Die verskuiwing en groei in die opvattinge oor Afrikaans hou diep verband met ’n beter begrip van die herkoms van die taal. Die boustene van Afrikaans was dus die onderwerp tydens vanjaar se paneelbespreking by die taalmaandvieringe in die Paarl. Die geleentheid is deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) moontlik gemaak.

Praat… skryf… spel JOU Afrikaans… “Standaardafrikaans is vriendelik en behoort aan elkeen wat die taal praat. Standaardafrikaans is nie ’n dialek nie… dis ’n ding wat gemaak word deur sy sprekers. Dit is ’n vriendelike kommissie wat Standaardafrikaans maak. Hulle kan hom maak soos sy sprekers wil hê dit moet lyk… maar ons moet die ding doen. Ons moet hulle rede gee om dit anders te maak.”
– Prof. Christo van Rensburg.
Begin by Afrikaans se taalgeskiedenis…
Die murg van Afrikaans is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy. Die taalskatte wat ons koester, vind oorsprong in hierdie ryk en diverse geskiedenis en deur hierdie geskiedenis te ontsluit, wil rolspelers nuwe deelname en meelewing verseker. Die dikwels gemarginaliseerde en verwaarloosde Afrikaanse dialekvorme en die vooruitsig op die opname daarvan in die uitstalvensters van die taal is van die grootste belang.
Die oorsprong van Afrikaans
Afrikaans is ’n familie van dialekte. Die Afrikaanse spreektaal lyk anders as Standaardafrikaans (wat ons ken as die Afrikaanse skryftaal). Afrikaanse flaaitaal, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans lyk byvoorbeeld heel anders. Soos ons Afrikaans se voetspoor volg, moet ons sover moontlik rekening hou met die tekens van al sy verskillende dialekte/variante. Klik vir die Afrikaans.com Oorsprong van Afrikaans – ‘n tydlyn.
Koester ons taalskat


Die paneel het bestaan uit prof. Christo van Rensburg, taalkundige en skrywer van So kry ons Afrikaans. Hy het gesels oor Khoi-Afrikaans en die kontaktaal wat na regte reeds sedert 1595 aan die Kaap ontwikkel het. Die Khoi-Khoin het meer as ‘n eeu voordat Afrikaans vir die eerste keer neergeskryf is die fondament gelê vir wat later as Afrikaans sou ontwikkel. Van die vroegste Afrikaans wat gepraat is, was deur die slawegemeenskap aan die Kaap en dit is beȉnvloed deur hul moedertale.
Oor variant en dialek …
“Met die standaardisering van Afrikaans is besluit om die vereenvoudigde Nederlandse spelling te volg om Afrikaans te skryf, alhoewel Nederlands bykans nie in Suid-Afrika gepraat is nie. Die binnelandse vorme van Afrikaans wat deur ʼn verskeidenheid sprekers gebruik is, is nie as Standaardafrikaans erken nie. Verafrikaansing van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls het voortdurend plaasgevind, en in die AWS 11 van 2017 is daar vir die eerste keer, na 100 jaar, ʼn beginselbesluit geneem dat alle variëteite van Afrikaans toegang tot die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls kan kry.”
– Prof. Christo van Rensburg.
Prof. Van Rensburg se droom vir ’n ‘Vrye Afrikaans’
Hy omskryf die term so…
- Dat elkeen van Afrikaans se mooi dialekte ’n gekoesterde plek in die Afrikaanse taalwêreld (sal) geniet.
- Dat hierdie Afrikaans, wat sedert 1994 vrygelaat is en vir homself moet sorg, sy vryheid moet geniet en as vanselfsprekend as ‘Vrye Afrikaans’ bekend sal staan.
- ‘Vrye Afrikaans’ het geen grense nie en is die mees getransformeerde taal in Suid-Afrika.
- ‘Vrye Afrikaans’ speel nie ’n partypolitieke spel nie. Die omhang van politieke etikette sal nooit, nooit, nooit weer moontlik wees nie.
- Afrikaanssprekers is net aan mekaar taalskatpligtig.
- Die ‘Vrye Afrikaans’ waaroor ek droom, is ’n Afrikaans sonder ’n groot gebaar. Uit hierdie Afrikaanse aarde en soos hierdie Afrikaanse aarde.
- ‘Vrye Afrikaans’ werk nie met onnodige omhaal nie en het nie kunsmatige, blink maselwoorde nie. ‘Vrye Afrikaans’ werk met gewone, opwindende Afrikaanse woorde. ‘Vrye Afrikaans’ is skoon Afrikaans. Hoë woorde gooi hy uit. En elkeen kan self nog steeds nuwe Afrikaanse woorde maak.
- Ek droom ook van ’n ‘Vrye Afrikaans’ met baie trots. Alles wat sy sprekers wil doen, kan hulle in ‘Vrye Afrikaans’ doen.
- En daar is nagenoeg 7 miljoen Afrikaanssprekers wat ’n span met die naam ‘Vrye Afrikaans’ vorm – die derde grootste taal in Suid-Afrika. Of almal deel van hierdie span wil wees, moet elkeen self besluit. ’n Wenspan bou egter op sy sterkpunte en stygende getalle is een hiervan.
Arabiese Afrikaans

Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council, het gesels oor die vroegste godsdienstige geskrifte in Afrikaans – van die vroegste vorme van geskrewe Afrikaans. Aangesien die meeste van hierdie sprekers die Islamitiese geloof aangehang het, is hul Afrikaans sterk deur Arabies en die Moesliemkultuur ingekleur. Slawekinders het hul geloof in die Kaapse omgangstaal aangeleer en het dit neergeskryf, maar met Arabiese letters. Spesiale simbole is ontwikkel om die klank van die taal foneties te kon skryf.

Hierdie uittreksel van die voorblad van die “Afrikaanse Patriot” het een woord wat baie na aan my hart is;“baiang”. Die redakteur in 1875 gebruik hierdie woord wat in Standaardafrikaans “baie” geword het. My oorle ouma en ma en galiefa het dit nooit anners as “baiang” gebruik nie. Dit is vir my ’n personifisering van my eie taalgebruik en in my rol as prediker, gebruik ek dit steeds.”

Afrikaans in Arabies
Vote vir Mister Oulsoon
Hy gaat syn beste doen vir die
Koolooniyal syn weriks mese
Elke moslem in Kape land moet 4 votes vir Mister Olsen gee, oordat hy sy Kaapse werk los ten voordeel van Kapenaar.
Oranjerivierafrikaans


Anzil Kulsen skryf jeugboeke en kortverhale wat in die Noord-Kaap afspeel en gebruik Afrikaans eie aan die omgewing. Haar belangstelling is die kreatiewe skryfkuns en die rol wat dit speel in die bewaring van dialek. Sy is ’n projekorganiseerder by die ATKV en bevorder kreatiewe skryfkuns in haar streek. “Deur middel van my skryfwerk probeer ek ’n stem bied aan gemeenskappe wat op verskeie wyses gemarginaliseer is. Die optekening van stories en unieke woorde wat in die verlede gebruik is, die invloed van Nama op ons taalgebruik en selfs nuutskeppings as gevolg van invloede van ander tale in my omgewing is vir my belangrik.” Sy vra:
- Kry die subvariëteite van hierdie variëteit van Afrikaans genoeg blootstelling en erkenning?
- Hoe kan sprekers opgelei en aangemoedig word om hul stories/erfenis/kultuurgoed in hul unieke dialek en sosiolek op te skryf?
- Word taal- en kultuurtrots gestrem deurdat opvoeders in skole leerders ontmoedig en selfs kritiseer as hulle hul eie dialek gebruik?
- Nuutskeppings behoort konsekwent dieselfde in tekste gespel te word totdat dit in woordeboeke opgeneem word.
Kaaps…
Donique Cloete, ’n honneursstudent by die Universiteit van Wes-Kaapland is ’n boorling van die Noord-Kaap en haar belangstellingsveld is Kaapse Afrikaans. “Kaaps is ’n waardige, talige genuanseerde en lewenskragtige manifestasievorm van Afrikaans. Dit is een van die oudste variëteite van Afrikaans. Kaaps word voorgehou as ’n variëteit van die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans, wat as ’n vorm van Omgangsafrikaans histories teruggryp na die sewentiende-eeuse invloed van slawe op die vorming van Afrikaans en wat tans grootliks manifesteer as ’n sosiolek wat met die werkersklas van die Kaapse Skiereiland geassosieer word.”
“Kaaps is ‘diep en straight met curves”… Wat Kaaps so eie aan dié streek maak, is bv. die gebruik van ge- saam met Engelse woorde bv. ge-cheat, ge-strike en die eiesoortige gebruik van woorde om na dinge/mense te verwys: gangsters vir bendes; jintoe vir prostituut; goose vir meisievriend.
Donique sê Standaard- en Omgangsafrikaans is organies met mekaar vervleg. “Baie oningeligtes verkeer onder die wanindruk dat Standaardafrikaans hoër aansien geniet as ’n variëteit soos bv. Kaapse Afrikaans. En hiermee assosieer ek my nie! Afrikaans ís nie vir my Afrikaans as ál die variëteite nie genoeg erkenning kry nie. Vir baie oningeligtes is Standaardafrikaans die “regte” Afrikaans en staan Omgangsafrikaans… Kaapse Afrikaans, in die skaduwee van hierdie “regte” Afrikaans. Maar eintlik is Standaardafrikaans daardie Kaapse Afrikaans, daardie Omgangsafrikaans wat gestandaardiseer is…”
My Afrikaans lyk so…
“Ek het nog nooit meer energie in en om en oor die taal beleef nie. Almal skep. Almal integreer. Daar is moeilike vrae. Daar is verfrissende antwoorde. Almal ondersoek beter en wyer en dieper…”
– Gielie Hoffmann (Ambassadeur vir Afrikaans).
Drie perspektiewe – ’n gedeelde liefde vir Afrikaans.
Hendrik Theys, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en trusteelid van die SBA (Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans), Kaptein John Cornelius Witbooi, Namastamhoof, oudonderwyser en vurige voorstander van die bemagtiging van kinders deur taal asook Kaptein Francisco McKenzie (Autshumao of Kaptein Mackie) van die Wes-Kaapse Khoisan-wetgewende raad gesels oor hul Afrikaans.
Taalmaandvieringe – Toringkerkgemeentesaal Paarl
Fatima Allie (Ambassadeur vir Afrikaans), nuutverkose ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en Astrid de Vos (Dagbreek Trust). Namastamhoof – John Cornelius Witbooi Willa Boezak (DAK) en Danny Titus (ATKV) – Foto: LitNET. Michael Jonas, direkteur van die ATM en Willem Botha, uitvoerende redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Foto: LitNET. Conrad Steenkamp (Afrikaanse Taalraad), Fatima Allie (SBA en Afrikaanse Taalraad) saam met Japie Gouws (voorheen van die ATKV). André Boesak.
Vir nog foto’s klik hier.