
In hierdie boek nooi dié gewilde kletsrymer jou om saam te stap op sy lewenspad. Hy gesels reguit oor die dinge wat hom gevorm het, die sake wat hom na aan die hart lê … en hy doen dit in die taal van sy hart. Afrikaans.
Oor sý Afrikaans sê hy: “Afrikaans is ’n groot deel van wie ek is. Dis die taal waarin ek my in oomblikke van woede kras uitgedruk het. Dis die taal waarin ek goed gesê het terwyl ek baklei het, waaroor ek agterna spyt was. Dis die taal waarin ek liefkosing uitgedruk en ontvang het … As Ma geskel het, of jy bang was … dis alles momente, en alle momente vorm my bestaan.”
Daarom nooi hy met hierdie boek lesers om ’n ander Afrikaans te leer ken. Elke hoofstuk het Afrikaanse uitdrukkings uit sy grootword- en leefwêreld as vertrekpunt, en dit is vervleg met sy bekende kletsrym-lirieke waarmee hy vlymskerp kommentaar lewer op maatskaplike kwessies en dinge wat hom na aan die hart lê.
Simon Witbooi (bekend onder sy verhoognaam HemelBesem) is alombekend as kletsrymer, TV-aanbieder, rubriekskrywer en motiveringspreker. Ná sy arm grootwordjare in die suidelike voorstede van Kaapstad was hy ná matriek ’n tyd lank ’n pastoor op Worcester, voordat hy teruggekeer het Kaap toe om op sy hip-hoploopbaan te fokus. Hy is deesdae een van die bekendste hip-hopkunstenaars in die land, en ook ’n gereelde ankeraanbieder van die gewilde joernaalprogram Pasella op SABC2.
Simon het ’n passie vir Afrikaans en hy is onder meer betrokke by die ATKV se projek Woorde Open Wêrelde (WOW), wat daarop gemik is om ’n liefde vir lees by skoolkinders te kweek. Hy is ook betrokke by die ATKV se jaarlikse Liedjieslypskool, wat daarop gemik is om nuwe Afrikaanse liedjieskryftalent te ontwikkel.
Simon is met die hip-hopkunstenaar, YOMA, getroud, en hy is die trotse pa van twee dogters, Simile en Halo, uit ‘n vorige verhouding en Engel, sy en YOMA se eersteling.