Johan Myburg is ‘n digter en kunsskrywer van Johannesburg.

Sy eerste digbundel, Vlugskrif het in 1984 verskyn. Johan se tweede digbundel, Kontrafak, is in 1995 met die Eugène Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Johan se jongste digbundel, Uittogboek, het in Junie 2017 by Protea verskyn. Hy lewer gereelde bydraes oor die internasionale letterkunde vir die radioprogram, Skrywers en boeke, op RSG. Wat lees hy?
Hier is ʼn paar van sy onlangse gunstelinge:
1. Dorado deur Tom Dreyer, Penguin, 2016:
Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein, Equatoria en Stinkafrikaners, waarvoor hy met die Akademie van Kuns en Wetenskap se Eugène Maraisprys bekroon is. In Nuwe Stemme 1 het hy gedebuteer as digter en het ook al kortverhale geskryf.
Dorado (wat verwys na die vis sowel as ʼn pot goud aan die einde van die reënboog) is ʼn magiese roman waarin Gilbert ná die dood van sy pa deur vreemde boodskappe oorval word – onder meer deur visioene van skole visse en kontoerlyne van lig. Die visioene noop hom om ʼn reis te onderneem, weg van sy kleindorpse bestaan in Kirkwood, deur die Karoo tot in Kuilsrivier.
Wat opval van Dorado is die filmiese kwaliteit. Op die voorblad beskryf Willem Anker die roman as iewers tussen die werk van David Lynch en Wim Wenders. Wat nie uit die kol is nie. Dis gewis ʼn aangrypend verrassende boek.
Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/11/tom-dreyer-dorado-2016.html
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/mens-se-soeke-na-el-dorado-versinnebeeld-20161129
2. Die skaalmodel deur Anneli Groenewald, Tafelberg, 2016.
Hierdie debuut van Anneli Groenewald, wat ook die debuutafdeling van NB se Groot Romanwedstryd in 2015 gewen het, bied ʼn sonderlinge leeservaring.
Dit is die verhaal van Skipskop en die vergissings van ʼn era waarin militêre slaankrag goeie oordeel oorwoeker het, en word vertel deur ene Berdina Visagie, argivaris van die Bredasdorp-skeepswrakmuseum. Groenewald slaag vernuftig daarin om haar verteller deurgaans aan die woord te hou – met behulp van allerlei tekste: briefwisselings, e-pos-boodskappe, koerantberigte en wat nie al nie.
Benewens die sosio-politieke implikasies van gedwonge verskuiwings kom natuurbewaring en die ekologiese implikasies van kortsigtigheid in die roman na vore.
Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-die-skaalmodel-deur-anneli-groenewald/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/anneli-groenewald-oor-haar-debuutroman-die-skaalmodel/
3. Huilboek deur Ryk Hattingh, Human & Rousseau, 2016.
Ná ʼn stilte van net minder as 20 jaar oorrompel Ryk Hattingh ʼn mens met ʼn op die oog af eenvoudige vertelling oor sy tuin en sy lewe as skoenmaker nadat hy en sy gesin 1997 “in die toue voor die ‘Landsverlaters’-kantoor van die Departement van Binnelandse Sake deurgebring” het. Hul bestemming? Nieu-Seeland, die land van rugby en roei, “want die twee ou eilandjies dryf mos soos twee drolle doer onder in die see rond”. Oënskynlik eenvoudig in die formaat van ʼn novelle, outobiografies van aard en besonder persoonlik (met swart-en-wit foto’tjies).
Die huilboek van die titel verwys na ʼn plan waarmee sy ma vorendag gekom het omdat hy as kind dikwels gehuil het. In dié boek moes hy ʼn merkie maak elke keer as hy huil. Dit sou hopelik sy aandag kon aflei en die tranedal beëindig. Met dié gegewe as struktuur maak Hattingh merkies oor sy jeug, sy jare in sy geboorteland en sy twee dekades in die buiteland.
Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-huilboek-deur-ryk-hattingh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/weet-jy-wie-ryk-hattingh/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html
4. Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans, in Afrikaans vertaal deur Daniël Hugo, Protea, 2016.
Die Nederlandse skrywer Stefan Hertmans het in 2013 ʼn roman geskoei op sy oupa se notaboeke oor die Eerste Wêreldoorlog gepubliseer. Die boek is in Engels vertaal en in die VSA uitgegee en het The New York Times se lys van vyf beste romans van 2016 gehaal.
Urbain Martien was nie net ʼn oorlogsheld nie, maar ook skilder, soos sy pa voor hom, en het sy twee aantekeningboeke kort voor sy dood sowat dertig jaar gelede aan Hertmans toevertrou. Hertmans het die dokumente bewaar, maar was nie presies seker wat om daarmee te doen nie. Eindelik het hy ʼn roman daarvan gemaak, met die middelste deel van die boek (soos in ʼn triptiek), ʼn eerstepersoonsvertelling deur sy oupa.
Benewens oorlog en terpentyn (en verf) is Vlaandere van weleer sowel as die huidige landskap van die temas in dié roman.
Lees meer:
http://www.litnet.co.za/oorlog-en-terpentyn-deur-stefan-hertmans/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/nyt-eer-aan-nederlandse-boek-ook-voordelig-vir-ons-20170114
Luister:
Johan Myburg gesels met Stefan Hertmans in RSG se Skrywers en Boeke oor Oorlog en Terpentyn (08/03/2017). http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
5. 1795 deur Dan Sleigh, Tafelberg, 2016.
Deurwinterde skrywer en historikus wat Dan Sleigh is, met onder meer Eilande (2001), Afstande (2010) en Wals met Mathilda (2011) uit sy pen, boei die skrywer die leser met meer as historiese inligting – hy bied geskiedenis só aan dat die gegewe nie bloot afstandelik verstaan word nie, maar naby ervaar word, veral deur herkenning. Dis juis sy kennis en insig wat aan die skryfwerk die gesag verleen wat die leser deurgaans “veilig” laat voel binne ʼn geskiedenis wat dalk nie so wyd bekend is nie. Woordkunstenaar wat Sleigh is – sy digbundel, Duif oor water, het in 1971 verskyn – werk hy met ʼn woordgevoeligheid wat ewe meesleurend én verruimend is.
Dit is die verhaal van William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn, seun van baron Van Reede van Oudtshoorn tot Nederhorst wat aangewys is as goewerneur van die Kaap, maar tydens die bootreis gesterf het en in die Kaap begrawe is.
In die winter van 1795 is die Kaap steeds in Nederlandse besit, maar die Engelse lê reeds voor anker in Simonsbaai…
Lees meer:
http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-1795-deur-dan-sleigh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/dan-sleigh-kry-iets-reg-wat-min-kan/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/09/n-nota-by-dan-sleigh-se-roman-1795.html
http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/
Luister:
Dan Sleigh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (31/08/2016) oor 1795 http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
Meer oor Johan Myburg:
http://www.litnet.co.za/johan-myburg-1957/https://af.wikipedia.org/wiki/Johan_Myburg