vir hom ingrypend en het ’n groot invloed op sy denke gehad en hom perspektief op die onvolhoubaarheid van apartheid gegee. Hy het besef Suid-Afrika was uit pas met wêreldstrome en daar was nog ’n lang pad om te loop.
Die Beeld en Dagbreek het in 1970 saamgesmelt om Rapport te stig en in 1974 stig Naspers die dagblad, Beeld – met Ton as nuusredakteur. In 1977 word hy Beeld se derde redakteur, ’n pos wat hy tot 1983 beklee het. In 1984 word hy besturende direkteur van Naspers.
Dit was moeilike dae … mense het nie begryp waaroor dit gaan nie en was agterdogtig …” – Ton Vosloo oor die beginjare van Naspers.
Volgens prof. Lizette Rabe was Naspers se transformasie onder Vosloo se leiding kommersieel en ideologies uitmuntend. Naspers koop dan ook die Engelse koerant City Press en die tydskrite Drum en True Love. ’n Stap wat in die media as uiters betekenisvol beskou is.
In die middel 1990’s het Naspers Perskor se 50% van Rapport gekoop – nadat Perskor en Caxton/CTP saamgesmelt het – ’n hoogtepunt vir Ton en ook die begin van die gebeure wat die skuif in ons politiek teweeggebring het.


’n Betaalkanaal op TV
“Toe Piet Cillié, die vorige voorsitter van Naspers my genader het om besturende dirtekteur van Naspers te word, het ek in onkunde ‘ja’ gesê, want ek het gedink as ’n mens ’n koerant soos Beeld met meer as 200 werknemers kan bestuur, kan jy sekerlik ook ’n uitgewersmaatskappy bedryf. Ek was soos ’n lam ter slagting … maar dit het goed uitgewerk.”
Met sy intrede as besturende direkteur van Naspers begin hy die strategiese transformasie van die maatskappy en die beplanning van ’n betaalkanaal op televisie. Uiteindelik het die maatskappy die finansiële invloed gehad om die digitale skeidslyn te oorkom. Rabe sê ook dat die aanstelling van Koos Bekker in 1984 om die M-Net-strategie te beplan, een van Vosloo se eerste groot besluite was – ’n besluit wat die mediatoneel in Suid-Afrika dramaties en drasties verander het en die weg gebaan het vir Naspers om die globale mediareus van vandag te word.

Koos Bekker
Om M-Net van die grond af te kry, was nie ’n maklike taak nie, maar Vosloo het tog die Naspers Raad oortuig om R50 000 te bewillig. Teen 1992 het hul reeds wins getoon. Volgens Vosloo was Bekker die dryfkrag agter M-Net se sukses. Sê Vosloo: “Ek het die politieke stemwerwery behartig om ’n lisensie te kry en Koos het al die harde werk gedoen om die stasie – die eerste van sy soort in Afrika – lewensvatbaar te maak.” Bekker het by Vosloo oorgeneem as Naspers se voorsitter. Volgens Vosloo is Koos Bekker geniaal wat die toekoms van die digitale era voorsien het.
Vosloo sê ook dat Naspers van meet af aan in innovasie geglo het. Aldus sy woorde: “Wys my ’n tevrede redakteur of sakepersoon en ek wys vir jou ’n swak redakteur of sakepersoon.” Naspers het geleenthede aangegryp en weens die maatskappy se digitale uitbreiding, is die maatskappy tans ligjare verwyder van die beginjare en verteenwoordig in 133 lande.
Ton Vosloo oor aanlyn reklame
Vosloo sê dat die helfte van die wêreld se bevolking (drie miljard) reeds aanlyn is – daarom moet Suid-Afrika aanpas en gereed wees. Die feit dat data duur is, maak dit moeilik, maar hy voel dat dit wel op pad is – alhoewel ’n stadige proses. Hy sê ook dat baie mense nie internet kan bekostig nie, maar die meeste het wel selfone en sal waarskynlik oorskakel na slimfone en na gelang die getalle groei, glo hy sal die adverteerders wel daarna kyk.
Vroeg-vroeg reeds lief vir woorde
Ton Vosloo is in 1937 op Uitenhage in die Oos-Kaap gebore. Sy ma was ‘n boekwurm en dis deur haar liefde vir lees dat die jong Ton se liefde vir boeke en woorde ontwikkel het – desjare toe sy ma hom saamgeneem het biblioteek toe. Kollegas vertel van sy welbelesendheid en sy gevolglike passies vir kuns en die natuur asook sy talent as ’n baasverteller.
Op skool begin hy skryf vir twee plaaslike koerante en besef daar en dan op sy toekomstige nering – hy sou joernalis word. Na matriek in 1956 sluit hy by Die Oosterlig (tans Die Burger Oos) in Port Elizabeth aan. Kort daarna gaan werk hy by Die Landstem in Kaapstad. In die vroeë 1960’s word hy politieke verslaggewer vir Dagbreek.In 1974 word hy nuusredakteur van Beeld en in 1977 word hy redakteur. In 1984 word hy besturende direkteur van Naspers en die res … is geskiedenis.

Foto: netwerk24 Bekendes in die Afrikaanse koerantwêreld het ‘n draai gemaak by Die Volksblad: Ton Vosloo, Wiets Beukes, Bart Zaaiman, Chris Moolman en Hennie van Deventer.

Die ontslape Adam Small, Media24 Boeke HUB, Eloise Wessels en Ton Vosloo.

Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo.

Die Hoërskool Brandwag in Uitenhage sal voortaan wedstryde op die Ton Vosloo-sportterrein beklink nadat die skoolterrein tydens die 2017 reünienaweek amptelik vernoem is na een van hul bekendste oudskoliere.
Bronne en lees meer-skakels:
Ton Vosloo praat met Lizette Rabe by 2017 Woordfees oor die pad wat die media moes loop. Lees meer
Bron en artikel in die tydskrif, Die Media – Junie 2013-uitgawe
Lees ook die artikel op LitNET oor die boek, Die Burger 100: Sy mense en hul stories
Ton Vosloo oor keuses, sukses en hoe M-Net met R50 000 begin is.
Gill Moodie se blog oor Ton Vosloo se buitengewone loopbaan as joernalis en bestuurder en hoekom Naspers ’n monopolie in betaal-TV geword het. Leer hier
Lees ook die Fin24-artikel kort na Vosloo se uittrede as Naspers-voorsitter
Oor Ton Vosloo se loopbaan en prestasies klik hier
Bun Booyens oor die toekoms van gedrukte media in Suid-Afrika. Lees meer hier
Oor Naspers
Kitsfeite:
- Ton Vosloo was stigterslid van M-Net – wat mettertyd na 48 lande uitgebrei het.
- Vosloo en vennote begin MTN in die 1990’s.
- Naspers spits hom toe op ontluikende markte en is aktief in internet, drukmedia, televisie en ander vertakkings van die mediabedryf in 129 lande.

