“Die belangrikste ding wat enigeen moet weet, is waar jou naaste biblioteek is.”
Albert Einstein.
Daar is meer as genoeg wetenskaplike bewyse bymekaargemaak om die belangrikheid van lees by kinders te beklemtoon. Trouens, die kundiges gaan sover as om te sê dat ’n liefde vir lees en vir boeke die grootste geskenk is wat enige ouer aan sy kind kan gee. Die grootste dilemma is egter dat kinders nie altyd die nodige toegang tot boeke het nie. Nie almal kan voldoen aan die vereiste van pediaters wat meen dat jou kind se stapel boeke altyd bo hom of haar moet uittroon nie. Dit is waar die waarde van ’n skool- of munisipale biblioteek lê.

Gedurende Junie 2017 het LAPA en NB Uitgewers, die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV en die Wes-Kaap-onderwysdepartement ’n besonderse werkswinkel, Word ’n boekfluisteraar, by Laerskool Welgemoed in die Kaap aangebied. Hierdie werkswinkel het gefokus op die rol van biblioteke in die onderwys en meer as 100 mense het dit bygewoon. Verskillende skrywers het die kans gekry om oor boeke en skryfwerk te gesels terwyl biblioteekpersoneel nuttige wenke uitgeruil het.



Vir elke mens is daar ‘n boek
Cheraldine van der Merwe van die VVA het in haar aanbieding verwys na die term boekfluisteraar en gesê dat ’n biblioteek die plek is waar mense en boeke kan ontmoet en enigeen wat in ’n biblioteek werk, kan ’n boekfluisteraar wees. Sy het die skrywer James Patterson aangehaal: “Daar bestaan nie iets soos ’n kind wat nie van lees hou nie, maar daar bestaan wel iets soos kinders wat die verkeerde boeke lees.”
Louise Smit was daar met Haas Das en ‘n video oor Du Toitskloof Wyne se biblioteekbus het boekliefhebbers se tone laat krul.
Du Toitskloof se biblioteekbus
Wat hierdie bus so besonders maak, is dat dit indirek befonds word deur die werkers van Du Toitskloof. Die idee van die mobiele biblioteek is deur Du Toitskloof Wyne geïnisieer en met finansiële ondersteuning van Douglas Green Wyne is die voertuig aangekoop en toegerus. Die bedryfskoste word egter geborg deur die werkers van Du Toitskloof Wyne as deel van die Fairtrade-inisiatief wat aan werkers ’n sekere persentasie van die winste teruggee. Bernard Kotze, handelsmerkbestuurder by Du Toitskloof Wyne sê dit is ’n wonderlike gedagte wat vanaf die plaaswerkers gekom het. “Uit die R4,6 miljoen wat hulle in die laaste jaar verdien het, het hulle R500 000 opsygesit om die bedryfskoste van die mobiele biblioteek te dek. Dit sal jaarliks geskenk word. Die Du Toitskloofkinders deel die lekkerte van hul busbiblioteek ook met ander plaaskinders en skole uit die omgewing wat geen ander toegang tot ‘n biblioteek het nie.
Ver verwyder van die wynlande van die Du Toitskloof wynlandgoed lê Eldoradopark Primêr, ’n laerskool in die woonbuurt digby Johannesburg. Diana Robertson-Tsotsetsi is een van Afrikaans.com se ambassadeurs. Sy is ’n onderwyseres by die laerskool en die verengelsing van hierdie woonbuurt wat vroeër sterk Afrikaans was, is vir haar ’n saak van kommer. Diana het vanjaar ingeskryf vir die Mev Suid-Afrika-kompetisie en die gemeenskapsprojek wat sy aangepak het, is om ‘n biblioteek by die skool op te rig.

“Die skool het 1 200 leerders en daar is bloot twee rakke vol boeke wat as die biblioteek dien. Ek dink dit is onregverdig om te verwag dat dit aan die leerders se leesbehoeftes kan voldoen. Daar is nie meer n kultuur van lees by die skole nie en ek wil graag ’n verskil maak. Ons het reeds ’n skenking van Standard Bank en die Universiteit van Johannesburg se Natuurwetenskap-fakulteit ontvang vir die skeepshouer wat gaan dien as die biblioteek. Nou is ons hard besig om geld vir rakke en boeke in te samel. Ek hoop dat die publiek hulle harte sal oopmaak vir skenkings aan ons biblioteek. Selfs tweedehandse boeke is welkom”, sê Diana.
Nog ’n storie van hoop is die van John Nicholson, wat saam met sy vrou ’n biblioteek in hulle agterplaas opgerig het. Hulle woon in Lavender Hill en wou graag die kinders van die strate af hou en ’n veilige hawe vir hulle skep. In 2016 is Nicholson met ’n ATKV-Veertjie vereer vir die onbaatsugtige werk wat hy doen om die leeskultuur onder die kinders van Lavender Hill aan te wakker.
In die nadraai van die verwoestende Knysna-brande (2017) het mense ook deur middel van skenkings stapels boeke aan die gemeenskap in Knysna oorhandig. Dit was wonderlik om te sien met hoeveel oorgawe boeke geskenk is.

Boeke mag nie ’n voorreg wees wat net sekere mense mag geniet nie. Deur hande te vat met projekte soos hierbo genoem, kan jy ’n groot verskil aan baie kinders se lewe maak.
Om kontak te maak met Diana Robertson-Tsotsetsi, stuur ’n e-pos aan dianerobertson7575@gmail.com
*Met dank aan Izak de Vries (Lapa)