“Identiteit is ’n groot ding vir my. Jy moet te alle tye jouself wees en weet waar jy vandaan kom.”
– Hildegardt Whites.
Outentiek – Hildegardt Whites …
Min mense weet dit van haar, maar Hilde reken sy was eintlik ’n baie skaam kind op skool. Die skaam dogtertjie van Nieuwoudtville in die Noord-Kaap het finaal uit haar dop gekruip.
Sy is bekend vir haar rol as Bonita in die SABC 2-sepie, 7de Laan, en as jy die karakter ervaar, is dit moeilik om te glo dat sy haarself as ’n introvert beskou.
“Ek onthou goed die dinge wat ons voor in die klas moes doen in Afrikaans en ek onthou dít is wat my selfvertroue gegee het.”
Die talentvolle aktrise het in 2016 besluit om dit wat haar gelukig maak op ’n album op te neem. Sy het 13 dorpies langs die Weskus en in die Noord-Kaap waar haar wortels lê, besoek en plaaslike musikante opgespoor om haar te help om haar hartsklanke in 30 dae op te neem – en dit alles is op kamera vasgelê vir Via!

“Ek wou nog altyd ’n album opneem. Maar met baie spesifieke klanke, ek kan dit nie beskryf nie. Dis outentiek en organies. Klanke wat jy nie meer hoor nie. Trekklavier en mondfluitjie en kitaar wat anderste gestel word. ’n Klank wat ek onthou van my kinderjare. Klanke wat jy net daar in daai wêreld kry. Ons het gegaan na elke dorp wat vir my iets beteken het. Vryburg in die Wes-Kaap, waar ek grootgeword het. Die Sederberge en Clanwilliam se dam. Ons gesin het elke Sondagmiddag na Clanwilliam se dam toe gery. Vredendal, waar ons inkopies gaan doen het. Vanrhynsdorp, waar my familie woon”, het sy aan SARIE se sosiale redakteur Fanie Cronje gesê.
Hildegardt het dié program saam met haar akteursvriende Diaan Lawrenson en Jody Abrahams gemaak. Jody het die regie gedoen, haar musikantman, Kuba Silkiewicz, was die musikale regisseur en Diaan het dit vervaardig.
“Wat my laat besluit het om in Afrikaans te sing, dink ek, is die taal… dis so mooi! Jy kan jouself so mooi uitdruk in Afrikaans … Namakwaland se mense is my mense … en hoe hulle gepraat het, dit is net so pragtig en mooi en vol … en DIT het vir my laat besluit, ek wil graag in Afrikaans my stories vertel…”
Op die vraag: Wat maak haar liedjies anders as ander Afrikaanse liedjies, sê sy: “Dis so aards, dit sê dit net … dit sê die woorde en dit praat met jou binneste…”
As sy een liedjie kan uitsonder wat vir haar baie beteken is dit, Kinders van die stof wat haar man, Kubz Silkiewicz, geskryf het.
Wat presies is haar hartsklank? “Dis die klank van ’n stofpad … die grond as jy dans … dan hoor jy dit, die trap van die Nama, die Nama stap soos die mense dans …”
Die album is op pad en behoort in 2018 op die rakke te wees.
Pieter Cloete het met haar gesels.
Kyk hier:
Meer oor Hildegardt:
SARIE: Hildegardt – ontmoet die nagtegaal van die Weskus.
Hidegardt Whites se Facebookblad.